Indien ek die bewoording korrek het, het ek eenmaal gelees: "If God brings you to it, He will take you through it", en presies daardie stelling som die laaste twee jaar van my lewe baie akkuraat op.
In September 2006 het ek my bevind in die spreekwoordelike "fleur van my lewe". Ek was baie gelukkig in my werk as Projekbestuurder by ‘n vooraanstaande Argiteksfirma in ons stad, my twee kinders was gesonde lewenslustige kleuters, daar was geen finansiele druk nie, en ek en my man het die voorreg van ‘n baie goeie vriendekring gehad. In retrospeksie was my huwelik nie presies die veilige hawe wat dit moes wees nie, maar op die oog af was daar ook nie fout nie. Ek het egter begin kla van ‘n seer nek, en op 3 November 2006 is ek na ‘n hele reeks van toetse, ondersoeke en ‘n nekoperasie op die ouderdom van 33 gediagnoseer met Limfoomkanker - stadium IV. Die kanker was versprei in my lewer, linkerbors en op nege plekke in my skelet. Eers sowat vyf maande later het my Onkoloog (vir wie ek oneindig baie respek het) se woordeskat woorde soos "lewensverwatging", "toekoms" en "kwaliteit lewe" ingehou.
Dit was ‘n geweldige skok, en my hele lewe is letterlik tot stilstand geruk. Dit was ook ‘n onseker tyd waarin ek nie bewus was daarvan dat een persoon gelyktydig soveel verskillende emosies kon ervaar nie. Onsekerheid, vrees, ongeloof, emosionele uitputting en selfs met tye eensaamheid.
In ‘n kwessie van sewe maande is ek deur vyf-en-twintig sessies bestraling (eers vyftien sessies op my nekwerwels, en toe ‘n verdere tien sessies op die sternum), asook ses reekse chemoterapie met vier sessies per reeks.
Chemoterapie is een van daardie dinge wat jy nie regtig vir iemand anders kan beskryf nie, behalwe om te bevestig dat dit regtig is soos al die dinge wat deur ‘n mens se kop flits met die aanhoor van die word "chemo". Gedurende die tydperk van behandeling was daar egter een ding wat my gedryf het om elke dag aan te gaan, al sou dit dalk ‘n makliker opsie gewees het om bloot net op te gee: my kinders. My oudste was vyf jaar oud (in Graad R), en my jongste slegs 18 maande. Dit het by my ‘n soort obsessie geword om hul lewens so min as moontlik te ontwrig, en ek het dikwels in die oggende self hulle by die dagmoeder en skool gaan aflaai, en dan aangemeld vir nog ‘n chemo-sessie, al was dit my derde dag in ‘n ry. In die tyd het die Here my egter geseen met ‘n geweldige ondersteunende familie, ouers wat hul hele lewe opsy geskuif het om my by te staan, en ‘n legion engele in die vorm van vriende en vriendinne. Twee het dikwels beheer van my huishouding geneem deur alledaagse take namens my te doen, ander twee het gehelp met my kinders as ek eenvoudig nie die krag gehad het nie, ‘n ander een was vir my ‘n rots op geestelike gebied, en nog een het ek gewoonlik verkies as ek net doodeenvoudig ‘n goeie huilsessie wou deurwerk. Ek vermoed ons twee het genoeg gehuil om die Vaaldam vol te hou vir ‘n jaar!
Ek kan ook nie aan daardie tyd terugdink sonder om hulde te bring aan die ondersteunende rol wat my werkgewer gespeel het nie. Gemeet aan die tempo van ons tipe werk dink ek in retrospeksie date ek tydens daardie tydperk nie veel werd was in die kantoor nie, maar vir my as persoon het dit oneindig baie beteken om werk toe te kon gaan. Al was dit dan net om bietjie weg te breek van spuitnaalde, newe-effekte, simptome en mediese toetse.
Alhoewel ek gedurende die tyd onrustig was oor my huwelik, en die manier waarop my man my ondersteun het (of nie ondersteun het nie) vir my vreemd was, was my oorlewingstryd en die welstand van my kinders vir my belangriker.
Middel Junie 2007 het ek my laaste behandeling gehad, en alles het weer rooskleurig begin vertoon.
