This is a touching story about a step mom and step daughter - and maybe in essence - a mom and a daughter that grew to love each other in trying circumstances.
I think this happenend because a mother's heart, broke into pieces and shed so much love - and in the process - healed broken lives and saved a little precious life to be able to become a blessing to his mom and to many.
Here this very dear stepmother shares her story with us the way she experienced it.
My Dogter Nadia
Ongeveer 15 jaar gelede is ek en haar pa getroud. Dit was 'n groot skok vir die kinders, want hulle het gehoop hulle ma en pa sal die dinge uitsorteer, maar hulle kon nie en die volgende oomblik word ek in hulle lewens inforseer.
Dit was 'n moeilike tyd van aanvaarding. Nou as mens terugkyk, verstaan jy beter, maar terwyl jy in 'n situasie is kyk mens mos anders na goeters. Nadia se pa is 'n man wat dinge op sy manier doen en gewoonlik doen, maar sy hart is goed.
Mense is lief vir hom en waar hy gaan maak hy sy hart oop vir mense, maar dié ding wat sou gebeur - was niemand op voorbereid nie.
Nadia se ma kon nie die omstandighede aanvaar nie. Sy het my gehaat en vir die kinders vertel hulle pa het hulle gelos vir my - dis nie waar nie - maar iemand moet die skuld kry.
Vir jare het ek my bes probeer om 'n goeie stiefma vir hulle te wees. Dit was swaar vir my, moeilik, maar Nadia wou my nooit aanvaar nie. Miskien wou sy, maar sy het gevoel sy kom haar ma te na as sy van my hou en daarom het die mure opgegaan. 'n Lang lelike muur waaroor ons nog hard sou moes klim.
Ag noem maar die woorde: "aspris", "vermakerig", "ek-gee-nie-om-wat-jy-dink-nie", was aan die orde van die dag, maar as mens die heeldag hoor hoe sleg jou pa en sy "hoer-vrou" is, dan word mens seker maar so, veral as jy 12 jaartjies oud is en dink jou ma is die beste ding sedert Strawberry Milkshake en Mac Donalds!
Ag daar was "beter" dae en daar was wonderlike dae vér tussenin, maar toe word Nadia groot.
Sy ontmoet 'n rowwe seun. Op 13 het hy al moord gesien. Toe vlug hy saam met 'n man veel ouer as hy en lewe saam met die man as sy lover. Hy raak verslaaf aan dwelms, hy steel en doen dinge wat geen kind van daai ouderdom eers aan behoort blootgestel te word nie. Ek en haar pa weet nie, ons het eers baie later uitgevind, maar ek kan sien dinge is nie lekker nie - en ek hoor goed en my moederhart raak diep bekommerd. Ek is maar versigtig oor wat ek oor my stiefkinders sê, want stiefma's is vreeslike goed!
Haar ma moedig die verhouding aan, want hy's 'n mooi seun. Lyk soos 'n filmster.
Van dag een af, was ek en haar pa gekant teen die verhouding. Hulle waardes - ekskuus - daar was nie waardes nie en ek begin bid. "Ag Here, moenie dat hierdie dinge gebeur nie - seblief!" Ons wil is nie Sy wil nie en Nadia en haar pa dryf al verder uitmekaar. Die kinders se ma en my man baklei: "Jy maak nie kinders reg groot nie!" se hy. "Dis nie jou huis nie, moenie vir my vertel wat ek hier moet maak nie!" antwoord sy en so word hierdie bal van stekelrige eina goed al hoe groter. Nadia kom glad nie meer na ons toe oor naweke nie, ons sien haar glad nie meer nie en ek se: "My man iets is verkeerd, jy moet gaan kyk!".....
Ses maande later, op my man se verjaarsdag, kry hy 'n verjaarsdagkaartjie van Nadia, haar kerel en haar kind - en dis die eerste keer wat ons haar sien in al die tyd en ja waarlik waar - sy is swanger - en dit is hoe sy haar pa vertel. Die skok is onbeskryflik groot. Dit maak nie saak hoe 'n eks en 'n eks mekaar haat nie - dis darem nie reg om die kinders te gebruik om mekaar by te kom nie - ten koste van hulleself!
Magtig maar mens voel moedeloos. Kan jy dink wat gebeur in 'n mens se lewe as jy so 'n klap kry - sy was pas uit die skool, bloedjonk met 'n man wat nooit vir haar gaan kan sorg nie en wie het geweet deur watse hel hy haar nog sou sit!
Ek se vir my man: "Ons kan hulle verwerp en jy kan jou kind verloor, of mens kan betrokke raak en die situasie probeer manupileer en red wat daar nog te redde is." Ons besluit ons wil nie 'n kind verloor nie en ons probeer hard - maar jy sien - en jou hart raak al hoe swaarder!
Die baba is vroeg gebore en ons weet tot vandag toe nie regtig hoekom dit gebeur het nie, want sy het 'n gesonde swangerskap gehad, maar ek het my bedenkinge!
Op sewe maande maak hy sy verskyning, maar hy hou telkemale op asemhaal. Op 'n slag tot 10 minute en daar is breinskade -ons het nie op daardie stadium besef hoe groot nie. Van die een hospitaal na die ander met ons kleinkind en ons is almal dood benoud, maar hy's 'n klein "fightertjie" want elke keer as ons dink dit is verby - maak hy weer sy ogies oop en ons ondersteun waar ons kan.
