Sonja du Toit

Soms ontmoet jy mense wat so 'n indruk op jou maak dat dit net bly vassteek omdat daar net iets omtrent hulle is,
ja 'n dinamika, maar iets wat skyn in hulle oë, en wat lig bring aan 'n donker wêreld wat soveel hoop nodig het!

Nou ja - dit is Sonja - 'n dinamiese besondere vrou met die lig in haar oë van 'n Gees wat gee en omgee en voed en haar passie uitleef!

Dit was vir my 'n wonderlike voorreg en inspirasie om vir haar erkenning te kon gee op Worcester!

Hier volg haar storie wat sy vertel:

MY VERHAAL
As vroeggebore baba en serebraal verlam, is ek op twee-jarige ouderdom na ‘n skool in die Kaap waar ek ook in die koshuis moes bly.

My fisiese gestremdheid het veroorsaak dat ek baie operasies moes ondergaan en dis hier in die hospitaal wat ek bewus geraak het van die nood van mense rondom my en van Jesus wat by my op die bed kom sit het, veral as ek bang was, en dat Hy met my kom praat het, my hand vasgehou het en my gehelp het.

Skool was vir my baie moeilik en ek het baie huistoe verlang, maar wat my laat aanhou hoop het was dat ek eendag as ek klaar is met skool dit gaan doen wat ek graag wil doen! Op laerskool het ek letterlik begin droom van'n huis waar ek vroue en kinders versorg, en die droom het ek aanhou bly droom .....

Die prentjie het al hoeduideliker geword, en met die aanmoediging van verskeie rolmodelle het ek matriek geslaag en ‘n jaar kursus by YWAM voltooi en daarna maatskaplike werk gaan studeer. In hierdie tyd het ek weer die droom gekry maar gevoel dat dit maar net ‘n droom sal bly, omdat ek te moeilik loop, alhoewel ek diep in my hart geweet het dat daar ‘n rede was hoekom ek nie met geboorte gesterf het nie, en dat ek moes leef om die droom te verwesenlik!
Ek is die tweede oudste van 4 dogters en die enigste een wat ongetroud is.

Skool was maar vir my moeilik en ek het my van mense onttrek, nie maats gehad nie, en ook skaars my mond oopgemaak om iets te sê. Vandag kan ek regtig vir die Here dankie sê vir ‘n veggees en die vermoeë om aan te hou, wat beslis van Hom af kom. Ek het in die laerskool tot bekering gekom en heelwat later my Ma en toe my Pa ook.
In Mei 2002 sterf my pa na ‘n operasie en sonder dat ek ooit met hom my droom gedeel het bemaak hy een van sy huise aan my sodat ek ‘n plek het om in te woon.

Dit is in hierdie huis wat "Worcester House of Hope" gestalte gekry het, en nou reeds sewe jaar bestaan!
Veral na my Pa se dood en met die "geboorte" van Worcester House of Hope, het daar baie gebeur om my te vorm in die mens wat ek vandag is. Daar was vele rolmodelle in my lewe en dit is onmoontlik om almal te noem, tog wil ek ‘n paar uitsonder.

* My ouers, wie my met baie liefde en toewyding versorg en ondersteun het. Hulle het geen moeite ontsien om vir my altyd die beste hulp te gee nie. Baie opgeoffer om gereeld vanaf hul plaas by Worcester tot in die Kaap te ry om my te sien.

*Tannie Theron,vir al haar liefde in my vormingsjare, en wie n liefde by my gekweek het vir Jesus en die Bybel

*Annie Bragga, ‘n Joodse vrou, wie op ‘n dag, toe ek seker 14 of 15 was, vir my gesê het: "Sonja, I know you can do it....You will be a excellent Social Worker." Dit het my moed gegee om my droom te volg en het die deur oopgemaak na ‘n nuwe pad van "ek kan" en ‘n vasberadenheid om nie op te gee nie.

*Gelinda Nelson, ‘n vrou wat baie van die lewe se seerkry situasies beleef het, maar vandag steeds ander bemoedig en aanmoedig en ‘n baie groot ondersteuningsrol in my lewe het.

*Erena van de Venter, ‘n standvastige Godvresende vrou, wie ek al vir baie jare sien as my rolmodel en iemand wat nooit ophou om die ekstra myl te loop of te bid nie!

