I was so priveledged to meet this wonderful strong lady and to be able to give her recognition for living such an example.
She lost her husband and soulmate after a long struggle with his health - both of them believing for a miracle. The way she handled the tough times and the life without her life long partner at the moment is admirable. Here she shares her story with us: (in Afrikaans)
Willie, my man, het in 1996 begin siek word en dit het die dokters amper ‘n jaar gevat om die oorsaak te kry. Hy moes op 29 Oktober 1997 ‘n opehart operasie kry om te bepaal wat die oorsaak is. Toe die dokters noem dat die operasie dringend was, het hulle vir ons gesê dat sy kanse 50% is dat hy dit sal oorleef.
Voor sy vertrek na die hospitaal het ons saam gekniel en gebid. Toe ons klaar gebid het en opkyk na die skuifdeur in ons kamer - was daar 'n perfekte afdruk van 'n duif in vlug. Ons was verstom en ons het altwee besef dat dit 'n teken van die Here was dat dit sal goedgaan.
Op 31 Oktober 1997 is ons meegedeel dat hy ‘n leiomyosarkoom het in sy regter pulmonale arterie en daar is vir ons gese dat hy slegs 6 maande het om te leef. Hulle het die kanker in die arterie verwyder tydens die operasie en hy het daarna chemoterapie en bestraling gehad wat so 8 maande geduur het.
Hy het tydens al die behandelings aanhou bly werk en elke dag was genade........en die beeld van die duif het by ons gebly. Sedert daardie dag en die swaar tye wat gevolg het, het die Here elke keer die teken van die duif gestuur. Die afdruk van die duif het ook op die eetkamer se skuifdeur verskyn.
In 2001 en 2003 het hy twee baie ernstige hartaanvalle gehad, wat gekom het as gevolg van die bestraling en die chemoterapie - die are het hul elastisiteit verloor.
Die dokters was verstom dat hy dit oorleef het en hulle het hom behandel deur stents in te sit.
Toe in 2005 het hy weer siek begin voel en na die kardioloog gegaan.
Hulle het "iets" in sy hart gesien en 17 biopsies geneem en kon niks kwaadaardigs vind nie.
Toe hy 6 maande later teruggaan en die dokter ‘n sonar doen, was die gewas weg en het hy Willie gevra of hy by ‘n geloofsgeneesheer was.
In 2006 het ons in 'n nuwe huis ingetrek en die nuwe huis het baie vensters en skuifdeure bo en onder.
In 2007 het Willie weer begin sleg voel en na baie toetse, scans en biopsies, het hulle gevind dat die kanker terug is en dat dit nou 70% van sy regter hartkamer inneem en in die hartspier is.
Net voor Willie opgeneem is met die gevolge van die chemo na Kersfees 2007 het ek die dag gestap om vir hom iets te gaan haal in die kombuis - en weer die afdruk van die duif gesien. Ek het vir Willie gesê dat ons ook hierdeur sal kom.
Willie was in die hospitaal vir 3 weke.
Die chirurg wat 10 jaar gelede die operasie gedoen het, het hom weer gesien en na konsultasies met ander dokters besluit hulle kan nie weer opereer nie, aangesien dit te gevaarlik is.
Toe die dokter na 2 weke een oggend vir Willie sê dat hy is na aan sterwe, het die afdruk van die duif weer verskyn op sy glasdeur van sy privaat hospitaalkamer. Ons het dit saam gesien en 'n week later is Willie onstslaan.
Willie het besluit hy kan nie wag om dood te gaan nie en dat daar alternatiewe moet wees. Die chirurg het toe gesê Willie kan ‘n goeie kandidaat wees vir ‘n hart-long oorplanting en ons is twee dae later Durban toe om die oorplantings span daar te sien.
Willie is dadelik "gekeur" daarvoor en het eerste op die lys gekom vir ‘n so ‘n oorplanting.
Intussen is daar besluit om hom weer chemoterapie te gee om "tyd te koop" terwyl hy wag vir ‘n oorplanting. Hy was so siek en was ‘n maand in die hospitaal opgeneem en by 3 geleenthede het die dokters gesê dat hy dit nie sal maak nie.
Hy was Desember 2007 op suurstof by die huis gewees.
Hy is in Januarie 2008 ontslaan uit die hospitaal, 30 kg ligter en baie siek.Daar is besluit dat hy nie weer chemoterapie kan kry nie, aangesien dit te gevaarlik is.
Op 20 Februarie 2008 het ek die middag die afdruk van die duif op die skuifdeur van die eetkamer gesien en ek en Willie het geweet dat die Here met ons is.
Daardie aand was daar 'n oproep van die oorplantingsspan dat daar 'n skenker is vir Willie en ons het die volgende oggend vroeg afgevlieg Durban toe vir die operasie.
Ons het die hele span ontmoet en terwyl Willie voorberei is vir die operasie, het die dokter opgevlieg om die organe te oes.
