Retha Buitendagh

Retha is 'n besondere vrou, elke dag moet sy haar eie motivering vind, en so doen sy dit met 'n glimlag en deursettingsvermoë. Sy vertel self haar storie:

Tot op die ouderdom van ses het ek die voorreg gehad om by my grootouers op die plaas sorgeloos tussen die randjies saam met my beste maatjie Matodi te huppel. Die blou lug en die hope mielies wat lệ en wag om gestroop te word is die grootse avontuur vir enige lewenslustige kind.
Ouma se room gemeng met glysirine en suurlemoen kon die brand van die krappe op my vel stil. By een geleentheid het ek en my sussies hard probeer om my bibberende kaal swart maatjie met sand en gietende reẽnwater wit te skrop! Na ernstige noodkrete het my oupa as lewensredder tussen bygetree. Vroeg in my lewe is die mosterdsaadjies van geloof gesaai, deur die leefwyse van die twee hoekstene wat in my lewe vasgegroei het!

Ons almal weet dat in die reẽnseisoen, as ‘n Datsunbakkie se motor in vroeẻr jare waternat deur ‘n onverwagse duik in die grondpad gaan stol het - dit moeilikheid beteken. My oupa se radelose opmerking het outomaties gebed by my ontlok..... Toe die aansitter gedraai word, het die motor begin dreun. Ons drie het aangevuur uit volle bors begin koortjies sing - al die pad huistoe.
Ek was een van vier dogters, middel, tweede laaste, wat kort op mekaar se hakke gevolg het.
Dit was hartverskeurend toe my eerste skooldag aanbreek, sonder die luuksheid van my grootouers vertoosend om my! Tog was die hegte familieband tussen ons gesin altyd daar, elkeen verseker van sy unieke plek in ons ouers se harte. Ons ma was ‘n kenmerkende Spreuke 31 vrou!
Reeds in my opgroei fases het ek ‘n drang gehad om die lewe maksimum te verbeter vir almal om my.
By een geleentheid met die verhuis van die Oranje Rivier terug na Transvaal, my pa kort van draad - bestuurder van die swaaroorlaaide stasiewa met twee dogters. My ma kort agter met die Volkswagen kombi en twee dogters. ‘n Verkeersman het ons reeds spanningsvolle rit verder kom kompliseer deur sy bevindings! Die ruit was oop, en my oudste suster het begin huil! Ek het kliphard gebid en glo my, ons het minute later weggery met slegs ‘n waarskuwing! God sal defnitief nie ‘n opregte gebed van ‘n kind laat faal nie.
In ons Hoẻrskool dae het ek my jonger sussie en een ouer as ek omtrent gemotiveer deur koffie en beskuit aan te dra, sodat hulle ordentlik wakker kon word om te studeer! Na my matriekuitslae het ek nog geen idee gevorm van wat my toekoms sou inhou nie.
God weet al van moederskoot wat Hy vir my bedoel het - dus sonder ‘n onderhoud of keuring - wat nodig is - begin ek Januarie 1980 met Verpleegopleiding by HF Verwoerd hospital - wat ongewoon is.
Met ons eerste vakansie gaan ek en my vriendin Durban toe met die trein. Haar ma en suster vergesel haar, en niemand anders as my hoeksteen ouma , saam met my - almal dankbaar dat sy ‘n stukkie deel van ons lewens kan wees. Hierdie merkwaardige vrou met haar vaste waardes, wat die vermoẽ het om almal se lagspiere oortyd te laat werk.
Ek was ook een van die min studente wat met goeie vordering gekeur was om half jaar kraamopleiding te ontvang.
Omdat daar nog drie in my gesin was, wat deur puberteit en streke moes gaan het ek almal eers laat glo dat my ouers genadiglik my beurt gaan vryspring.
Maar heellaas in my twintigerjare verander die stil stemmige jong dame in ‘n rooihaar Teletien haarstyl-geitjie met ‘n pikswart stert om die rebelsheid te beklemtoon. Gefokus op myself, my voorkeure, my afkeure, wat ek so lekker met veral handseine kon weergee - waarvoor het ‘n vrou dan hande met vingers - veral as ek wiele onder my agterstewe kon hẽ.....
Bestuur was een van die uitdagenste, lekkerste opwindinge in my lewe! Ek kon meegesleur word - al jaag ek in Pretoria rond - uit die aard van my beroep by patologiese dienste.

