Narrative therapy is the therapeutic value to tell your story. I have a lot of respect for Jeanine who contacted me and asked if she could share her story on my website. It is Victor Frankl who said: "The last of the human freedoms is to choose one's attitude in any given set of circumstances." - This is definitely true of Jeanine, she share her story in her own words.
VAN TONE TOT WIELE
Hierdie is my storie en details van hoe my lewe verander het nadat ek deur "n ongeluk verlam is van my skouers af. Ek weet uit ondervinding dat as ek my storie deel, daar mense sal wees wat my jammer kry - maar dis nie my idee nie!
Ek is 'n kwadrupleeg en God se Genade elke dag is vir my genoeg - 1 Joh 4:4 "Julle behoort aan God liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin, omdat Hy wat in julle is groter is as die duiwel, wat in die wêreld is." My hoofrede hoekom ek die goed met julle wil deel is sodat mense kan besef wie Jesus is en deur God se Genade ons tot alles in staat is. Dat God nie siekte toelaat of laat gebeur nie, want Jesus het daarvoor betaal aan die kruis. Hoe geseënd elkeen van ons elke dag is, en hoe min ons daarvoor dankie sê.
En dan om mense te laat besef dat hulle elke dag van hulle lewens tot die beste moet leef en vir iemand moet sê as jy vir hulle lief is en vir hulle omgee- en nie kwaad uitmekaar moet gaan nie, want niemand weet of jy weer die geleentheid gaan hê om dinge reg te stel nie.
My lewe is betekenisvol, ten spyte van my gebrek, en ek leef nie graag in die verlede nie, omdat ek glo dat dit die hoofrede is vir baie mense se bitteheid en dit maak baie mense depressief. En daarvoor dank ek die Here dat ek sonder biiterheid en onvergewensgesindheid kan voortgaan.
Dan is daar ook die positiewe kant en dit is om te sien hoe mens deur moeilike omstandighede gevorder en gegroei het as mens. Ek deel graag my lewe en my huidige omstandighede met julle:
Na matriek het ek dadelik as tikster begin werk en studeer. Ek was getroud met twee seuns en 'n dogter en hulle is nog steeds vir my 'n groot seën. Ek moes leer om saam te leef met drank, emosionele en liggaamlike mishandeling - pornografie - en dit het my baie goedkoop laat voel. Ek het 'n vrees ontwikkel vir mense wat drink want drank verander mense en die vrees het my mal gemaak.
Ek het selfmoord oorweeg as die enigste uitweg. Mense dink mos dat die huwelik, dat liefde, 'n knoppie is wat jy druk, om jou ontevredenheid te laat verdwyn - 'n soort kitsoplossing vir jou probleme. Kinders word grootgemaak met die gedagte dat liefde is soos sangers en sepies dit voorstel - sentimentele onsin - en dat die huwelik 'n soortwondermiddel is. Ek het toe nog nie die Here geken nie, maar vandag is ek bly dat ek nie reggekry het om die sneller te trek of teen 'n pas af te ry nie.
Ek is geskei. Geluk is nie iets wat ek geken het, maar glo my, daar was geen tekort aan aardse goed in my lewe nie - 'n BMW, 'n dubbelverdieping huis en juwele wat baie vroue sou begeer het. - maar ek het grootgeword sonder liefde en respek in my lewe.
Ek het besef dat daar meer is aan die lewe - en my kinders het my hoop gegee vir die lewe. Op die 10/10/1999 het ek my lewe vir die HERE gegee, nadat my ma my gevra het om saam met haar op 'n vrouekamp te gaan. Dit was hierdie naweek wat ek besef het wat die gemis was -‘n verhouding met die HERE.
Dit was dié naweek wat ek gebid en vir die HERE gesê het, HY moet van my die mens maak wat Hy wil . Die Here het 'n totale make-over begin, "and I am still under construction".
