Desire du Toit

Hierdie "Pêrelvrou" is 'n besigheidsvrou met min vrye tyd tot haar beskikking, want wat haar hand vind om te doen - die doen sy.

Sy is 'n rolmodel en 'n inspirasie, nie net vir my nie maar vir almal wat met haar te doen kry.

As die lewe haar 'n uitklophou gee, staan sy maar net weer op, al is dit hoe moeilik!

Lees gerus haar verhaal.

Ek het in Carletonville grootgeword. Van jongs af het ek alles op 'n drafstappie gedoen. My ouers het 'n aptreek in die dorp gehad en ek het baie ure daar gewerk

Na my motorongeluk in 1995 het baie dinge verander. Ek is verlam a g v die beserings wat ek opgdoen het, en is afhanklik van my rolstoel om rond te beweeg,
en skielik moes ek in ander se oë kyk om gewone takies te verrig wat vir my 'n enorme uitdaging geword het....
Omdat ons in 'n dubbelverdiepinghuis gewoon het moes my man my op en af in die rolstoel stoot..... Ek was genoodsaak om my situasie te aanvaar en my kop op te lig en die lewe vierkantig in die oë te kyk.

Ek moes besef dat gister verby is en niks wat toe gebeur het moes na vandag toe saamgesleep word nie. Elke nuwe dag is 'n gawe en het sy eie nuwe probleme wat ek as uitdagings moet sien.

Op die oomblik besit ek en my broer 'n granietverwerkingsfabriek en verg baie van my tyd omdat dit nog 'n jong besigheid is. Ek besef dat vir alles wat op jou pad kom is daar 'n oplossing, dit hang net van jouself af hoe jy daarna kyk.

My droom is om eendag 'n weeshuis te besit omdat ek lief is vir kinders. My ma se twee laatlammetjies het my genoodsaak om as oudste kind van vroeg af na babas om te sien, en ek dink dit is hier waar my liefde
vir kinders gekweek is, en die werk in die apteek, waar almal gehelp moet word, het die talent verskerp. Na my motorongeluk was dit nog meer van 'n uitdaging om te sien of ek nog met pleegkinders en afvlerk-mensies kon cope.
Dit was egter nie so moeilik nie en het net al hoe makliker geword vir my, en baie van die kinders wat by my in pleegsorg was is al in hulle twintigs, en doen goed in die lewe.

Omdat ek maar altyd die een was wat na my ouers omgesien het, en die familie wou bymekaarhou, was dit vir my baie moeilik na die afsterwe van beide my ouers, juis omdat hulle so 'n groot deel uitgemaak het van my ondersteuningsnetwerk.

Toe my jongste seun op die ouderdom van 10 maande doof geword het, het ons nie geskroom om Kaapstad toe te verhuis om hom daar 'n kogleêre inplanting te laat ontvang nie. Toe hy later daar die skole ontgroei het, het
ons weer teruggetrek Carletonville toe. Hier in Carletonville kon ons hom in 'n klein klassie laat skoolgaan waar hy meer indiwiduele aandag kan kry.

Om probleme en terugslae te oorkom, en deur te help, het ons gehelp om bo uit te kom.

Ja ek besef dit bly 'n uitdaging, en gister se pyn bly 'n keuse wat jy daarmee gaan doen, maar ek probeer altyd die nuwe dag met moed hoop en geloof tegemoetgaan.

Groete
Desiré