Hierdie pragtige jong vrou met haar kaal koppie het my beïndruk toe ek haar ontmoet het. Die lewe het al op 'n jong ouderdom met haar gebeur - en jy kan die groei wat dit in haar lewe laat plaasvind het in haar mooi oë raaksien.
Sy vertel haar storie vir ons.
My storie...
Ek is Linka Schoeman, 28 jaar oud en is in April 2008 gediagnoseer met borskanker.
Dit was 'n skok vir die sisteem. Dit kan mos nie met my gebeur nie!! Ek is te jonk en wat van my man en my kind?? Ek kan nie nou al dood gaan nie!!
Die dokter se woorde was letterlik soos yswater in my gesig - mastektomie, limpektomie, chemo & bestraling. WAT?
Eers wou ek net weghardloop - weg - ver weg!
En toe het die dokter gese na al die behandeling kan ek
'n nuwe bors kry en my lewe kan normaal voortgaan.
Toe hy dit vir my sê - het ek skielik lig in die tonnel gesien.
Net daar en dan het ek besluit dat dit wat met
my gebeur het nie die einde van die wêreld is nie - en nie my lewe gaan verander nie.
Glo my dit was moeilik, maar dit was die moeite werd!
Die operasie was baie seer, maar die nuus was positief.
Die hele gewas is verwyder en al die kliere onder my arm was skoon.
Ek het 6 weke na die operasie met die chemo begin. Dit was 6 maande van chemo wat vir my voorgelê het.
Die ervaring was baie moeilik. Dit is 'n naarheid en moegheid wat mens nie kan beskryf nie... Maar elke keer wat ek daar in die chemo kamer
gelê het en myself bejammer het, het ek mense gesien wat swaarder kry as ek.
Ek het besef daar is altyd iemand anders wie se omstandighede moeiliker as myne is en dat ek elke dag net moet dankbaar wees. Dit breek 'n mens se hart om jonk en oud so siek te sien...
Wat vir my die moeilikste was, is toe ek besef het ek nie meer na my man en dogtertjie kan kyk nie.
Dit was baie, baie moeilik vir my.
Ek was 'n "hands on" ma ek wou niks mis nie, maar die Here werk op snaakse
maniere...
Ek is klaar met chemo! Jippie!! Ek begin die 10de November met bestraling. Dit is elke dag vir 6 weke. As ek daar klaar
is kan my lewe weer voort gaan soos altyd. Glo vir my ek kan nie wag nie!!
Ek kan net dankie se vir my man Francois en my dogterjie Wiepke. Hulle het my laat opstaan in die oggend as ek nog wou lê. Hulle het my laat lag deur die dag as ek net wou huil en by my gelê as ek siek was.
Hulle het oor en oor vir my gesê : "Alles gaan Ok wees!"
Onthou cancer CAN BE BEATEN!!
Ek hoop met my storie kan ek vir ander mense 'n bietjie hoop gee.
Linka