Lorraine Jacobs

I was honoured to give recognition to a Lady who is such an overcomer with such joy and faith - that it is uplifting to read her story.

She displays such childlike faith that there's no room for doubt and that is why I believe she received what she believed for - it was according to her faith.

Thanks Lorraine for being such an inspiration te me!

Read her story - in her own words (Afrikaans):

My naam is Lorraine Gray Jacobs, en toe ek op 20 Augustus 1953 op Pietersburg gebore is, was my van Woodward.
Ek is van die baie bevoorregte mense wat baie gelukkige kinderdae gehad het. Ons was nooit welgesteld nie, maar ek het myself en my boetie as van die gelukkigste kinders beskou, omdat ons die wonderlikste ouers gehad het.
My ou pappa het baie siek geword, en is tien jaar later, op 15 Januarie 1976 aan die hart toestand oorlede. Alhoewel ons dit verwag het, was dit nietemin ‘n baie groot skok.

Nou was dit my moedertjie, boetie en ek.,en die kosbare man wat die Here, toe nog in ons ongeredde dae, vir my uitgesoek het. Op 14 Augustus 1976, my pappa se verjaardag, is ek met Jakes Jacobs van Potgietersrus getroud.
Ons is Pretoria toe verplaas en het na 4 jaar swanger geraak. Op 4 maande verloor ek die baba. Dit was ‘n groot skok vir ons, maar het ontrent dadelik weer swanger geraak.

September 1980 het ek my hart vir die Here gegee, en Hom met my hele hart gedien
In die tyd is ons Hoedspruit toe verplaas en op 10 Mei 1981 (toevallig was dit Moedersdag) is ons seun gebore. Wat ‘n vreugde. Hy was nooit siek nie, nie eers wanneer hy tande gekry het nie. Hy was ‘n geskenk uit die Vader se hart. Elke ma glo seker maar dat hul kinders die wonderlikste is, maar tot vandag toe, en hy was nou 29 jaar oud, is hy alles wat ‘n ouer kan begeer. Hy dien die Here en is getroud met die kosbaarste vroutjie wat die Here net so lief het.
Gedurende 1984 het my man, Jakes ook kragtig tot bekering gekom. Die Here het hom so begin gebruik dat ek verstom gestaan het oor dit wat die Here in sy lewe gedoen het.

My gesondheid was ook altyd van die beste. Ek was nooit siek nie, en het geen kwale gehad nie. My grootste probleem was menstruasie. Ek was 10 jaar oud toe ek begin het, en van dag een af het ek daarmee gesukkel.

Een aand in November 2008 het ek gestort voordat ons na ‘n funksie moes gaan. Skielik het ek ‘n knop in my regter bors gevoel. Ek was nie bekommerd nie, want ek het al voorheen verstopte melkbuisies gehad wat verwyder is. Ek het egter besluit om die Maandag die dokter te gaan sien. Ek het vir kaptein Carika van Vuuren by die siekeboeg gesien en sy het my dadelik verwys vir ‘n mammogram. Daar was egter mense wat dit probeer keer het, maar die volgende Maandag was dokter Lara Snelsen terug en het dadelik gereël dat ek die mammogram laat doen. Die uitslag was dat dit moontlik boskanker kan wees.

Ek is toe 1 Militere hospitaal toe gestuur om daar ‘n chirurg te gaan sien. Sy het toe besluit dat ek eers ‘n biopsie moes laat doen. Daar was toe ‘n wagtyd voor ek ‘n afspraak kon kry tot 20 Januarie 2009. Al die tyd het die Here vir my die grootste kalmte en vrede gegee. Ek het nooit eers bekommerd gevoel nie. Ek was nooit bang nie.
So breek die dag van 20 Januarie 2009 aan en na die biopsie het die dokter vir my gesê dat hy positief seker is dat dit borskanker is. Weereens het die grootste vrede en rustigheid oor my gekom, en ek het geweet die Here is by my en ek het sy teenwoordigheid ervaar.

