Petra Nortjé

Petra is a special lady and I hope that her story will inspire you to say "if she can - I can also".

She lives an example and knows what it means to live in the paradox of life.

She tells her story in her own words (in Afrikaans)

Ek is in 1951 as enigste kind in Johannesburg gebore en op die jong ouderdom van 19 getroud. In 'n oogwink het 40 jaar verbygevlieg en twee seuns en 'n dogter is uit die huwelik gebore.
Die kinders is voormalige leerlinge van Laerskool Randfontein en graduandi van Tukkies.

My man Johan kry in 1992 'n massiewe hartaanval in die vroeë oggend ure, en twee dokters red hom. Na 'n toer van drie hospitale kry hy 'n stent-inplanting by Unitas.
Vir jare gaan dit goed maar na 'n motorongeluk in 2000 ondergaan hy 'n rugoperasie en word met Multiple Myeloma gediagnoseer. Na bestraling en baie chemo oor elf jaar begin hy in April 2011 ernstig bloei.
Ek sit vir 3 weke by hom in die Wilgeheuwel hospitaal en na 'n paar dae by die huis moes ek hom weer deurjaag na die Flora Trauma afdeling , weer met erge bloeding omdat al sy organe besig was om in te gee.
UIteindelik het hy die stryd gewonne gegee en is hy 22 Mei 2011 oorlede.

'n Verlammende vrees het my beetgepak - vir die eerste keer in 40 jaar is ek sonder 'n maat - hy is/was my finansiële bestuurder - hoe gaan ek alles alleen behartig.
God het 'n kalmte oor my laat kom wat ek nie kon beskryf nie....

Wanneer het ek die knop in my bors gevoel? Ek kan nie onthou nie, ek dink dit was voor Johan siek geword het. Ek het al voorheen 'n knop gehad wat onskadelik was, en my jaarlikse ondersoek het ek nooit verwaarloos nie.
Johan het my nog aangemoedig dat ek daarna moet laat kyk. Ek, nogal 'n vrywillige werker van Cansa, wat vir almal preek dat as jy 'n knop voel is vroeë diagnosering beter en daar is 'n goeie kans op herstel,
maar wat maak ek, ek stel uit..

'n Moeilike tyd gaan verby en my jaarlikse ondersoek kom al hoe nader en ja ek is bekommerd, maar behalwe vir die groot knop, is die ander tekens nie daar nie, en borskanker is pynloos.
Tog kry ek steekpyne in my linkerbors en dit is baie seer en die knop is baie duidelik voelbaar. Tog sê die dokter in Augustus 2011 dat hy nie bekommerd is nie, en dat ek in 2012 vir 'n sonar en 'n mammogram kan gaan.

Ek besluit dat ek aan die einde van Oktober 2011, die borskankermaand, vir toetse sal gaan, aangesien die knop nie verdwyn nie. Ek kon sien dat die radioloog weet wat die uitslag is, al voor die biopsie gedoen is.
Die verdoemende woorde, die verskriklike vonnis ..... "Jy moet onmiddellik 'n spesialis besoek"
.
Ek besluit toe sommer dat ek nie net die knop gaan verwyder nie, maar die hele bors. Elf kliere waarvan drie kankerselle het, word verwyder en ek moet chemo kry. Eers word scans gedoen om te sien of die kwaad nie versprei het nie. Die vrees is onbeskryflik, maar ek ervaar hoe die Here my daardeur dra.... ek moet sterk wees. Dankie tog, dit is alles skoon.

Ek begin met die chemo en die newe effekte is erg en ek wil ophou met die chemo, maar my kinders skop daarteen, want agt sessies is nie so duur nie, ek moet deurdruk, sê hulle.

Daar is baie ondersteuning ook van vriende, maar as jy gaan slaap, is jy alleen met al jou vrese en gedagtes, want ek bly alleen, en my geliefde Duitse Herdershond is twee weke na Johan se dood ook dood....

My ouers en broers en susters leef ook nie meer nie .... maar ek stap die pad met my God as anker.

Vier sessies is verby, nog vier en bestraling lê voor, en dit is nie maklik nie.....

WAAROM EK - WAAROM NIE EK NIE ! !

"Skryf die drome van jou lewe en jou daaglikse omstandighede in potlood want alles hier is tydelik en gaan verby
Maar skryf die genade en liefde van die Here in pen want dit is vir ewig..."

Petra