I met an amazing, strong, positive woman who I gave recognition to with my show in Garsfontein. She tells her story in her own unique way. She made a lasting impression with her positive energy and presence that touches your heart.
Thank you Marié for the privileged of sharing your story to inspire others.
Marie tells her story:
'n Mens kan enige ding oordryf in baie opsigte - selfs verbeel. Selfs toevoegssels maak vir 'n bietjie uitgeperste belangstelling.
Maar 23 Junie 2007 en die res wat volg is nie een van hiperboliese formaat, fantasie nie.
Die teenoorgestelde is waar. By naperspektief sou ek miskien tog al die wonderlike aandag; my huis wat vir maande blomtuin was; die kosbare handversorging van my man en my ma; die hoë en lae vorme van gebede; die volmaakte oondgebakte disse van weke; die duisende skoolbelaaide liefste leerlingbriefies; kollega-sms'e en meer wou teruggee en sê: laat die ongeluk liefs nie plaasgevind het nie. Maar dit het.
My matriekvraestelle het verwerp, verstrooi op my lessenaar agtergebly. Ek sou saam met Corrie in Brooklyn gaan fliek het.
Uit Atterbury het Charles gewag. In Charles se Twintigste laan het hy met 'n reuse spoed oor 'n stopstraat my in my besige lewensvaart gestuit.
Die donker groot bakkie het teen die muur soos 'n stout kewer probeer oorklim. Ek het onderdeur my sitplekgordel, by my deur uit, op die oorkantste sypaadjie beland en hulle het my onder my motor uitgehaal.
My beserings was veelvuldig - amperdood- amper koekoes- amper lam. Bekken op drie plekke gebreek, ribbes op drie plekke, en my gesig en kop - anders as voorheen......
Wonde, ongeneesbare verdikkings, permanente letsels. Die gees was skeef en verwronge - sukkel om sin te maak.
Deur die ses maande wat gevolg het, het die reaksies van enige trauma nes gemaak in my.
Iewers tussen ontkenning, woede, hartseer en depressie, het die ontsettende fisiese pyn gelê.......
Niks wou beweeg nie. Totaal afhanklik. My huis het 'n kamer geword - 'n vakuum met asem, pyn en waaroms.
Die Wonder het egter by die deur - en agter my - voor my - rondom my - gestaan. Sy naam was en is God. Hy het deur watersakke en kanale gewerk.
Strome skoolkinders. My Graad 12's. My debatspanne. My Graad 11's.
Ek het verleë gestaan - eerder gelê.... voor soveel liefde....... soveel genade.
My kollegas, my familie, het nie net in oorweldigende momente my van boeke, televisie, films, kos, troos, woorde en hande voorsien nie.
Hulle het opnuut vir my grappies gelag - my rare ervarings en perspektiewe vanuit die hospitaal. Maar dit vertel ek net persoonlik!!
My seun het met humor skoen en horlosie herstel. My dogter was die Engel met haar fisio-hande. Vreemdelinge wat vriende geword het, het langs my kom staan.
Vandag is amper twee jaar later en ek spring alweer met my gebroke liggaam vir die matrieks op die tafel.
En asof dit nie genoeg is nie - ek verstaan nie dit in hierdie lewe nie - my lewensmaat, my menskombersie, het my baie onlangs vir die ewige lewe verlaat. Dis 'n leemte .......
In my hande hou ek die wonderwerk van God vas: My Genade is vir jou genoeg. My genade het finaal jou oë oopgemaak.
En die grootste hiervan is die Liefde.
Marie de Beer