Op 26 Januarie 2009 na die uitslag van die biopsie het ek die chirurg weer gesien en sy het vir my gesê dat kanker op ‘n plek sit waar hulle nie net die knop kan verwyder nie, maar ‘n mastektomie moes doen. Weereens kon ek hierdie skokkende nuus met die grootste kalmte en vrede aanhoor. Ek het geen opstand ervaar nie, maar net daardie groot vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Ek is op 10 Februarie 2009 in die hospitaal opgeneem en die 11 de Februarie is die mastektomie gedoen. Daar was sprake dat hulle moontlik die linker bors ook sou moes afsit, en ek het vir die chirurg gesê dat ek Glo dit sou nie nodig wees nie. Sy was redelik skepties, maar later het sy vir my gesê: "You are a very strong believer." Prys die Here, ek is, want ek WEET in wie se hand ek is en in Wie ek my hoop en vertroue stel.

Na die operasie het ek omtrent geen pyn en ongemak gehad nie. Die verpleegpersoneel kon dit nie verstaan nie, maar prys die Here ek het geweet waaroor dit gaan, want die Here het vir my soveel Skrif gegee. Hy het vir my gesê : "I AM the Lord who heals you". Hoe kon ek twyfel. Hy het vir my gesê: ek moenie bang wees en vrees nie, want Hy is met my. Hy gaan saam met my, Hy trek voor my uit, Hy bewaar en beskerm my. Ek het mos geweet dat Hy my gekies het om die pad te loop, omdat Hy ‘n plan met my lewe het. Wat is ek beter as enige ander vrou wat hierdie pad moes loop. Ek het nooit gevra waarom ek nie. Ek het gese Waarom nie ek nie.

Die Here het my gebruik in die hospitaal om die personeel te versterk, om ‘n getuie vir Hom te wees, saam met mense te bid wat dit nodig gehad het. Die welsynswerkster wat my besoek het, het my probeer voorberei om dae van opstand en selfbejammering. Ek gee my Koning al die eer dat dit nou meer as ‘n jaar gelede was en ek het nog nie een traan gestort nie en ook nooit in opstand gekom nie.

Na my ontslag het ek aangesterk vir 3 maande en toe chemoterapie ontvang. Gelukkig het hulle al die kanker verwyder, en was daar geen verdere uitsaaiings nie, en dit het ook nie versprei nie, dus was die chemo net voorkomend. Daar was egter die moontlikheid dat ek my hare kon verloor, ens. Ek het gewoonlik nie te lekker gevoel na die chemo nie, maar ook daardeur het die Here my gedra. Ek het nie een haar verloor nie, want die Here het ook vir my gese dat al die hare van my hoof getel is, en dat nie een sal val waarvan Hy nie weet nie.

Ek loof en prys Hom vir Sy groot en wonderlike genade. Sy groot liefde en Sy Woord wat altyd vas bly staan. Dit is onveranderlik, en Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord.

Ek is blakend gesond, dit gaan met my goed. Ek het ‘n wonderlike man, lieflike kinders en ‘n dierbare moedertjie, kosbare vriende en mense wat waarlik vir my bid en omgee. My kerk, pastoor en sy vrou en my boeties en sussies daar het my ook sterk gemaak. Daar is van die wonderlikste mediese personeel by die siekeboeg en in die besonder dokter Lara, susters Carika, Dawn, June wat ‘n baie naby pad met my geloop het. Al hierdie mense is Engele wat Jesus op my pad gestuur het om sy hande te wees. Die mense op die basis het my ondersteun en vir my gebid.

Ek is dankbaar vir wat met my gebeur het. Ek sou dit vir niks in die lewe wou mis nie. Dit is genoeg vir my om te weet dat die Here my dra en vir my die krag en genade gee. Dat ek meer as ‘n oorwinnaar is, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan, is my deel.

Loof Sy Naam. Al die Lof, al die Eer, al die Heerlikheid behoort aan Hom.