In 1992 besluit ek om my kennis te verbreed. As ek terugkyk sien ek weer ‘n Hoẽr Hand wat my in die regte rigting ingestuur het. My voorkeur- werksplek in die hospital was in die intensiewe afdeling, soveel emosies vasgevang, verwagtinge saam met mede-kollegas en familie. My opsies was natuurlik intensief of gemeenskapsverpleegkunde by die Tegnikon in Pretoria.
Om weer voltyds ‘n student te wees met luukshede soos ‘n nuwe motor, al die voorgeskrewe boeke reeds lankal voor die tyd gekoop, goeie penne, ordentlike aktetas, is vrek opwindend! Slegs sewe medestudente! Sorgelose dae lẻ voor met baie lag en pret! Ouer wyser vroue wat net weer die lewe in volheid wil ervaar en hul horisonne met kennis wil verbreed.

Met die eerste toetsreeks in Mei ondervind ek probleme, behalwe dat die breinselle bietjie geroes het met die jare - wil my oẽ nie hul kant bybring nie. ‘n Dokters vriend verwys my na ‘n oogspesialis en die glans verdwyn van die vooropgestelde voornemens vir die roekelose jaar - en ek word gediagnoseer met veelvuldige sklerose, ‘n senuweekanker - beweer my mediese boek.
My groot "tjommie" Gay van Eeden som al ons studies op en sorteer herhaaldelik elke vraestel vir my bymekaar dwarsdeur die jaar en genadiglik slaag ek die kursus met lof.
Saam met die studies het ek elke alternatiewe week ‘n aandwerk beman. Elke drie maande word ek opgeneem vir polsterapie - groot dossise
kortisone intravenous - vir vyf dae lank. Ek word "moonface en moody" ronde lyf word nog ronder, daarvoor het die mieliepap met room en hope suiker wat met ‘n vurk geëet is kleintyd my vetselle goed gevorm!

Danksy gene en ingeboude deursettingsvermoẽ bly die hoop en die lag op die oppervlak. Elke dag is ek gewapen met drie koringkorrels vir die dag. Kom wat wil, dit dra my en heel dikwels my kollegas deur.

My onderstel het begin opgepak.
Die eers versigtige, maar ervare windgat-bestuurderes, is skielik ‘n risiko op die pad, want "voete" weet nie meer of hulle op die pedale is of nie? Soms land een voet op twee pedale gelyk, en hik en pik ons twee met die nodige grasie as wat ek kan hẽ!
My vryheid word hokgeslaan en ek beman nou telefone wat aanhou lui en goeie diens vereis. Ek draai syfers om en maak almal om my dom.

Vyf jaar later is ek binne die bestek van een maand medies ongeskik verklaar. My hele menswees het geneig na ongeskik!

