My Biografie

Sarie voorblad

SONJA: meisie van Nigel - ‘n Lewensverhaal, sal teen Saterdag 21 April te koop wees hier op my webwerf en behoort vanaf Dinsdag 24 April by meeste boekwinkels beskikbaar te wees. Die Mei- maand- Sarie, wat sedert 9 April beskikbaar is, berig ook eksklusief oor my biografie en bied ook uittreksels vanuit die boek.
Die amptelike bekendstelling vind plaas op 25 April in Kaapstad, wat die kroon op ‘n skryf en produksie proses van amper 2 jaar span. Die een vraag wat ek baie die laaste tyd gevra word is, waarom ‘n biografie, waarom my lewe so blootle vir almal om te lees? Daar is nie ‘n eenvoudige of kort antwoord nie . . . Die biografie is die gevolg van 'n proses, sedert my Reconstructing Alice album in 2000, waar veral vroue met my verhaal wat ek op die album gesing het, geidentifiseer het. My INCELEBRATION veldtog het hieruit voortgevloei en my al hoe meer met vroue inaanraking gebring. Dit het my net laat besef hoe belangrik dit is dat ons ons stories met mekaar moet deel. Om jou storie te vertel is nie net terapeuties nie, dit lei ook tot selfverstaan. Ek weet dat ons nie so verskillend is nie en ek hoop dat my verhaal, vir die wat daarmee kan identifiseer, ‘n inspirasie sal wees.

Resensie:

Meisie van Nigel, geskryf deur Carel F. Cronjé, Uitgegee deur SON Music en versprei deur Global Creative Studios. Voorgestelde verkoopprys R189.

Elvis het gesing: "The worlds' a stage and each of us must play his part." Vandat Sonja Herholdt as driejarige haar eerste optrede gehad het, begelei deur haar ma, het sy gewéét. "Dit was lekker daar op die verhoog".

Die Meisie van Nigel is ‘n verskriklike eerlike blik op die lewe van Sonja Herholdt. Dit is in ‘n heerlike storievorm geskryf - Sonja wat besig is met een spesifieke opvoering terwyl haar gedagtes deurentyd terugflits en so haar lewensverhaal in effek vertel word. Carel F. Cronjé, liedjieskrywer van formaat, kan nou maar storieskrywer ook agter sy naam skryf. Kyk, dié man mag maar sê hy het al ‘n boek geskryf!

Die verhaal skop af met Sonja as klein dogtertjie in die vyftigs in Nigel. Sonja wat by Ouma Lollies gaan kuier, wat met haar teddiebere onder die bed inkruip as die grootmense vir mekaar grom. Min het sy geweet haar eie huweliksboodjie sou later langs dieselfde stroompie afseil!

Dit neem mens deur haar skooljare, waar sy eers ‘n rebel is en later die liefling van die skool word tot by haar sorgvrye Goudstad-dae. Dié tyd is gekenmerk deur haar ontmoeting met FC Hamman, haar trouman, die begin van haar sangloopbaan en ‘n heerlike verhaaltjie van ‘n afspraak wat so skeefgeloop het dat die motor in die Emmarentia-dam beland het!

Die Sonja van vandag lewer kort-kort skerp en tot op die been eerlike kommentaar oor haar en andere se optredes, uitsprake en menings. Asof sy alleen in ‘n donker kamer in haar huis sit en na ou home movies van haarself kyk.

Die blou Borgward wat FC as student gebruik het, is in Sonja se woorde "deur die genade van God gedryf" - dalk ook soos Sonja se eie lewe aangedryf is deur die ewige teenwoordigheid van God, met wie sy altyd in gesprek is - soms kinderlik eerlik, soms vol vrees en soms met ‘n ysere wil.

Die een boodskap wat deur die boek telkens opduik, is iets wat Sonja vroeg in haar lewe besef het, naamlik dat liefde is wat liefde doen. Sy vra dan ook self, net na haar eerste seksuele oomblik met FC, of dit die begin van die einde is.

