Barbara Oberholzer

I gave this unique woman - who just does not allow life to get the better of her - recognition when I presented my programme at the yearly congress of the VLU in Bloemfontein in August.
As you read her story she sent me, you will see why this woman is just such an inspiration to me and many others.

(The story is in her own words in Afrikaans)

Liewe Sonja

Dit is vir my 'n baie groot voorreg en eer om deel te wees van jou program in Bloemfontein. Die dag wat my Uitvoerende Bestuurslid my gebel het, was ek eers huiwerig maar later het die "spirit my gemove" en het ek besluit om deel te neem. My gesin was uit hulle velle en sê toe net "mens is spyt oor die dinge wat jy nie gedoen het nie!"

Maar voordat ek jou vertel van my seëninge, wil ek eers vertel toe ek in die laerskool was, het ek en my maatjies besluit ons gaan lede word van die Sonja Herholdt-klub. Ons het skryfpapier gekry van die klub af en ek onthou dit was so 'n blouerige foto van jou regs bo in die hoekie. Ek het al jou plate nog steeds vandag en ons het op die mat, plat op ons magies voor die plate speler gelê en heerlik al die liedjies uit ons koppe saamgesing. Ai, good memories!

Wel, ek en my man het 20 jaar gelede getrek van Pretoria af Welkom toe. Hy is 'n tandarts en ek sy Mondhigiënis. Ons het albei in Pretoria grootgeword, daar op Tukkies studeer en besluit ons wil ons kinders in 'n klein plekkie groot maak. En ons is soooo gelukkig hier in die Vrystaat.

12 jaar gelede terwyl ek vir die Argus fietswedren geoefen het, voel ek, ek voel nie so lekker nie. Ek ontdek toe 'n klier in my lies en na biopsie die vreeslike nuus, dis klierkanker - Non Hodgkins Limfoom. Inisieël was dit 'n groot skok, maar die Dr was baie positief en sê behandeling is goed en ek sal 10 jaar nog kan leef! Na die eerste 12 chemos en kaalkop was ek skoon vir 6 maande en toe weer kliere. Ons was verpletter. Maar staan toe op en kry weer chemo. Daarna was ek 2 jaar skoon en toe weer terugslag. Vir die afgelope 12 jaar het ek al 6 terugvalle gehad. Dit is maar 'n skok elke keer maar ek vat die chemo want ek weet dit help my!
Kyk, daar is dit al 12 jaar en nie 10jaar, soos die dokter voorspel het nie.

Ek is nou weer besig met chemo en moet Januarie vir die eerste keer vir bestraling gaan .Dit is nogal sleg want ek sal moet 6 weke in Bloemfontein gaan bly. Ek moes eintlik nou gaan, maar my kind skryf nou matriek, en hy is een van my belangrikste prioriteite nou. Volgende jaar is hy op Universiteit en dan kan ek gaan!

In die begin het ek in die bed gelê maar my kinders was klein, Kasper was 5 jaar oud en Phillip 7 en Nadia 12, en dit het hulle ten gronde geslaan.
En met die volgende chemo het ek net aan die gang gebly, masker opgesit, sodat hulle nie moet sien hoe siek ek is nie.
In die tyd is daar 'n kind in die skool aan kanker oorlede en dit het my kinders nogal geruk en 'n paar jaar daarna, een maatjie se mamma.
Deur hul vrae was daar baie onsekerheid, en dit moes seker vreeslik vir hul gewees het. Ek het 'n ongelooflike ondersteunende man wat vir my die wêreld beteken. Hy sal letterlik enigiets vir my doen. Van al my seëninge, is hy my grootste seën. Ek het in my lewe al 'n paar foute gemaak, maar om met hom te trou was nie 'n fout nie!!

Die chemo is maar 'n groot gif. Behalwe dat dit die kankerselle vernietig, het dit my hart aangetas, want ek drink pilletjies en moet na my behandeling vir 'n klein chirurgiese behandeling in Sandton gaan. Maar moenie dink dit kry my onder nie.