My lewe het drasties verander - die Here was in beheer - en ek het in tien weke van werk verander, 'n polis uitgeneem met trauma-dekking, my testament laat optrek - en twee weke na dit alles - was ek in 'n ongeluk.
Ek het met die verandering van werk lid geword van 'n mediese fonds twee dae na die ongeluk. Die rente wat ek verdien op die geld wat ek belê het, het toe vir my as inkomste gedien. Die ongeluk het by my eks-man se huis gebeur. Ek het sy bakkie geleen om my seun na 'n vriend te neem en met die terugkeer by die hek gestop om dit oop te maak. Ek het die handrem opgetrek, terwyl die bakkie luier, maar nooit besef dat die handrem nie werk nie en die bakkie het teen 'n afdraande gestaan.
Ek het tot voor die bakkie geloop om in te klim en toe begin besef dat hy beweeg. Die bakkie het my teen my regteribbes getref, plat gestamp en opgefrommel tussen sy onderkant en die plaveisel. Gelukkig het ek nie my bewussyn verloor nie, en kon ek my kinders kalm hou, vir hulle lag en moed inpraat.....
Ek kon nie beweeg nie en ek het besef dat ek of totaal verlam gaan wees, of dat ek sal doodgaan. Daar het ‘n rustigheid oor my gekom, wat alle verstand te bowegaan, en ek het ‘n stem by my kop gehoor: "I will never leave you nor forsake you." Ek het besef die Here is met my. Terwyl ons vir die ambulans gewag het, wat ‘n drie-kwart-uur was, maar vir my soos ‘n ewigheid gevoel het, het ek letterlik versmoor aan die bloed in my longe. My ribbes wat gebreek het met die slag wat die bakkie my getref het, is deur my long. Met die rolslag onder die bakkie het my nek op 2 plekke gebreek en my rug op 3 plekke.
Die rit in die ambulans kan ek glad nie onthou nie. Ek was na die naaste hospitaal geneem wat 15min se ry was van waar die ongeluk gebeur het. Ek was na Eugene Marais Hospitaal se trauma eenheid geneem, waar ‘n sekere dr. Bruwer leterlik my lewe gered het. Later het ek uitgevind dat hy nie eers by Eugene Marais Hospital werk nie. Met die besturing van God was hy die longspesialis wat by die hospitaal was die aand met die ongeluk.
Ons moes ‘n deposito van R10 000 kontant of met ‘n bankgewaarborgde tjek betaal. Wel ek het dit nie gehad nie, en ook nie iemand geken wat so 'n groot bedrag kontant sou hê nie. Dr. Bruwer het gesê dat hy dit sal betaal maar hy stuur my nie HF Verwoerd Hospital toe nie. Die dokter wat oor my aangestel is, het my gelos tot die Maandag, 17 Januarie 2000, want hy het gereken dat niemand so 'n ongeluk kon of sal oorleef nie.
Die Maandag 17 Januarie 2000 het hulle ‘n fusie op my nek gedoen met been uit my heup en 'n plaat en skroewe. Die 22ste Januarie, is ek deur 'n ander dokter teater toe geneem, en onder narkose gesit, maar is toe net so teruggestuur, omdat my rug te vol skaafwonde was. Die 24ste Januarie het hy my rug geopereer en dit baie duidelik gemaak dat ek op geen ander manier sou kon sit as hy nie my rug met plate en skroewe gestut het nie. Twee dae later is ek weer teater toe vir my longe.
Ek was vir vyf en ‘n half weke in ICU aan masjiene gekoppel, met binne-aarse voeding. Dit was ‘n kits dieët - nie dat dit in my beplanning was om gewig te verloor nie!! Na die ongeluk is ek verlam van my skouers af onder toe, sonder enige gevoel of sensasies van my skouers af. As gevolg van die feit dat ek verlam is, kan ek geen spiere gebruik nie; wat beteken ek haal baie oppervlakig asem. Ek kan nie spoeg nie - ek kan nie hard skree nie - ek kan nie hoes nie - ek kan nie nies nie. My totale beweging is dus my nek en arms tot by my gewrigte, want ek kan ook nie my vingers gebruik nie. In die geval waar ek ‘n verkoue of griep sou opdoen, moet iemand my maag spiere druk sodat ek kan hoes en die kanse vir hospitalisasie is dan baie goed. Iemand moet my maagspiere druk sodat ek my neus kan blaas. Die kanse vir infeksies is ook baie groot soos byvoorbeeld longonsteking.