Presies twee weke later het die tweede groot teleurstelling in minder as ‘n jaar my egter getref. My destydse eggenoot het my per brief gevra om ‘n egskeding. Wat die redes was wat hy aangevoer het is vandag irrelevant, maar die feit was dat hy nie meer verder in die huwelik wou wees nie. Dit was steeds totaal onverwags, en emosioneel en fisies was ek glad nie voorbereid vir so iets nie, maar weereens het God oorgeneem in my lewe en my van dag tot dag gelei. Dieselfde vriende wat soveel beteken het met die kankertydperk het weereens uit hulle pad gegaan om my en my kinders ook deur hierdie krisis te dra. Moontlik het God juis toegelaat dat ek Kanker kry om my te kon voorberei vir die egskeiding. Skielik was dit weer ‘n oorlewingsstryd, waarin my kinders steeds die eerste prioriteit was. Met baie genade en leiding van Bo is ek gelei in groot besluite, het die regte mense oor my pad gekom om raad te gee waar ek nie geweet het watter kant toe nie, en het ek daarin geslaag om binne ‘n relatiewe kort tydperk weer vir my en my kinders ‘n tuiste te skep waar ons veilig,, geborge en gelukkig kon wees.
Vandag, net oor die twee jaar later voel dit vir my asof my lewe weer op koers is. Ek geniet my werk terdee, is geseend met fantastiese vriende en familie, en my kinders is pragtige huppel-kinders, wat gegewe al die veranderinge en krisisse stabiel en gelukkig voorkom, en vir my baie vreugde gee. As gevolg van die groot genade wat ek ontvang het in die vorm van ‘n tweede kans op die lewe, het ek besluit om by Kansa betrokke te raak. So was ek bevoorreg genoeg om as "Survivor"-voorsitter op die uitvoerende komitee van die eerste Relay for Life in Polokwane te dien. In Oktober 2008 het ons ‘n uiters suksesvolle Relay aangebied, waaroor die gemeenskap lank gepraat het. Bo alles het ek egter nuwe vriende gemaak, kontakte opgebou, en die waarde daarvan besef om werklik vir ander mense iets te beteken, en betrokke te raak in die gemeenskap. Ek moet steeds kwartaalliks vir opvolgtoetse gaan, maar berus in die wete dat ek immers die Groot Geneesheer persoonlik ken.
Hoekom God toegelaat het dat al die dinge oor my lewe kom weet ek nie, maar miskien moet ek vra: Hoekom nie ek nie?". Ek is immers niks beter as die talle persone wat saam met my behandeling ontvang het, en intussen die stryd teen "die groot K" verloor het nie, of die mans en vrouens wat daagliks moet aanpas in ‘n lewe sonder ‘n lewensmaat as gevolg van dood of egskeiding. Die feit is egter dat sou ek self weer moes kies, ek moontlik dieselfde roete sou volg. Waar ek vandag staan kan ek onomwonde verklaar dat daar meer positiewe dinge as negatiewe dinge daaruit voortgespruit het. Ek poog om elke dag ten volle te leef, in dankbaarheid vir die groot genade wat ek ontvang het. Voor my le ‘n geseende lewe uitgestrek en in tye van teespoed weet ek dat my gertroue Vader my ook sal toerus om dit wat oor my pad kom te kan hanteer, en met my op pad is na ‘n blink toekoms. Hy belowe dit immers in sy woord: "For I know the plans I have for you" declares the Lord, "plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future". (Jeremiah 29:11)
Vir jou wat hier lees, en wat moontlik voor ‘n spreekwoordelike berg in jou lewe staan wil ek graag aanmoedig om een dag op ‘n slag te vat. Neem beheer van jou eie lewe, moenie bang wees om hulp te vra of te aanvaar nie, hanteer elke krisis soos hy opkom, en bo alles stap die pad in geloof, met jou hande stewig in Syne, en plaas elke dag al jou kommer en vrese aan sy voete neer. Hy beplan vir jou ook ‘n blink toekoms.
Jonita, dankie dat jy jou verhaal met ons deel, en dat ons so baie uit jou voorbeeld kan leer. Jy is vir my 'n inspirasie.