Een ding verpes ek - selfbejammring of ek die rede vir bejammering !
Ek en my niggie woon nou agtien jaar saam - huis gekoop - in die klein diamante-dorpie met sy statige Jakaranda bome wat soms die strate soggens met pers tapyt verfraai.
Vinnig het ek ‘n strategie uitgewerk. Ek gaan laai haar smorens by die munisipale kantoor af en hou groot afstande tussen die voertuig voor my - sodat ek genoeg tyd het, met gebed, om my voete op die regte plekke te kon kry. Dan begin my roete. Ek besoek siekes, verlamdes en bejaardes in die tehuis.
As ek dink aan ou mense wek dit gemengde gevoelens by my op. Die Bybel sẽ dat as jy oud is bring die kinders jou waar jy nie wil wees nie..... ek en ‘n vriendin het vol ywer vir hul voorgelees en‘n gebed gedoen, en dan gesing. Glo my, ek twyfel of enige bejaarde by die sang wou teenwoordig wees!!! Dit het my dae ingekleur en ek het gevoel ek het ‘n doel - en was tevrede met die lewe.
Maar die onderstel kraak verder! My spinaalkoord is vieslik dun en ek moet groot chirurgie ondergaan waar hul my een ribbebeen verwyder, wegsmyt, sonder ‘n gedagte om ‘n man te bou!
Die groot gewetenswroeging! Al trek ek mooi aan bly ek voor die motorhuis se deur in die motor sit. Nie omdat ek dit geniet nie, nee "dammit" omdat my swaar voete deesdae soms met hulp van iemand anders se hande in die motor netjies langs mekaar ingepak word.

Vroeg in hierdie jaar het ek ‘n pompie gekry wat my pyn meer beheer. Natuurlk het ek nie die inligting van reẽls my eie gemaak nie.
Toe ek van Durban na ‘n wegbreek week, terugvlieg en deur die doanehek met ‘n vreesaanjaande geskreeu gaan, en die sekuriteit verdubbel, onthou my niggie dis die pompie wat nie van enige magnetiese kragte hou nie, en dit is sy enigste verweer!

Ek is nie sommer ‘n gewone vrou nie - nee - watter vyf en veertigjarige vrou het ‘n kombuistee sonder voornemende troue?
Of crocks-vriende?
Of praat ons nou van een en dieselfde vriendin - wat ‘n dag reẽl saam met Sonja Herholdt - vir my... My Zeelie familie - die gom wat ons dorpie aan die gang hou - Santa!

As julle gewonder het of julle my ooit weer in die strate of lokale winkels gaan raak loop.....
God se genade strek ver...
Ek is ‘n bloedrooi shoprider ryker en kom waar ek wil, wanneer ek wil, ... nie heeltemal waar nie, want "MS" en die son sit nie langs dieselfde vuur nie....
My rooi driewiel bring my ook waar mense gebed en bemoediging nodig het.

Drome hou aan met groei, al stel my onderstel weer sy punt, en steek my bene nou soos ‘n steeks donkie vas. Al wil vingers nie oor die sleultels van die rekenaar meer gly nie, is ek tans besig om ‘n fiksie te skryf waar geloof met nadruk uitspruit.....

Moenie toelaat dat enige mens homself ‘n reg toe-eien om jou geloof of jou hoop te breek nie.
Solank as wat jy jou oë kan sluit en verseker God se genade kan ervaar is die lewe die moeite werd. Vat elke dag en hardloop en leef hom voluit.

Dit was vir my ‘n groot ding om deur te werk toe eers my niggie een jaar jonger as ek, en toe my jongste sussie, gediagnoseer is met derde-graad borskanker. My sus het ‘n dubbel mastektomie gehad, en gaan die veertiende van die maand vir haar tweede chemoterapie.

Dank God my niggie se tumor het klinies verdwyn met chemoterapie.
Albei my ouers is verlede jaar oorlede.
Net soms ervaar ek dat ons gebedskringetjie kleiner raak, en ons gebedsverantwoordelikheid groter!

Bloed is dik, daarvan getuig telkom se gonsende besige lyne, wat die kilometers tussen Langebaan en Potchefstroom en Viljoenskroon laat krimp.

My susters se kinders - wel ek het hul nie self uitgedruk nie, maar ek het hul my eie gemaak.
Liefde en omgee het ‘n vreemde manier om jou te laat sweef waar jy wil!

In my skatkamer van my hart berg ek ‘n versameling vriende wat my lewe op soveel tereine makliker maak.
Veral my buurvrou Magaret, wat my op ‘n keer nadat ek my kop oopgeval het "gerescue" het..................