Hulle het ons die hele tyd op hoogte gehou wat aangaan.
Willie was al oppad teater toe, toe die dokter van Johannesburg laat weet dat die een long septies is.
Die operasie is gestop. Die dokter het teruggevlieg en aan ons kom verduidelik dat Willie nie die operasie sou deurstaan het met die long wat septies is nie.
Hy moes die aand in die hospitaal bly, as gevolg van die nagevolge van die medikasie wat hy moes begin drink ter voorbereiding van die operasie.
Ons is die volgende dag huistoe. Die beeld van die duif het ons die stille vertroosting gegee dat dit alles deel van God se plan is.
Daar was twee gevalle van skenkers wat nooit gerealiseer het nie.
Ons het met ons lewens aangegaan met Willie wat baie siek was en hy het egter die heeltyd bly werk.
Hy was nog drie keer gedurende die jaar in die hospitaal met onreëlmatige hartklop en was die hele September in intensief na ‘n oop-longbiopsie-operasie, wat gedoen moes word omdat hulle gedink het dat die kanker versprei het. Dit het egter nie.
Intussen moes hy weekliks ingaan om vog van sy longe en buik af te trek.
Die afdruk van die duif het weer verskyn in Augustus 2008. Hierdie keer wou ek dit afneem om vir almal te wys hoe wonderlik die Here is, maar ek kon nie want dis mos op glas. Willie het lekker gelag daaroor.
Ons het daaroor besin en geweet dis hoe die Here werk - jy sien dit en ervaar dit maar jy kan dit nie vasvang nie. Die afdruk van die duif het nie weer verskyn nie.
Ons het 2009 ingegaan met groot verwagting dat ‘n wonderwerk sou gebeur en dat daar ‘n skenker sou kom.
Wiliie het nog steeds ingegaan werk toe en saam het ons nooit moedopgegee nie.
Willie is op 2 Februarie 2009 oorlede.
Ek het my sielsgenoot en liefde van my lewe verloor.
Op die 18de Maart sou Willie 52 gewees het en ek en my kinders het besluit om te gaan uiteet in een van sy gunsteling restaurante.
Toe ek die middag die trappe ophardloop was die afdruk van die duif weer daar - hierdie keer by die boonste TV kamer.
Ek het vir my dogter dit gewys en my woorde aan haar was dat die Here dit vir ons stuur om te sê dat Hy met ons is in hierdie tyd en dat ons ook hierdeur sal kom.
Sedert Willie se dood het ek sleg geslaap maar nooit gedroom nie, maar die aand van die 18de Maart droom ek dat vriende my kom haal en neem na 'n plek waar Willie is. Ons het hand aan hand deur die wolke gehardloop. Ons kom toe tot stilstand by 'n seuntjie met 'n blou hempie aan wat op 'n bankie sit en afkyk na hoe hy sy voetjies heen en weer swaai.
Willie vat my hande in syne en kyk my in my oë en glimlag en sê :"moenie worry nie - ek is gelukkig".
Hy soen my en ek word wakker en dis die eerste nag dat ek deurgeslaap het.
Die Donderdagaand voor Goeie Vrydag het ek die nagmaaldiens bygewoon.
Een van die beelde wat hulle op die skerm geprojekteer het was die einste seuntjie op die bankie wat ek in my droom gesien het.
Toe ek kort daarna in die TV-kamer sit en tennis kyk sien ek weer die afdruk van die duif teen die venster. Dit is nog steeds daar - dis net 'n bietjie dowwer.
Die trane loop nou lekker maar ek verwonder my oor God se Genade - ons het vir 12 jaar 'n pad van siekte gestap - en die laaste 14 maande tot en met Februarie - elke dag 'n pad van dood/wonderwerk. Willie kon in hierdie tyd elke minuut gesterf het of ons kon 'n oproep kry dat daar 'n skenker was vir 'n hartlong-oorplanting.
Die Here het die tyd bepaal - maar ons in hierdie tyd gedra deur die Heilige Gees in die vorm van 'n afdruk van 'n duif.
Ek en die kinders verstaan nie nou die rede dat so 'n wonderlike man en pa moes gaan nie maar ons weet dat ons nooit verlaat sal word deur ons Hemelse Vader nie. Ons sal eendag verstaan en saam met Willie wees.
Ons sou 4 Februarie 2009, 31 jaar getroud gewees het met ons drie pragtige kinders Wayne (26), Meghan (24) en ons laatlam Patricia (14)
Die pad wat ons gestap het van 1996 was nie maklik nie, maar die Here het ons so geseën met so ‘n vol lewe en sou ek nie tot my reg gekom het sonder Willie in my lewe nie.
Hy sal altyd in my hart bly voortleef en in ons kinders s'n.
Dit was vir my ‘n voorreg om Willie tot die einde toe te kon versorg.
Dankie dat ek my storie kon deel.
Louise Edwards