Elma du Plessis

I met this wonderful Lady in Ellisras, with her baby daughter on her hip - and with so much to say in her beautiful eyes...............

She received her award and with tears in her eyes, and told me that the flowers she received will go on the grave of her three children.

She is an overcomer by the Grace of God - she says.

Read her story she wrote.

Ek en Philip is in April 1984 in Rustenburg getroud. Hy was ‘n vakleerling by Highway Engineering en ek het by Pelindaba gewerk.

Met die geboorte van my seun Martin is ek nie terug werk toe nie en het ma-wees baie geniet. As kind was Martin baie lief vir buitespeel en het tot laat buite met sy hond TJ gespeel.
Twee jaar later was Hein gebore en hulle was groot maatsvan die begin af. My dogter is vyf jaar later gebore en ek het lekker pop gespeel. Ons was as gesin ‘n hegte eenheid en baie lief vir mekaar.

As ouers was ons bevoorreg om drie pragtige kinders te kon grootmaak en ons hele lewe het om hulle gedraai. Maats het eerder by ons kom kuier as wat die kinders uitgeslaap het en hulle was as tieners lief vir die lewe!
Martin was die rugbyspeler en in St 5 is hy ‘n koshuis en skool- beurs aangebied vir verre noord rugby. Martin het watersport gedoen en Nadine het model-geloop en baie keer gewen.

In 1995 bedank my man by die myn en ons begin op Ellisras ‘n Propshaft en CV Centre.
My man het hard gewerk en is ‘n baie suksesvolle sakeman en het die kinders bederf met die duurste speelgoed en kon dan net so lekker saamspeel.

Dit het met ons baie goed gegaan en ons het naweke gaan kamp, bootgery, geski en die lewe geniet. Ons was as ‘n gesin baie gelukkig saam.
Op 15 Junie 2002 het ons as ‘n gesin se lewens amper totaal inmekaar getuimel....
Martin het in ‘n verhouding betrokke geraak met ‘n meisie genaamd Cindy en na ‘n jaarlange verhouding het hulle na ‘n bakleiery die Vrydagaand, uitgemaak.

Die volgende oggend het hy niks gesê nie maar is toe saam met sy pa en Hein werk toe waar hy aan sy bakkie gewerk het - ‘n ou bakkie wat hy heeltemal van voor af opgebou en oorgedoen het.
Toe hy die bakkie gaan toetsry, het iets met die remme verkeerdgegaan, en hy stamp toe die bakkie.
Hy het die bakkie net daar gelos en huistoe geloop. Ek was besig om modelklere vir Nadine te maak, en het hom nie gesien nie.

Hy het agter die motorhuis selfmoord gepleeg en ek het later op hom afgekom en vir Philip en die ambulans gebel.
Hy het geen briefie gelos of iets gesê oor hoekom hy dit gedoen het nie. Die skok was net te groot vir ons almal en Nadine het nooit weer modelgeloop nie.
Dit was baie moeilik - die hartseer, depressie, die seer, die agressie en magteloosheid - en ons het maar aangegaan met ons lewens want ons moes.

Op 13 Oktober beland ek in ‘n motorongeluk en breek albei my knieë met ‘n lang sny oor my kop, maar ek lewe.
In Februarie 2004 koop ons die plaas en toe het alles beter gegaan en dit was soos manna uit die Hemel
Almal was weer geïntereseerd in die nuwe stokperdjie
Op 19 Junie 2005 sou Hein en Philip gaan motorfiets ry het, want vandat ons die plaas het is daar nie meer naweke tyd om te gaan kamp of bootry of ski nie - dit is net plaas-plaas.

Dit was Vadersdag en net voordat die kinders sou ry, het hulle vir hulle pa sy geskenkies gegee. Nadine het vir haar pa die mooiste handgemaakte kaartje gegee wat sy self gemaak het. en Hein het hom vasgedruk en gesoen en vir hom vertel hoe lief hulle vir hom is en dankbaar is vir alles wat hy vir hulle doen.

Hulle het my gegroet, en die twee laggende kinders is daar weg - ek sal nooit daai glimlagte vergeet nie.........
Omtrent vyftien minute later lui my selfoon en dis Cindy wat met Martin uitgegaan het. Sy het op die ongeluk afgekom en vra dat ons gou moet kom, maar dit was te laat want albei my kinders is uit die voertuig geslinger en is albei is opslag dood.

Al wat toe oorbly is ons twee en die groot gat tussen ons wat te groot was om te begryp. Daar is niks seerder as om jou kind aan die dood af te staan nie ........en ons moes drie afstaan.
Ek kan net dankie sê vir ons Hemelse Vader want was dit nie vir Sy krag en Genade elke dag nie- sou ons dit nie tot hier gernaak het nie. Ek en Philip het baie nader aanmekaar gegroei.
Die teenoorgestelde kon gebeur het, wat baie gebeur.......maar ons is baie lief vir mekaar en waardeer mekaar meer as voorheen en daarvoor kan ek net vir die Here dankie sê.

Ons is altwee baie lief vir kinders en sou graag die leemte wat daar nou in ons lewens was wou vul met 'n hartjie wat warm klop en die voetspore van 'n mensie.
Party dae kan ek nie glo ons is al in 2007 nie en dat die tyd so vinnig aanbeweeg nie. Soos my ongeluk dit wil hê, het ek 'n historektomie gehad net voor Martin oorlede is
Ons het 'n serrogaat moeder gekry en vier keer probeer maar sonder sukses,
Elke keer waar ek in my storie - wat terloops nie maklik was om neer te skryf nie - die woordjie "lief"geskryf het, het daar op die skerm "life" gestaan. Dalk wou die rekenaar vir my iets van ......"the beginning of a new life" .....uitspel?
‘n Jaar later het ons gedink dat daar niks meer sal kan gebeur nie en dat ons maar alleen oud sal word.
Desember 2007 gaan ons Namibië toe en daar in die vlaktes neem ons die besluit om ‘n baba aan te neem en toe het ons weer begin bid.

In Februarie 2008 doen ons aansoek by die CMR om ‘n kindjie aan te neem, en uit die bloute bel iemand in Mei wie ons glad nie ken nie en vertel van ‘n mamma wat haar kind nie gaan kan versorg nie, en dat sy goeie liefdevolle ouers soek vir haar baba wat nog gebore moet word.

Die CMR het saamgewerk en op 28 Augustus is Makayla gebore en sy bring net vreugde. Sy het nie een van die ander drie se plekkies in ons lewe kom vat nie - sy het haar eie plekkie.

Deur alles wat ons deur is, kon ons al baie mense help - al is dit net om te luister of raad te gee.......
Dit wat ons deurgemaak het is moeilik om oor te vertel - dis net die Here wat verstaan en Sy Genade wat ons gedra het - en dalk iemand wat dieselfde pad gestap het..........

Dis seker van die moeilikste dinge wat in iemand se lewe kan gebeur.

Liefde
Elma du Plessis