Die boek volg haar sangloopbaan noukeurig, van 1975 met die uitreiking van Ek verlang na Jou, wat ‘n fenomeen was wat die land getref het en haar oornag ‘n ster gemaak. Al het die klankman wat dit opgeneem het, gesê die opname was ‘n mors van tyd en geld!

Later volg haar ontmoeting met Anton Goossen, wat as vryskutjoernalis vir Huisgenoot ‘n onderhoud met haar doen en terloops noem dat sy hom kan bel as sy materiaal nodig het. Sy loopbaan as liedjieskrywer het danksy Sonja momentum gekry maar toe hy later as sanger beroemd raak, kon hy nie meer ‘vir koeksisters en marsmallows" werk nie! Dit het hulle verhouding versuur en hulle het eers jare later dinge weer reggemaak.

Op die kruin van haar sukses in 1978 vind sy skielik uit sy is swanger en die vrees pak haar beet. "Dit gaan alles ruineer! My loopbaan, ons toekoms. Ek is mos ‘n hele maatskappy! Ek moet werk. Ek moet sing. Wie gaan vir ons geld maak as ek dit nie doen nie? Jy dalk, meneer Hamman?" Sonja besluit tot haar groot spyt op ‘n aborsie in Engeland. Dit vreet vandag nog aan haar.

Regdeur haar huwelik het ander vroue ‘n groot rol in hul lewe gespeel. Sharon, Mariaan, Greta, Tanja, die danseresse...en natuurlik Zelda, wat FC se kind gehad het skaars ses weke na hul eersteling Claudi se geboorte. Dit sou Sonja jare neem om Hayley te aanvaar. Sy ervaar deurentyd ‘n geweldige gevoel van ‘ek is lelik' en handhaaf deurgaans ‘n baie swak selfbeeld.

Die geboorte van haar kinders, die ewige stryd om haar man se aandag op haar gevestig te hou, ‘n sukkelende loopbaan, kritiek op kritiek oor haar agt Saries. Alles is ineengeweef in een lang verhaal. Heerlik vertel in Sonja se eie unieke, hartseer maar tog skerp humoristiese manier. Sy neem die leser op ‘n reis deur haar persoonlike lewe - tot in die fynste intieme detail.

Die boek laat jou glimlag, jouself in haar raaksien, die absolute menswees van ‘n celebrity besef. Die besef dat die glamour life ook maar vol dorings is. Maar dat die Son weer sal skyn! Sonja gaan oornag elke gefrustreerde, pasgeskeide leseres se beste vriendin word. Sy raak sommer net Sonja, of Son, en mens kyk nie meer grootogig na dié celeb nie.

Meisie van Nigel is vir elke vrou wat net probeer oorleef in die besige, moeilike wêreld van ma-wees, beroepsvrou en vrouwees. En vir elke man wat nou sal verstaan wat ‘n vrou nodig het en beslis nie nodig het nie. ‘n Heerlike, openhartige boek vol lewenswaarhede.

 

Kommentaar

Inspirasie deur en deur

Sonja, dit is met 'n blye hart wat ek die boodskap los! Dit maak ons as vroue se harte oop vir, en ook teenoor mekaar. Jou biografie is 'n inspirasie soos min. Dankie vir jou pragtige boek asook die verskriklike opbeurende motiverings vertoning (hartklop van 'n vrou). Selfs tussen die trane deur, het dit ons vroue laat dink en nader beweeg aan mekaar! Duisend dankies...............

Sonja: Meisie van Nigel

Hi Sonja,
Ek het jou boek gelees, en ek moet sê - dis Puik !! Vandat ek dit begin lees het, was ek so geboei dat ek nie die boek kon en wou neersit nie. Hoe jy staande kon bly deur al die dinge waardeur jy is, is absoluut wonderlik. Jou Incelebration vertoning wat ek gekyk het, was ook net so goed. "n Wonderlike Kersgety vir jou en jou gesin en mag die Liewe Heer jou seën op jou pad vorentoe.