Cecelia Oosthuizen

Cecelia Oosthuizen & Sonja Herholdt

Ek voel baie keer so bitter klein as ek vroue ontmoet aan wie ek erkenning gee - en hulle menswees laat jou sonder woorde want hulle raak jou siel. So is dit met hierdie vrou wat die onregverdigheid en intense pyn van die lewe ervaar, maar dit vierkantig in die gesig staar omdat sy weet dat daar 'n Groter Mag in beheer is en wat haar lewe in Sy Hand hou - en daarmee saam 'n ewigheidsperspektief het wat haar staande hou.

Lees self wat sy skryf:

HOE EK 4 JAAR SE TRAUMA OORLEEF HET

In 2007 was my enigste kind Leonie, 7 jaar oud, gediagnoseer met ‘n baie aggressiewe beenkanker nl. Ewing's Sarcoma. Voordat sy gediagnoseer was, het ons van dokter na dokter gegaan om te probeer vasstel wat haar pyn veroorsaak. Sy het pyn beleef wat ons aan niemand kan beskryf nie. Ons was by 5 verskillende dokters in Potgietersrus en omgewing. Die een het gesê dat ek haar na ‘n sielkundige toe moet neem en ‘n ander het weer gesê dat sy klierkoors het. Volgens die laboratorium was daar geen teken van klier-koors op die verslag nie. Ek het net daar besluit om haar verslae te trek en ‘n afspraak in Gauteng gemaak, wat ek seker heel van die begin af moes gedoen het. Dit het vir my gevoel asof ek my kind se pyn saam met haar dra.

In Gauteng het die Pediater ‘n MRI skandering aangevra. Die skandering het aangedui dat sy kanker onderlede het. Sy is verwys na Pretoria Akademiese Hospitaal vir verdere toetse asook ‘n biopsie, omdat ons nie ‘n mediese fonds kon bekostig het nie.

Toe die dokter uit die teater kom, nadat die biopsie gedoen is, het ek hom in die gang raakgeloop en hy het vir my gesê dat my kind wel kanker het en dat hul moontlik haar been sal moet afsit om die kanker te keer. Ek het vir hom gesê daar's nie ‘n manier wat hul haar been gaan amputeer nie - daar sal wel ‘n ander oplossing wees. Dit het vir my gevoel of die aarde onder my padgee. Ek het die nuus aan my man oorgedra toe hy en Leonie uit die teater kom. Ons was altwee platgeslaan. Ek het geweet dat ek sou moes kophou en staande bly terwille van my pragtige dogtertjie en ook sodat my man kon aangaan en konsentreer by sy werk. ‘n Paar dae later het hulle ‘n Broviac-apparaat in haar borsie ingeplant sodat hulle met chemo kon begin.

Sowat ‘n maand later was my enigste vriendin in Potties op daardie stadium ook gediagnoseer met borskanker wat toe alreeds versprei was. Dit was seker een van die moeilikse tye in my lewe, ek moes sterk bly. ‘n Gevoel van magteloosheid het my soms oorweldig en ek het baie gehuil, maar nooit voor my kind of vriendin nie. Baie keer het my kind gesien dat ek gehuil het, dan vra sy vir my: "mamma wat is fout? dan moes mamma jok en vir haar een of ander storie vertel. Sy het dan vir my gesê; "alles sal okay wees."

Ek het meer mense in ‘Potties' leer ken tydens haar en my vriendin se siekte, baie het probeer troos, selfs my man se bystand was daar maar jy voel verlore wanneer jou kind so huil van pyn. Die siekte het albei van hulle by tye afgetakel en met tye was daar weer opflikkerings waarna dit baie beter gegaan het en ons almal weer vol moed en hoop was.

Somtyds was ek so moeg dat ek gevoel het ek kon nie meer aangaan nie, maar nooit het God my gelos nie. Hy het my opgetel en gedra die tye wat ek nie meer kon nie. God was en is my enigste anker in my lewe. Daar was tye wat ek gevoel het dat God vêr van ons af was, maar dan kom jy weer tot verhaal en jy besef dat Hy altyd by ons is. Hy weet van ons, Hy weet van elke traan wat jy stort en Hy ken elkeen se pyn en smart. God laat jou nooit in die steek nie.

Ek het al die tyd aangehou om elke dag Bybelstudie te doen. Baie dae het daar baie vrae deur my kop gemaal, die hoekom en waaroms het begin. Met tye was ek kwaad oor die situasie oor my kind, somtyds was daar aggressie, maar nooit het ek God in my lewe prysgegee nie.

