Christine Janse van Rensburg

Ek het erkenning gegee aan 'n vrou wat deur dik en dun by haar man gestaan het, en as jy haar storie lees sal jy net weer die ongelooflike deernis, deursettingsvermoë en liefde van 'n vrou raaklees.

Haar positiewe gees wat sy uitdra, toe ek haar die oggend ontmoet, het my opgeval. Maar dit bly 'n keuse.....

Christine I salute you!

Dankie dat jy jou hart oopgemaak het en met ons deel.....

Christine vertel haar storie:

Ek weet nie waar om my verhaal te begin nie, begin ek by my man se dood of begin ek baie jare terug.....

Ek het besluit om by die begin te begin. Ek en Renier het mekaar geken sedert my St 4 en sy St 6 jaar. ‘n Paar jaar later toe ons albei op hoërskool was, is ons ‘n "item". Die jare het aangestap en ons is getroud in 1990. Ons was soos enige getroude paartjie ons het ons op en af tye gehad. Ons eerste seun is in 1997 gebore na twee miskrame en vrugbaarheidsbehandelings. In hierdie tyd het my man besluit om vir sy pa te gaan werk by sy hidroliese maatskappy. Ons tweede seun is in 2002 gebore, ons gesin was nou volledig.

My man en sy ouer broer het intussentyd die hidroliese maatskappy oorgeneem. My man was die Finansiële Direkteur. Hy was voordurend onder geweldige druk, werknemers moet gelukkig gehou word, kliënte was knaend en veeleisend. Dit het begin met 1 of 2 drankies net om te ontspan. Maar om ‘n lang storie korter te maak.... My man kon nie die druk hanteer nie, hy het ‘n funksionerende alkholis geword.

Hoe kan ek my man help? Ek het begin nalees oor alkolisme, die groot hartseer was ek kon NIKS doen nie, voordat hy nie self besef daar is ‘n probleem nie was my hande afgekap. Sy gesondheid het begin agteruitgaan, alkohol, nikotien en stres het my man afgetakel. Ek het nagte saam met hom wakker gebly as hy sukkel om asem te kry, ander nagte het ek skoongemaak as daar "ongelukkies" was. Niemand het hiervan geweet nie, ek wou my man beskerm.

Ek het een aand groot geskrik toe ek die deur vir my man moes oopsluit - hy het voor my gestaan met bloed wat oor sy gesig stroom, hy kon geen verduideliking gee. Hy het flou geword en sy kop oopgeval teen die motorhuis se slot (dit het ek eers die volgende oggend besef).

Maart 2005 was ons oppad met vakansie, min wetende dat dit ons laaste sou wees.
By die indraai na ons vakansie bestemming het hy ‘n epileptiese aanval agter die stuur van die motor gehad. Deur God se genade het ons nie vinnig gery nie, en niemand het seergekry nie. Daar het ons saam ‘n besluit geneem, dat wanneer ons as gesin saamry, sal ek bestuur. Ek was elke dag bekommerd as hy werk toe ry, en my hart het elke keer geruk as ek vroeg-oggend sirenes sou hoor en weet hy is oppad werk toe.

Junie 2005 was die keerpunt. My man het besef hy het ‘n probleem en het besluit om te gaan vir rehabilitasie. Dit sou vir twee weke wees. Dit was ‘n paar dae voor my verjaardag. Ek het met die bestuur gereël om my verjaardag saam met hom te vier met ‘n piekniek in hul tuine. Ek het elke dag met hom gepraat. Hy was soms so deurmekaar dat sy gesprekke geen sin gemaak het nie. Ek het hom moed ingepraat en ernstig gebid. Vrydag oggend 24 Junie skakel hulle my vanaf die fasiliteit en sê dat dit nie goedgaan nie....... Vrydagaand ry ek en my swaer Hannes deur hom te gaan haal, en hy word opgeneem in die hospitaal. Saterdag oggend, my 37ste verjaardag - hy wens my geluk met die woorde"Wat het ek aangevang?....... Daarna het hy in ‘n koma gegaan.

Hy was vir drie weke in ICU. Ek was elke moontlike besoektyd daar. Tussendeur het ek my twee kinders onderskeidelik 8 jaar en 3 jaar versorg, beskerm, en probeer verduidelik dat hulle nie vir pappa in ICU kan gaan kuier nie. Ek was ook in hierdie tyd gekonfronteer deur vyandige skoonfamilie. Deur hierdie moeilike tyd was my ma en suster my steunpilare. Maak nie saak watter tyd van die nag ek tuis gekom nie, het my ma altyd reggestaan met warm milo (dit was winter). Sy was ook daar om my kinders te versorg en te verduidelik hoekom mamma so hartseer is en hoekom mamma so min by die huis is.

Woensdag 13 Julie 2005 was die aakligste dag van my lewe. Daar is vroeër die week die moontlikheid aan my genoem dat die masjiene afgeskakel moet word. Dank die Vader, voordat ek hierdie besluit moes neem, het die lewe stadig uit my man gesypel. Hy is twintig voor 4 oorlede.

Oornag het ek van ‘n huismamma en vrou verander in ‘n broodwinner en besluitnemer met twee jong seuns wat ‘n pa nodig het. Ek is gekonfronteer met begrafnisreëlings, testamente, besigheids transaksies en vyandige skoonfamilie.

Dit is nou ses jaar later en die hartseer is nog daar. Die gemis groter.
My kinders is nou ouer en het nou meer as ooit ‘n pa nodig.
Ek kon nie gaan lê, want ek het twee kinders wat liefde en nodig het. Deur baie gebede en baie genade van Bo het ek die stukkies begin optel.........

Ek dank God elke dag vir die genade wat ek steeds elke dag ontvang. Hy het vir my wonderlike man geleen vir amper 15 jaar.......

My en my kinders se toekoms is in Sy Hande....... Jer 29:11.