Omdat ek nie kan voel nie moet ek streng volgens ‘n roetiene te werk gaan om my dikderm te ledig en ook my blaas. Hulle aanbeveling is dat gestremdes soos ek, elke drie tot vier ure gedraai moet word, deur die nag. Ek loof en prys die Here ek slaap al agt jaar op my rug sonder om te draai. Ek het nog nie ‘n drukseer ontwikkel as gevolg daarvan nie. My bloed sirkulasie is baie stadig, wat kan veroorsaak dat ek baie vinnig aan hitte-uitputting of verkluiming kan doodgaan.
Die sister by die spinale eenheid het gesê ek sal rolstoel-fiks moet word. Ek het by myself gedink; sy weet nie waarvan sy praat nie. Ek het fiets gery en sou die Argus gaan ry het. My inskrywingsgeld was reeds betaal. Inskrywingsgelde wat betaal is van fietsryers wat nie opdaag nie - gaan aan gestremdes.
Wel, toe hulle my oplig om my in die stoel te help, het ek flou geword, en toe ek tot my sinne kom, het ek met ‘n geweldige skok besef dat ek kan nie eers regop in die stoel sit nie. Hulle moes my "vas-strap" Ek het nog op daardie stadium ‘n nekstut en rugstut gedra en dit was baie ongemaklik. Ek het vir weke daarna gesukkel met my balans en het kort-kort flou geword. Dit was baie uitputtend aan die begin. Ek kon nie langer as 10 minute sit nie. Om so verlam te wees voel soos om aan jou nek opgehang te wees.
Ek kan nou al die hele dag in die rolstoel deurbring en het baie meer balans. My nek en skouers word nog steeds seer, en dit is al nege jaar. Die verlamde deel van jou liggaam voel soos ‘n ton wat jy aan jou skouers moet rondbeweeg. My grootste skok was die eerste oggend in die gym, waar almal onbyt gesit en eet het. Party moes gevoer word, en ander soos ek moes met handskoene eet. Die handskoen is om die vurk en mes in te druk sodat jy dit kan gebruik. Almal hang pap en skeef in hulle stoele en ek het besef - dit is presies hoe ek lyk.
As deel van rehabilitasie, nadat hulle besluit jy is reg daarvoor, stuur hulle ‘n mens vir ‘n dag op ‘n slag huis toe. Dan besluit hulle of jy sal kan "cope" of nie. Dit was vir my ‘n ontsettende skok - ek het rondgeval voor in die kar soos 'n lappop.
Toe ons by die huis stop, moes ons weer voor daardie selfde hekke stop, en met genade van die Here kon ek dit vinnig verwerk. Binne in die huis het ek besef - ek kan nêrens beweeg sonder hulp nie. Elke vertrek in die huis het trappies gehad. Om vrede te maak met jou omstandighede vat baie, baie genade van die Here, en tyd. Sonder die Wapenrusting van die Here (Efs. 6:10-20 ) sou ek in ‘n baie diep gat van depressie beland het. Die besef dat ek amper niks kan doen nie, maak ‘n mens nogal "useless" voel. Al het ek grappe gemaak oor alles wat met my gebeur, was ek verpletter...........