Op ‘n dag het ‘n dokter wat in ons kerk is, by ons huis gedraai om te hoor hoe dit met my gaan. Hy het gesê dat hy wil weet hoe dit met die ma gaan want hy weet hoe dit met Leonie gaan. Hy het vir my gesê dat hy vir my ‘n baie snaakse ding gaan sê, maar hy weet nie hoe om dit vir my te sê nie. Hy vertel toe vir my ‘n stukkie uit ‘n verhaal in ‘n boek en daarna sê hy vir my dat ek die Here moet loof en prys vir Leonie se situasie. Ek het op daardie oomblik gedink die man is ‘n bietjie mal, hoe kan hy van my verwag om so iets te doen. Hy het gesê dat ek hierdie boek moet probeer lees. ‘n Vriend van ons het daarna kom kuier en vir my ‘n paar boeke gebring om te lees, en toevallig was hierdie boek "Prison to Praise" tussen die boeke. Ek het hierin gelees om God te dank en te prys vir elke situasie in jou lewe. Ek het besef dat ten spyte van siekte, hartseer, trauma, ens. is daar nog so baie om voor dankbaar te wees en om God te loof en te prys omdat ek weet Hy is in beheer van elke situasie. My gesindheid het net daar verander.

Daar het vir my ‘n lig opgegaan en dit was vir my ‘n voorreg om na my kind om te sien en ook met tye my vriendin by te staan en te bemoedig. Baie kere het ek vir haar ook ‘n gebed gedoen. Ek het elke dag die dag begin om God te loof en te prys en dankie te sê vir al ons seëninge.

Na twee jaar, was die stryd verby, ek het albei verloor. Albei het gedurende Paastyd 2009 gesterf. My vriendin die Vrydagaan en my kind die Woensdagoggend daarna. Dit was vir my verskriklik toe my dogtertjie, 9 jaar oud in my arms sterf. Die skok en verbasing was groot, want ek het so vas geglo dat sy gesond sou word, maar God het anders besluit. Haar lyding was verby en sy het nou ‘n hemelwoning gehad. Die hartseer en gemis het nou begin. Ten spyte hiervan is daar ook die goeie om te onthou. Sy was by haar volle positiewe tot sy oorlede is, en haar beentjie was nooit geamputeer nie.

‘n Gedagte wat altyd by my sal bly is die feit dat al was sy so geweldig siek, sy het nooit ooit gekla het nie. Sy was ‘n baie dapper dogtertjie. Ons is altyd geneig om te kla, dan dink ek aan haar wat deur daardie pyn moes gaan maar nooit negatief was nie.

Verlede jaar na Leonie se afsterwe, was dit vir my en my man ‘n groot aanpassing sonder haar. Ek en my man was vreemdelinge vir mekaar. Ons was verlore sonder haar, maar ons lewe hier op die aarde moes aangaan. Ons sal haar altyd mis en met tye hartseer voel, maar een ding weet ons verseker, sy wandel saam met Christus. Tydens haar siekte het sy eendag so uit die bloute vir haar pa gesê: "Pappa, ons is baie ryk!" verbaas het haar pa vir haar gevra: ‘hoe so?', sy't geantwoord: "want Liewe Jesus woon in ons." So sal ons al hierdie mooi herinneringe onthou.

Tydens Leonie en Willien se stryd teen kanker, het my ousus se borskanker teruggekeer nadat sy sowat 5 jaar skoon was. 20 Mei 2010 het ons haar begrawe. Sy was

vir my baie spesiaal omdat sy my ousus was en ook ‘n ma vir my omdat ek ‘n laat lammetjie was. Ek was soos haar kind in haar huis en sy't my baie geleer. Met tye tydens Leonie se behandelings het ons by haar oorgebly en dan was sy soos ‘n ouma vir Leonie.

Leonie was baie lief vir haar en sy was ‘n goeie en regverdige mens wat gestraal het van liefde.

April 2010 is my man afgedank by sy werk en moes einde Mei klaarmaak. Dit was vir ons ‘n skok, maar ons was nie bekommerd nie, want ons het albei geweet dat God sal voorsien.

Somtyds laat die Here ons toe om op paaie te loop wat ons nie verstaan nie, maar wat ons wel weet is dat wanneer een deur toegemaak word, maak God weer ‘n ander deur oop.

Die Here hoor elke gebed, al voel dit soms nie so nie. Hy ken elke traan en God antwoord op sy tyd. Somtyds is ons net te haastig.

Na my suster se begrafnis op 20 Mei in Pretoria, het my man ‘n werksonderhoud gehad ook in Pretoria. Op 24 Mei op my man se verjaarsdag het God vir hom ‘n geskenk gegee, God het weer ‘n ander deur oopgemaak. Die firma by wie hy was vir die onderhoud het sy aanstellingsbrief deurgefaks na ons en hy moes op 1 Junie daar begin werk. Prys die Here!

Ek sluit af met die woorde: "Aan elke persoon daar buite wil ek net sê: Wees ontvanklik en beskikbaar vir God. Maak tyd vir Hom. Nooi Hom in jou hart in, wees beskikbaar vir Hom, net soos wanneer jy beskikbaar is om jou selfoon te antwoord. Dis wat Hy van ons vra. Moenie op jou eie stoom probeer aangaan nie.

Wees altyd dankbaar teenoor God. Hy sien alles raak, Hy ken elkeen van ons by ons naam want Hy het ons gemaak. Wanneer jy hartseer voel, huil as jy wil huil, maar weet God is altyd daar aan hulle wat Hom vra en Sy Naam aanroep! Hou vas aan die Here.

Lees Psalm 23.

Laastens Psalm 145:21 Laat al wat leef sy Heilige Naam vir altyd Prys!

Cecelia Oosthuizen