I was priveledged to give her recognition in my programme for being such an inspiration to other women in the way she handled her circumstances.
She lost her husband and had to learn to become independant and cope alone. The way she did is inspiring....
Thank you Ansie for sharing - in your own words - your story with us. You are a blessing...
Donderdag die 15de Februarie 2007 was `n doodnormale dag.
Ons staan op en volg die dag se roetine en gaan skool toe.
Ons albei was onderwysers by Gelofte Skool in Pinetown. Abri, my man, was `n taalonderwyser by die hoërskool en ek is by die laerskool.
Alles saam in dieselfde gebou. Jy kan maar sê dat ons 24 uur saam was.
Om 2uur daardie middag, net voor huistoe-gaan- tyd, kom roep Abri se kollega my.
Abri het in die klas inmekaar gesak. Hy het `n steekpyn in sy kop gekry en is dadelik na `n siekekamer geneem. Hy het erge hoofpyn gehad, was naar en sy kleur was iets tussen geel en grys. Hy was onvas op sy voete en reeds bietjie deurmekaar. Met hulp het ek hom in die motor gelaai en was oppad na die naaste dokter. Die dokter gee hom `n inspuiting vir migraine. Ek ry vir wat ek kan om by die huis te kom.
Ons sukkel teen die trappe af tot in die huis. Hy verklee met moeite en val op die bed neer en slaap dadelik.
Om 10uur daardie aand bel ek die dokter. Abri lyk nie goed nie. Die dokter stel my gerus. Abri slaap en slaap en wil nie wakker word nie. Die volgende oggend was hy in `n koma. Ons bestel `n ambulans. Abri word in R.K.Khan hospital opgeneem. `n Staatshospitaal waaroor ek nie eintlik wil praat nie. Daar word `n Catscan geneem.
Terwyl ons vir die uitslag wag, bel ek die dokter en vra hom om iets te doen sodat Abri na `n ander hospitaal oorgeplaas kon word. Hy kon egter niks doen nie, maar as daar iets ernstig fout is, sal hul hom oorplaas, het hy gesê.
Ek en my twee kinders, Cobus en Mari, wat nog by ons in die huis was, het saam gebid. Die uitslag kom dat dit `n anurisme is. Hy word dadelik na Albert Lethuli hospitaal oorgeplaas. Dit was die eerste wonderwerk in hierdie verhaal.
Ek het saam met die ambulans gery terwyl my kinders agterna kom. Ek was baie moeg en wou net vir `n paar minute my oë sluit, toe die Here vir my `n visioen gee waar Abri op God die Vader se skoot sit. Hy het soos `n baie klein ou seuntjie gelyk. `n Algehele vrede het oor my gekom omdat ek besef het dat my man absoluut veilig in God se hande was!
By die Albert Lethulie hospitaal het die dokter die plate van Abri se brein met ons bespreek. Dit het nie goed gelyk nie.
`n Tweede wonderwerk het plaasgevind. Abri het die hospital gehaal, 24 uur nadat die bloeding op sy brein begin het. Volgens dié dokter haal `n derde van die pasiente nooit eers die hospitaal nie. Sy toestand was baie ernstig. My getroude dogter, Lize en haar man, Charles was ook op pad vanaf Pretoria.
In die byna `n maand wat Abri in die hospitaal was, het hy drie breinoperasies ondergaan.
Ons het `n hele paar wonderwerke sien gebeur wat gebedsverhoring was. Ek het voortdurend die Here gevra om Hom op bomenslike en bonatuurlike maniere aan die dokters te kom openbaar want hulle was nie almal christene nie. Dit was `n baie spanningsvolle tyd.
Vyf dae voor sy dood kon hy vir die heel eerste keer weer met ons praat want hy was die hele tyd op `n longmasjien. Die grootste wonderwerk vir ons was dat na nog `n reeks toetse wat gedoen was gedurende hierdie tyd, het dit geblyk dat hy nooit `n anurisma gehad het nie! Die dokters kon net eenvoudig nie vasstel waar die bloeding vandaan kom nie. Die feit dat die catscan `n anurisma gewys het, het veroorsaak dat hy na `n baie beter hospitaal al oorgeplaas kon word.
Drie dae voor sy dood het Abri vir my en ons kinders gesê dat hy nou na sy "ander huis" gaan. Ek het presies geweet waarvan hy praat, maar toe ons by die hospitaal uitstap, het ek dit heeltemal vergeet. My brein het dit eenvoudig uitgeblok.
Die volgende dag was daar groot agteruitgang. Die dag daarna was hy weer in `n koma.
Op 12 Maart 2007 word sy aardse tentwoning afgebreek en vertrek hy na sy ewige tuiste, die hemel. Dié plek waarheen hy so graag wou gaan. Ek en Abri het baie in ons lewe oor die hemel en die lewe hierna gepraat. Dit was vir ons belangrik. Nie een van ons is bang om dood te gaan nie want ons weet waarheen ons gaan.
Na Abri se dood moes ons aanpassings maak. My seun is Johannesburg toe verplaas. Ek en Mari het alleen agtergebly. Sy was in haar tweede jaar op universiteit. My verantwoordelikhede het skielik enorm geword. Ons moes leer om mansdinge te doen en om soos `n man te dink. Glo my, dit was nie maklik nie, maar ook nie onmoontlik nie. Ons moes self die probleem oplos as die swembad `n probleem het, of as Mari se Uno nie meer wou ry nie. Skielik het `n magdom probleme op ons pad gekom.
Al wat ek weet as ek nou na net meer as twee jaar terugkyk, is dat die Here vir jou sorg. Maar dan moet jy hom daarvoor vertrou.
Ek het baie keer in die nag met Hom gepraat en gevra dat Hy asseblief net die regte persoon op my pad moet stuur om `n probleem te help oplos.
Hy is waarlik so getrou! Vertrou Hom net met jou lewe en Hy sal sorg.
So belowe die Here dit vir ons in Sy Woord in Jesaja 54 waarin Hy sê dat Hy nou my man is. En waar op aarde wil jy dan nou `n beter man kry as die Here self? Hiermee wil ek elke alleenlopende vrou kom bemoedig. Hou net vas aan Hom en al Sy wonderlike beloftes in Sy Woord.
Die Here het nie my man gesondgemaak soos wat ek gehoop en gebid het nie.
Nee, maar met Abri se roudiens - hy is veras - het `n hele paar skoolkinders tot bekering gekom. Hierin kan ons Hom net loof en prys en eer. Dit maak alles die moeite werd.
Abri het altyd die skoolkinders bemoedig deur vir hulle te sê dat hulle wenners is.
Wel, dié keer was hy die wenner wat die wenpaal gehaal het.
Ansie Griesel.