Na my eerste dag uit, wat ek toe ‘n hele naweek gemaak het, het ek vir my ma gesê, as sy my in Weskoppies kry, moet sy my terugvat hospitaal toe. In daardie "rehab" eenheid maak of breek hulle jou. Daar het hulle geen genade nie en doen en maak jy soos hulle sê. Daar het hulle nie ‘n saak met hoe jy jou toestand of omstandghede verwerk nie. ‘n Mens sien nou en dan ‘n sielkundige. Ek glo dat elke mens die goed op sy eie tyd en manier maar moet deurwerk. Ek is en was ‘n mens wat as ek ‘n ding begin moet ek dit so gou en goed as moontlik ook klaarmaak.
Tyd is besils nie ‘n faktor in daardie eenheid nie. In daardie eenheid besluit jy of jy die lewe met durf gaan aanpak of nie. Ek het besef dat as iemand daar besluit die lewe is nie meer die moeite werd nie, is dit ‘n kwessie van tyd voor die dood voor jou deur staan.
Alles wat ‘n gestremde vir die eerste keer aanpak glo ek is vreesaanjaend, en voel jy moedeloos. ‘n Verlamde mens moet basies deur dieselfde rouproses werk, as iemand wat ‘n geliefde aan die dood afstaan. Jy rou oor die dood van jou liggaam.
Die swaarste ding om deur te werk, is die feit dat jy GEEN privaatheid of onafhanklikkheid meer oor het nie. Ek is nou afhanklik van ander mense. Ek het iemand nodig om my in die bad te sit, en uit te haal. Ek het iemand nodig om my te help om my derms te ledig.
Ek het iemand nodig om my winkel toe te neem. Ek het iemand nodig om my kind rond te ry. Ek het iemand nodig om my te help kos kook en die huis skoon te maak. Om so afhanklik te wees van mense, is uiters verstreerend en partymaal vreesaanjaend. Maar ek het hierdeur geleer - dit is hoe afhanklik ons van God moet wees. Sonder Jesus is ek niks en tot niks instaat nie.
Na die ongeluk het ek by my ouers gebly. My verhouding met my pa was nie baie goed nie. Ons het kort-kort argumente gehad oor goed in die verlede. Ek was op daardie stadium baie afhanklik van my ma. Sy was al een wat my toe nog gehelp het, van na die ongeluk af. My ouers se verhouding was op die punt van ‘n egskeiding.
Glo my of jy nou 4 jaar, 14 jaar of 40 jaar is, dit maak seer, en het my gebreek om hulle te hoor baklei. My seuns het 6 maande na die ongeluk besluit om terug te gaan na hulle pa toe. Ek was totaal verpletter, na siel, gees en liggaam, en het geweldig alleen gevoel.
My broer (nou oorlrde) en suster het hulle ook tot vandag toe van my onttrek. My boetie is die 15 Nov 2005 deur krag doodgeskok. Ek het in die tyd ‘n baie nou verhouding met die Here opgebou. Die Here was my enigste vaste anker in die lewe. Aan die ander kant het ek geleer dat my rolstoel is die enigste "ding" is tot my onafhanklikheid, waar ‘n nie-gestremde die stoel sou sien as hulpmiddel.
Dit is vir my belangrik om te alle tye goed versorg en netjies te lyk - ek was ook so voor die ongeluk. Dit gee ‘n mens ‘n mate van sekerheid. Ek sal vir geen rede my gestemdheid gebruik om misbruik te maak van ‘n situasie of omstandighede nie, en beslis ook nie om slordig te wees nie. Ons liggame is die enigste wat lewenslank deel is van ons. Al wou ons al ontslae raak van hulle, en al is ons nooit tevrede met hoe ons lyk nie. Jou liggaam is altyd daar vir jou. As ek enige iemand so sleg moes behandel soos ek soms my liggaam behandel het, sou hulle my lankal gepos het.
Kyk na jou liggaam want dit is tog die temple van die Heilige Gees. Omdat ek verlam is, beteken dit nie dat ek nie ook nog steeds soos enige iemand anders ook mooi wil lyk, drukkies wil hê, en liefgehê wil word nie. Ek het nog steeds die behoefte om normale goed te doen: soos uiteet, inkopies doen (ek bly maar vrou), kuier, en al die tipe goed. Al verskil is - ek het hulp nodig.
