Erkenning

Huldeblyk - Linda Doyer

Linda Doyer het die stryd teen kanker voltooi deurdat sy moedig gestry het sedert 1998.

Sy is Maandag die 14de Desember na haar ewige woning waar sy by haar Hemelse Vader rus kan vind. Sy laat vier kinders en 'n eggenote agter vir wie dit baie moeilik gaan wees want haar ongelooflike menswees sal 'n groot gemis wees vir elkeen.

Dit was vir my 'n ongelooflike voorreg om haar storie te kon deel, onder die vroue wie ek erkenning kon gee op my webwerf. Sy het nie alleen die lewe oorkom nie maar haar lewe was gevul met soveel kosbare woorde van wysheid.

Marinda Klaver

Marinda baie dankie vir jou storie wat jy gestuur het.

Ek glo dat dit sal vir vroue net laat besef dat ons kan wanneer ons dink ons kan nie, want ons intuïsie lei ons as ons vertrou. Dit was 'n voorreg om jou te ontmoet die aand in Baberton - en jou opregtheid te beleef.

Elkeeen van ons het ons eie waarheid, maar die "waarheid" maak vry en wat ek uit jou storie haal, is dat ons nie betekenisvolle interafhanklike verhoudings kan beleef as ons nog nie geleer het om onafhanklik te wees nie - dankie daarvoor.

Marita Momberg - 'n Huldeblyk

Marita Momberg & Sonja Herholdt

Hierdie besondere dame vir wie ek die voorreg gehad het om in Potchefstroom op die 29ste Julie erkenning te kon gee, het geleer om in die paradoks te leef.

Om vir die moment te leef - en om te glo en te hoop en te vertrou dat sy nog 'n dag gegun sal word om die lewe en die mense om haar te waardeer en te geniet.

Sy is 'n besondere vrou en haar menswees spreek tot jou as jy haar raak kyk.

Ek ontvang toe gister 'n oproep van haar dogter Melodi wat my laat weet het dat sy die 18de November om 22h00 oorlede is in die hospitaal terwyl sy toetse gedoen het om te kyk of sy geskik is vir 'n hartoorplanting. Sy het saggie en vinnig haar laaste asem uitgeblaas.

Sandi Bennett

Sandi Bennett & Sonja Herholdt

Ek het aan 'n baie besondere vrou in Hermanus erkenning gegee. Ek glo dat sy so geliefd is omdat sy so onvoorwaardelik kan gee in haar lewe.

Sy het self haar storie vir my geskryf en ek het maar net weer besef "what matters in life is not that life knocks you down - but that when life has knocked you down, and it is so hard to get up - you get up. That is what matters..."

Cynthia Terblanche

Op die eerste September het ek 'n funksie  in Polokwane aangebied en erkenning gegee aan 'n besondere vrou.

Toe ek haar ontmoet het ek 'n sterkte raakgesien wat julle sal lees in haar storie wat sy self geskryf het.

Hoe sy haar omstandighede hanteer het en nog steeds hanteer, wat uiters moeilik was, is net so 'n inspirasie.

Dankie Cynthia vir jou voorbeeld - dit is werklik 'n voorreg om jou te kon ontmoet.

Barbara Oberholzer

Ek het erkenning gegee aan 'n baie besondere vrou met die Vrystaat Vroue landbou Unie se kongres waar ek opgetree het in Bloemfontein.

As julle haar storie lees wat sy self geskryf het, sal julle sien hoekom.

Sy is net iemand wat nie toelaat dat die lewe haar onderkry nie - en ek kan glo dat dit vir jou ook iets sal beteken as jy haar storie lees.

Johanna van Daalen

Hierdie klein vroutjie met soveel durf en selfvertroue het die aand ons funksie op Orkney geopen.

Sy het nie geweet dat ek vir haar erkenning gaan gee vir die besondere voorbeeld wat sy leef nie en sy het dit net so stil en sag en sonder fanfare ontvang - en sy het my belowe dat sy haar storie vir my sal stuur......

Ek deel dit met julle uit haar eie mond. Julle sal hoor hoe 'n besondere vrou sy is.

Liesbet Machts

Dit was 'n bitter koue nat reënerige aand in Junie met die sneeu wat lê op die berge rondom Rawsonville in die Kaap, toe ek die fenominale vrou in haar rolstoel ontmoet het.

Met haar glinsterblou oë vol trane het sy geglimlag toe ek vir haar die sertifikaat oorhandig. .

Marie de Beer

Ek het die eer en die voorreg gehad om erkenning te kon gee aan die besondere dame wat self haar storie gaan deel.

Sy straal soveel positiwiteit, verstaan, omgee en deernis uit as mens haar ontmoet - dalk is dit die pad wat sy moes stap.

Marie dankie dat jy my - ons - so inspireer met jou menswees.

Petro Spies

Ek het vir Petro erkenning gegee omdat sy een van daardie vroue is wat maar net altyd die hoop raaksien en daarmee hardloop.

Tien jaar gelede was sy nog blakend gesond, en die volgende dag kon sy skaars loop, haarself bad of aantrek. Die diagnose was - neukardites.

Na hospitalisasie en drie maande se tuisbehandeling kon sy weer gaan werk, maar die moegheid het die oorhand gekry en sy het bedank en het vir twee jaar by die huis aangesterk.