Mans kan ook "Amazing" wees!

Printer-friendly version

As ek my program "Die Hartklop van Vrouwees" aanbied sit daar baie keer mans in die gehoor en dan kom hulle na die tyd na my toe en sê dat dit vir hulle baie beteken het en dat meer mans dit moet hoor.

Dit is 'n feit dat daar wel verskille is tussen mans en vroue soos bv. dat as vroue saamkuier daar meer van die hormoon oksitosien afgeskei word wat hulle laat kalmeer en "bond". Dit word by vroue "the tend to befriend hormone" genoem.
Dit gebeur nie by mans as hulle saamkuier nie.

Om te "recharge" en te ontspan het 'n man 'n "TV-remote" nodig. En dit is nou maar soos dit is.

Maar dit is ook so dat vroue emosionele krissise baie makliker kan hanteer as mans.
Oor die algemeen is daar bewys dat mans liewer daarvan sal wegvlug - om die krissis op so 'n manier te hanteer - vir hulle eie behoud. Ek weet, want daar is baie mammas met gestremde kinders wat maar die pad alleen moet stap.

En so is M Scott Peck reg in sy boek "The Road less travelled" dat die geheim van die lewe is dat die lewe 'n reeks probleme is wat ons moet konfronteer wat pynlik is, maar as ons dit kan regkry, dan groei ons geestelik. So ja -die lewe is moeilik en gewoonlik is dit emosionele uitdagings.
En dis naïef om te dink dat die lewe maklik behoort te wees of dat daar 'n vloek op jou rus omdat die lewe vir jou moeilik is.

"Bad things happen to good people!"

Toe ek nou in die Kaap my program aangebied het het ek hierdie storie by 'n vrou gehoor en dit was vir my so 'n voorbeeld van twee mense wat mekaar deur dik en dun bystaan, en nie sonder baie pyn nie - maar dit gee ander hoop - dat daar altyd 'n uitweg is, as ons die guts het om dit te vat en daarmee deur te druk.
En dit is 'n "Amazing" man wat dit reggekry het!

Ek glo as vrou: "First independance before meaningful inter-dependance" En as man en vrou mekaar so kan bystaan en ondersteun om te groei - is dit werklik die enigste stukkie hemel op aarde wat daar kan wees. . .

Maar luister na die mooi storie wat vir my so 'n inspirasie was.

Soms wonder ons hoekom dinge moet gebeur,
soms wonder ons kom dit van die Heer,
ons antwoord is: Geduldig wag en Vertrou
Hy gee om vir my en jou.

Die telefoon lui en ek het nooit gedink ek sal so bang wees om `n oproep te neem soos vandag nie. Dis die dokter. My bene voel lam, ek gaan sit en luister aandagtig. Al woorde wat ek uitmaak is ..... borskanker, mastektomie. Als bewe en ruk. My emosies neem oor. Dis asof ek buite my eie liggaam staan en toekyk hoe my hele lewe binne sekondes ineenstort.

Hoe vertel ek so iets vir my man, die anker in my lewe? Hoe sal hy die nuus hanteer? Hy het my styf in sy arms gehou en sy gerusstellende woorde was: "Toemaar, ons sal daardeur kom. Ek sal by jou staan."

Nooit het ek besef hoe swaar dit vir my man moes gewees het nie:
"Die wete dat ek dalk my vrou kan verloor as gevolg van die groot K. Die middelpunt waarom my lewe draai. Hoe gaan ek haar bystaan? Wat wil sy hê moet ek vir haar doen of nie doen nie?"

`n Dag na die skokkende nuus het daar `n kalmte van "iewers" oor my gekom. Ek het stil geraak en geluister - die Here praat met my: "My kind, ek het jou nodig, sal jy my kind word en vir My lewe?" Dis toe dat ek besef die Here straf ons nie, maar bring beproewinge oor ons pad om ons sterk te maak om enige struikelblokke te oorkom.
Ek het geweet daar is `n lang en swaar pad wat vir my voorlê.

My man tydens my operasie: " Inge-Mari is so kalm. Hoe kry sy dit reg? Hier word sy op `n bed in die teater ingestoot en haar glimlag bly so opreg en dankbaar. Ek hou nie van hospitale nie - dit maak my senuweeagtig. Ek wil hier wegkom, maar ek kan nie. Die maatskaplike werker sê dat 27% van al die borskankergevalle skei die man van sy vrou. Ek moet by haar staan al voel ek hoe sleg."

Die operasie was `n groot sukses. Ek kon die Here se teenwoordigheid aanvoel.

My man het vir my in die huis gehelp en hy moes by sy eie werk ook uitkom. Die
3 kinders was nie maklik nie en hy moes daar ook sy kant bring.

`n Paar weke later is my behandeling vir die volgende 7 maande aan my voorgelê:
8 chemoterapie sessies en 28 bestralings


My man: " Asof die afgelope weke nie al klaar erg genoeg was nie. Nou nog hierdie behandelings ook. Ek kan nie meer nie, hoekom moet my vrou dit deurmaak, kon U dit nie maar liewer vir my gegee het nie? Sy verdien dit nie. Sy is `n goeie mens en almal is lief vir haar sprankelende persoonlikheid. Dit raak te veel vir my. Ek wil ontspan en vergeet van alles. As ek my oë weer oopmaak, is alles weer terug na normaal - my vrou gesond, die werksdruk weg en my kinders skoon engeltjies."

Alles het nie teruggekeer na normaal nie, maar dinge het net nog erger geraak. Ek het nie besef hoe groot die impak van my diagnose op my man was nie.... hy het hom begin dokter met drank.

Ek was magteloos vasgevang tussen my eie emosies, die slegvoel van chemo, ons oorlewing as gesin, allerdaagse take van vrouwees en ma-wees het net meer en meer op my begin rus. Here, help my! Ek is hier vir U en sal enigiets doen om my man te help. Ek lewe op dié stadium met twee eggenote. My lieftallige, "sal enigiets vir iemand doen" eggenoot is besig om weg te kwyn en in sy plek is die ander man: beskuldigend, afbrekend en foutsoekend.

Ek sou nooit kon dink dat ek my siekte as minder belangrik beskou as my man se gesondheid nie. Ek wil my man weer terughê maak nie saak wat ek moet doen nie.

Na agt sessies van chemoterapie (waar my hare twee keer uitgeval het) het 5 weke van bestraling in die Kaap voorgelê. Wat gaan van my man word? Hy kan nie alleen gelos word nie, hy kan nie na homself kyk nie, wat gaan ek maak?

Die Here is so ongelooflik goed vir ons. Gedurende die laaste paar maande voor my bestraling het my man aanmekaar gesê hy wil nie so lewe nie en dat hy het hulp benodig! Hy het geen beheer meer oor die drank nie. Hy het sy ego in sy sak gesteek en is by `n rehabilitasiesentrum vir verslaafdes in die Kaap opgeneem dieselfde tyd as my behandeling. Prys die Here!

Maak nie saak in watter omstandighede jy jou bevind nie - die Here is daar vir ons. Ons moet net geduldig op sy antwoord wag.

My laaste ondersoek het gewys dat ek skoon is van die kanker, rekonstruksie lê om die draai en ek en Gerhardus is nou weer so verlief soos die dag toe ek hom die eerste keer ontmoet het....
My man is "amazing"........