Annemarie Buitendag

In May 2009 we gave recognition to an amazing woman, principal of Bastion Laerskool in the Western Cape. If you speak to the teachers about her, they all have the greatest respect for her. She always has a listeneing ear, despite her own problems.....

She is an unsung hero, an overcomer, and someone who deserves to be recognized as an inspiration to others.

I asked her to share her life story with us.

Ek weet regtig nie waar om te begin met my storie nie.

Ek begin maar in Desember 1999 toe ek, my man en ons 2 pragtige dogters oppad vanaf Sabie was, en ek 'n groot knop in my regterbors ontdek het. Dan moet ek vertel van die angs, die kort-kort voel of dit regtig nie net 'n spier is nie en die uitstel om dokter toe te gaan.

Dan sit jy voor jou huisarts en sy sê vir jou om nie emosioneel te raak nie omdat baie vroue knoppe in hulle borste het. Naaldaspirate en sonars wys nie veel nie, maar ek dring aan op 'n tweede opinie en die chirurg beveel 'n biopsie aan.
Op my verjaarsdag 26 Februarie 2000 kry ons die uitslag------- borskanker wat reeds versprei het. Wat doen jy? Jy huil vir 2 weke, vra hoekom jy? Raas met God, want jy het nog twee jong kinders en 'n wonderlike man.

Dan begin jy bid, elke oomblik praat jy met God en besluit self om saam met Hom te veg en vrede te maak met jou lot.
Na die operasie was daar baie komplikasies en na twee weke is ek eers ontslaan. Na 50 chemo en bestralings probeer ek weer my lewe in perspektief sien , maar vra nog steeds "Hoekom?" Die antwoord ek die volgende jaar:........

In Junie 2001.word my man gediagnoseer met aggressiewe prostaatkanker. Op daardie tyd openbaar God aan my dat Hy my voorberei het om simpatie en empatie met my man tydens sy herstelperiode te hê. .Al die liefde en versorging wat hy die vorige nege maande aan my onvoorwaardelik gegee het, het my voorberei op die volgende nege maande.

Tydens sy operasie vind hulle uit dat hy 'n aangebore hartdefek het. Iets wat ons oor die volgende paar jaar baie probleme sou gee. Terwyl hy in die hospitaal is, gee die ontwikkelaar sy werk aan 'n familielid en een van sy werkers gebruik eie reg en maak skuld van etlike duisende rande om huise te verf onder my man se naam.

Aan die einde van 2001 dank ons God dat hy by ons gestaan het en vra Hom om asseblief 2002 'n beter jaar te maak.
My moeder van 93 jaar het al die jare by my gewoon en op Moedersdag van 2002 val sy en breek haar heup. Nodeloos om te se dat sy 5 weke later in Tygerberg Hospitaal sterf en ek verloor my dierbaarste vriendin en vertroueling met wie ek al my probleme kon bespreek.

Die volgende jaar 2003 word ek weer gediagnoseer met 'n kwaadaardige gewas in my linkerbors, maar darem nie so aggressief nie. Na 30 bestralings was ek vol moed dat alles nou voor die wind sou gaan. maar, ek tel hartversaking op en moet vir een of ander prosedure met laserstrale hospitaal toe gaan.

In 2004 koop my man 'n besigheid wat op die oog af goed lyk. Ons is opgewonde, want nou kan hy doen waarvoor hy opgelei is en hoef nie meer soos in die boubedryf heeldag in wind en weer te werk nie.Ons maak 'n lening op die huis om die besigheid te betaal en vir die volgende paar maande voel ons veilig en dank die Vader elke dag vir Sy genade.

Toe kom die probleme van kliënte wat nie kan of wil betaal nie, maar ons moet die oorhoofse kostes betaal.
Om 'n lang storie kort te maak, na nog lenings om my jongste dogter haar studies as sjef te laat voltooi, die huis te behou en nie bankrot verklaar te word nie, besluit ons om ons lieflike huis in die mark te sit en alles wat ons in32 jaar opgebou het te verkoop want die toekoms lyk duister. Uiteindelik lei die Here ons na ‘n agent wat die huis teen die beste bedrag verkoop en ons kry 'n veilige kompleks waar ons die pragtigste klein huisie huur.

Hier maak ons vriende met meer mense as wat ons ooit in 32 jaar by ons ou adres gemaak het. Die eerste twee jaar gaan alles goed, te goed, en ons leef uit dankbaarheid. Na al die jare beveel 'n chirurg aan dat ek my voete moet laat opereer aangesien dit 'n aangebore defek is en my rug aantas. Na baie pyn na die operasie op 6 November 2008, begin die herstel.

Alles gaan goed tot op 26 Desember, ek nog in 'n rystoel, maar my man word met hartversaking gediagnoseer, baie naby aan 'n hartstilstand. Uiteindelik het hulle hom gestabiliseer, maar sy toestand verswak en in Maart kry hy die eerste hartaanval en moet die hartspesialis 2 stents insit.

Na vele oorweging, gaan ek, my man en jongste dogter die Saterdag na Goeie Vrydag Worcester toe om by my enigste broer en skoonsuster te gaan kuier. Ons sit in hulle lieflike tuin vir middagete en my broer doen die mooiste tafelgebed. Die volgende oomblik val my skoonsussie skuins oor my.My man gryp haar, dra haar huis toe en ek en my dogter begin dadelik met mond-tot-mond asemhaling, maar sy word dood verklaar toe die ambulans opdaag.

Drie weke later gaan my man weer in vir nog toetse, die stents het weer toegegroei. So hou dit aan vir weke, selfs tydens die Junievakansie terwyl ons twee 'n bietjie uitspan by Groot-Brak.
Ons is pas terug van vakansie af en my broer word opgeneem in die hospitaal gediagnoseer met maagkanker wat reeds na die longe versprei het, en na twee weke na die brein versprei het.

Hy kwyn in twee weke na 40 kg. en sterf, net 6 maande nadat sy vrou oorlede is.
Nog is dit nie die einde nie,. My man kry hartversaking by die versekeraars terwyl ons besig is met die eis van my skootrekenaar wat uit my kantoor gesteel is. Ons jaag deur hospitaal toe en drie stents later, met kostes van R27 000 wat die medies nie betaal nie.

Maar ons bly hoop ons op beter tye vorentoe.  Baie dankie vir die geleentheid om my storie te vertel.

Vir ander mag dit maar vevelig klink, maar ek het my vriende leer waardeer, ek het die natuur leer bewonder, my kinders en my man is na God die kosbaarste besittings in my lewe en ek staan elke oggend op met 'n lied in my hart, want ek weet met my God spring ek oor 'n muur!!!!

Dankie dat ek so spesiaal mag voel.