*Hercules Opperman,wie geestelik "Vaderskap" vir my en Worcester House of Hope aanvaar het, van die dag dat ons ontmoet het en nog steeds. Hy het my aangemoedig, gebid,geluister en werklik my laste help dra.

*Die personeel by Worcester House of Hope, hulle is uitsonderlik en ek kan nie vir die Here genoeg dankie sê vir hulle omgee en liefde en ondersteuning nie.

*Al die vroue wie al sedert 13 Julie 2003 in die Huis gewoon en ook elkeen op ‘n besondere manier bygedra het tot wie ek vandag is.

* En die heel belangrikste - My Hemelse Vader in wie se hart ek wegkruip!

‘n Bietjie van die Worcester House of Hope storie:

Ons het 13 Julie 2003 die eerste gesin, Mamma met drie kinders, opgeneem. Ek het vandag nog kontak en dit gaan goed. Die een dogtertjie, wat toe 5 was en vir my gesê het sy wil eendag ‘n "Dopter" word, het nog steeds die droom om medies te gaan studeer. Sy is nou in graad 8 en vra elke Junie en Desember, wanneer hulle eksamen moet skryf, om by ons te kom bly, want hier is dit rustiger en stiller as in hulle woonbuurt.

Die eerste 4 jaar wat ek as die Bestuurder gewerk het, was baie moeilik en ek was regtig onkundig, want daar was nie nog ‘n soortgelyke plek om by kers op te steek nie, skielik was ek net totaal en al op en leeg! My koppie wat moes oorloop, was leeg!!! Ek onthou hoe die Here een oggend in die stort vir my gevra het om te vas - van mense - en hoe moeilik dit was om vir ses maande af te sien van mense se behoeftes en by Hom te sit. Ek het waardevolle lesse geleer in hierdie tyd, maar ook dat ‘n mens mense om jou nodig het om by jou te kom sit,sodat jy kan praat. Of jou sommer net te nooi vir koffie en dit REGTIG TE DOEN.(Ons het mos soms die gewoonte om vir mense te sê ons kom koffie drink of kom kuier, maar dit bly by praat...)

Na die rusperiode, met ‘n seker wete dat die Here wil hê dat ek met die werk moet voortgaan, het ek met meer wysheid die taak hervat en moes ek drastiese besluite oor vrywilligers asook die Bestuur van Worcester House of Hope neem. Mense se hartsgesindheid was vir God belangriker as mense se vermoëns!

FAMSA Boland Overberg was van die begin af ‘n groot hulp en het ons toe ook bygestaan om aansoek te doen vir befondsing, aangesien ek steeds alleen gewerk het, met slegs ‘n handjie vol vrywilligers,wie baie gewissel het, omdat ons nie kon betaal nie! Twee jaar later, steeds sonder personeel en geld, het ek regtig begin moedeloos word en toe ek aan die begin van 2009 weer vir die Here vra of ek maar die werk kan afsluit, het Hy gesê dat ek in die pylvak is en nog nie die wedloop gehardloop het tot by die wenstreep nie. My Pappa God weet, dat as daar een dryfveer in my is, dan is dit om klaar te maak waarmee ek begin, tot by die wenstreep!!!

(Ek onthou nou ook dat daar om en by hierdie tyd, ‘n program op TV was genaamd "The Contenders" wat gehandel het oor die lewens van boksers. Een aand het die Here regtig met my gepraat na aanleiding van wat die een afrigter vir sy bokser gesê het: Moenie luister na die toeskouers nie, en wees bedag op die raad wat ek jou gee. Fokus op die geveg en wees bewus van wat in die kryt aangaan. Fokus.....)
In Januarie 2010 het ek weer by Vader gaan seker maak ek doen nog Sy werk en dis binne sy wil. Toe ontvang ek net die woord "DIS JOU JUBELJAAR.."

Op 23 Junie 2010, op die Huis se sewende (7) verjaarsdag, kry ons ‘n brief van ‘n Borg om te bevestig dat hulle salarisse vir 3 personeel gaan borg. Dit was ‘n dag wat ek nie gou sal vergeet nie!!!

Tans werk hier ‘n Maatskaplike werker en twee Huishousters saam met my. Hulle is die beste ..... Saam vertrou ons die Here dat hulle bogskap verleng sal word na Oktober2011, wanneer die huidige borgskap verval,maar dis alles in ons Vader se hande en "Worcester House of Hope" is Sy plek.

Hy sal weet wat die beste is.