Ek het 'n groot lus vir die lewe. Hoe meer dinge ek kan doen, hoe meer dinge is daar vir my om te doen! Behalwe om saam met Kobus in die praktyk te werk, was ek voorsitter van Jubileum VLU tak die afgelope 7 jaar. Ek neem aktief deel in artikels veral die kongres-artikels.
Ek is mal daaroor om te swot. Ek het myself bekwaam as beoordelaar vir die VLU en dit het 6 jaar geneem. Ek is nou onlangs gekies om paneelbeoordelaar te wees. Dit is 'n groot eer!! Die VLU is die huisvrou se Universiteit waar ons baie leer en ekself gee graag demonstrasies en praatjies om vroue te verryk.

Tussendeur het ek en my man valskerm gespring, ons scuba duik al 14 jaar, ons ry ernstig 4 wiel motorfietse ( ons het vanaf Durban tot in Johannesburg gery vir 4 dae saam met Quads for Quads) en ons het al 4 keer die Argus gery.
Ons geniet watersport soos ski en onlangs moes ek my skipperslisensie geslaag het om jet-ski te kan ry. Ek en my gesin is behoorlik geseën om die lewe voluit te kan geniet.
So nou en dan kry ons 'n hobbel in die pad, maar dan vat God ons hande en help ons daaroor.

Ek is ongelooflik positief oor my kanker en ek glo dis dit wat my so ver gebring het.
Baie mense weet nie eers hiervan nie want in die begin het die mense my baie jammer gekry en dit het my moedeloos gemaak. Ek glo ek sal hierdeur kom. En kyk ek is al 12 jaar gespaar, baie meer as wat meeste kankerlyers kan getuig vandag.

Wanneer ek volgende jaar vir die bestraling gaan, het ek gewonder wat gaan ek heeldag daar doen. Ek kan nie heen en weer ry nie, dis 200 km en ek gaan nie siek wees nie. Mens kan net soveel in winkels rondloop!
So ek het ingeskryf vir my BEd graad by Unisa. Ja, ek gaan deur die pos vir jufrrou swot, gr 4-9 en dalk 'n skool daarna begin met extra wiskunde klasse. Dis 'n groot behoefte hier by ons!!

En tussendeur bak ek verjaardagkoeke.
Ek erken ek het te veel kreatiwiteit - en ek moet uiting gee daaraan, anders sal ek ontplof.
Ek het ook nou net 'n fotografie-kursus voltooi en ek wil net sê dit was amazing. Ek kyk nou met ander oë deur die lens van my kamera. En dan kan ek speel-speel dit verander op my rekenaar. Ek is mal daaroor om die koeke en fotografie met die rekenaar te kombineer want die rekenaar help my om kreatief te wees.

Behalwe die goed, het ons 'n nuwe stokperdjie, Geocaching. Dit is skatte wat regdeur die wêreld weggesteek is, dan gaan kyk jy op die internet en met behulp van jou GPS spoor jy die skatte op, ruil 'n geskenkie uit die blikkie en gaan terug op die webwerf en skryf jou log in. In Gauteng is daar oor die 300 skatte! Dit is amazing.

Kan jy sien ek het nie eintlik tyd om siek te wees nie. Ek leef my lewe voluit.
En ek doen alles tot eer van God. God is nie 'n prioriteit in my lewe nie. God is my God en my lys van prioriteite begin onder Hom. Alles begin by Hom.
Ek glo en vertrou volkome in Hom en daarom gaan dit so goed met my.
As ek die dag siek is van bv blaasinfeksie, gee ek dit aan God en Hy genees my. Ek is soooo blessed.

En, ja, as my storie 'n inspirasie vir een vrou sal wees, sal ek tevrede wees.

Barbara Oberholzer