Die goed wat ek die meeste mis is - my privaatheid - om spontaan my arms om iemand te sit en ‘n drukie te gee - veral my gesin en familie. Om my vinger na iets te wys wat mooi is, of om vir iemand te waai. Om te lag totdat my maag pyn. Ek mis dit om my kinders se verjaarsdagkoeke te bak, en om vir hulle kos te maak. Ek mis dit om gou in die kar te klim om iets te gaan koop. Niks in my lewe is nou meer gou nie! Ek mis dit .....die lys is oneindig!
Die voordele van my gestremdheid is dat ons stop die naaste aan winkeldeure. Mense weet ek het tyd om te luister. My verhoudings met mense is kosbaar. Meeste van ons hoor maar luister nie en dit is waar die meeste van ons verhoudings skade ly. Tyd vir ander is ‘n geskenk wat ek nou het! Ek het alles in die lewe gehad. Ek was in die fleur van my lewe. Ek het ‘n werk gehad, my kinders, my ouers, ‘n gesonde liggaam, genoeg geld, ‘n kar, 'n huis, maar soos die meeste mense, was ek ondankbaar! Ek was altyd gou om al my probleme raak te sien, in plaas van al my seëninge. Vandag besef ek hoeveel ek het om voor dankbaar te wees, al is ek ‘n kwadropleeg, en al het ek geen privaatheid nie, het ek besluit om positief te wees en die meeste van elke dag te maak. Ek het besef ek is nog ‘n vrou vir my man, 'n ma vir my kinders, ‘n kind vir my ouers en ‘n vriendin vir baie.
Ek is geseën met ‘n goeie brein, ‘n stem, en ‘n glimlag. Ek is nou net baie ryker in gees en persoonlikheid omdat ek al geestelik en liggaamlik swaar gekry het in my lewe. Ek het geleer dat dit ‘n voorreg is om te kan werk en jou eie geld te kan verdien. Maar wat meer waardevol is, is die feit dat al die geld in die wêreld nie my arms of bene kan teruggee nie. Dit kan net my Hemelse Vader doen!
Ek wil u graag ‘n uitdaging stel - stop vir ‘n paar minute en dink net hoe geseënd jy is. Probeer om elke negatiewe gedagte met'n positiewe gedagte te vervang. God gee ons in Sy woord - die volle wapen rusting om onsgeestelik mee te klee. Trek dit elke oggend aan en kyk hoe verander jou gesindheid (Efe. 6)
Jy sal verstomstaan as jy besef hoe mooi die lewe weklik is. Die lewe gaan maar oor besluite wat jy maak. Ek daag jou uit om vandag ‘n besluit te maak vir Jesus! As jy dit besluit, sal jy nooit spyt sal wees nie. Daar is nie plek in my lewe vir bitterheid, kwaad, depressie en al daardie negatiewe goed nie. Dit lei net tot jou eie ondergang.
Ek het geleer dat die lewe gaan oor jou houding! Jy kan besluit! En om in ‘n waarlike verhouding met God te staan kan vir jou ‘n nuwe wêreld oopmaak. Hoe meer jy insit - hoe meer kry jy daaruit. Ons het nie altyd beheer oor wat met ons in die lewe gebeur nie, maar ons het beheer oor hoe ons dit gaan hanteer. Die een ding wat jy kan beheer en wat niemand by jou kan wegvat nie, is jou houding! Jy kan besluit - BETER of BITTER . Elkeen is verantwoordelik vir sy eie geluk. Om gelukkig te wees en die lewe te geniet - is jou keuse.
Ek wil graag elkeen wat die getuienis lees bemoedig.... Maak gebruik van elke geleentheid - want more mag dalk nie joune wees nie!
En ek glo dat ek weer gaan loop! My God is groter as my krankheid.