Ses weke later kan baba uiteindelik huis toe gaan en almal is verheug, maar - hoe dan nou - skaars by die huis - en hy's terug in die hospitaal. Nadia se ma weet nie wat aangaan nie en Nadia praat nie, maar ek is onrustig. Dan's baba in, dan's hy uit, dan's hy weer in en so gaan dit aan, en elke keer as ons gaan kyk lyk alles rustig - maar ek kan nie help om die idee te kry dat dinge nie pluis is nie.
Toe slaat dit vir ons soos 'n baksteen in die gesig. Die welsyn bel. Baba is weggeneem en tans onder bewaking in die Intensiewe sorgeenheid van die hospitaal en sy ouers word by hom verbied.
Ons jaag hospitaal toe. Baba het 'n gebreekte kakebeen en af ribbes. "Bliksem Nadia - hoe het dit gebeur?, skree haar pa, maar Nadia slaan soos 'n boek toe en dit was die begin van 'n nagmerrie wat vir lank met ons sou wees.
"Ag Here wat nou?" vra ek en dadelik kom my antwoord! "Nou moet jy die ding vat en vir hom uitsorteer - dis jou mense - dis jou lewe en jou mense het jou nodig" Ek en manlief gaan sien die Welsyn, maar hulle is hardegat verby. Ek smeek en ek huil, maar protocol is protocol.
Ek vra mooi - voordat julle hom ontslaan en hom na die Tehuis vat, laat my asseblief weet, sodat ons kan gaan groet, want die Tehuis se besoektye is net een maal per week. - maar hulle het nie my versoek toegestaan nie.
Die middag kry ons 'n oproep van Nadia. Baba is 'n staatshospitaal opgeneem en sy mag nie naby hom kom nie, so ons jaag daarnatoe.
Die suster wil hom nie opneem nie, want hy is so fragiel en daar is breinvliesontsteking in die saal - hy sal doodgaan! Wat het dan gebeur?
Baba moet 24 uur per dag op suurstof wees, maar die welsyn het hom vervoer sonder suurstof. Toe breek hulle motor en Baba sit vir ure sonder suurstof en daarom moes hulle hom hospitaal toe jaag. Dis asof jy 'n spyker in my rugstring druk. Ek begin hiperventileer en dit voel of ek 'n aar gaan bars - ek is kwaad verby.
Hulle wil slim raak met my, maar ek sê vir hulle dat vir hulle gaan ry tot by Daantjie in die kallerhok. Hulle wat maak asof ek nie goed genoeg is om my kleinkind groot te maak nie, maar hulle stel sy lewe in gevaar.
"Raak julle aan hierdie kind en julle kry met my te doen!" skree ek soos 'n waansinnige. Skoonsus is by en sy vat vir Baba en dink vinnig. Moet hom by 'n privaat dokter kry sodat die dokter hom kan hospitaliseer want dan kan die Welsyn hom nie vat nie. Hulle stuur die polisie vir ons, maar ons hou hom vas! Die Dokter laat hom opneem en ons waak by hom dag en nag! Toe hy beter is toe vat ouma vir hom huis toe, maar ai hy's 'n bondel bene - mens is te bang om te hard aan hom te vat. Wanneer laas het ek 'n baba gehad - my vingers is dom - maar as ons saamstaan kan ons dit doen!
Toe kom die Hofsaak en ek gaan staan op daai getuiebank en pleit en pleit en pleit nog meer. Die Regter hou van my. Sy sien ek bedoel net goed. Sy vra 'n reses en kom saam met my huis toe om vir Baba te sien. Toe hy my stem hoor en glimlag van oor tot oor, sien sy dit en daar wen ek my saak. Baba kom saam met my huis toe - Prys die Heer!
Dis nou 5 jaar later! Hy's 'n sonskyn kind en ons het hom baie lief.
Intussen is sy pa uit ons lewe uit na baie trane en baie baklei - maar dis die beste vir Baba. So tussen my en oupa het ons vir Nadia geleer hoe om vir baba te bad en te voer en vandag as ek vir haar so kyk weet ek dis die beste ding wat ek nog ooit in my lewe gedoen het.
Ek en Nadia is vriendinne, ons verstaan mekaar, en op haar eie manier dink ek sy is lief vir my. Sy vrek ook haar pa en sy sal vir die res van haar lewe dankbaar wees dat ons haar seun gered het, want as hy na die Tehuis toe gegaan het, het ons hom lankal begrawe.
Hy's 'n spesiale seuntjie wat ons liefde bitter nodig het.
Ons sal altyd daar wees en help waar ons kan, maar Nadia het hom gevat en elke dag is hy die belangrikste persoon in haar lewe. Sy's 'n fantastiese ma en Baba is versot op haar!
Ons is gelukkig! Nou wag ons net vir 'n ridder op 'n wit perd wat vir Nadia en vir Baba sal vat sodat sy ook kan sien hoe dit voel as 'n man regtig vir jou lief is.
Ek bid elke dag, maar Sy wil is nie ons wil nie. Dinge sal gebeur soos dit moet. Ons moet net aanhou bid.
Ouma Amanda
Ps. My eie dogter het my ook ouma gemaak, met 'n pragtige dogtertjie en ons waardeer die kleinkinders elke dag!