Wegbreek 3 Maart 2008

Die eerste Incelebration naweek-wegbreek het plaasgevind die pas afgelope naweek. In my wildste drome het ek nie gedink dat dit so ‘n reuse sukses gaan wees nie. Almal is dit eens dat die Shayamanzi- wildsplaas die perfekte "venue" vir die wegbreek was.

Eienaar Jannie Parsons, sy assistent Ulandi en hulle span het absoluut agteroor gebuig om ons gemaklik en spesiaal te laat voel en niks was vir hulle te veel moeite nie. Riana en Pierre het gesorg vir watertand lekker kos - amper meer as wat ons kon eet. Hulle was altyd reg met peuselhappies en heerlike koue koeldrank, of dit nou tydens ‘n wildrit, of sommer net kuier langs die kampvuur was.


Die idee vir die wegbreek het heel spontaan ontstaan. Dit is waarskynlik moeiliker vir vroue om net vir ‘n naweek te gaan ontspan as wat dit vir mans sou wees. Juis hieroor het ek probeer om ‘n geleentheid te skep wat dit dalk ‘n bietjie makliker sou maak vir ‘n groep dames om vir ‘n naweek weg te breek. Ek lees onlangs die volgende, "Facing unplesentness is making room for new happiness".

‘n Naweek weg, in die natuur bied die ideale geleentheid om jou gemoed ‘n bietjie skoon te maak. Vir my was dit is soos ‘n donderbui wat die stof en vuil weggewas het en ‘n skoon vars geur agtergelaat het. Die informele kuier en gesels het geleentheid gebied om van mekaar en uit ons ervaringe te leer. Daar lê genesing daarin om oor jou ervaringe te praat en met ander te deel!

Ons het ook ‘n sessie gehad waar ons na die waarde van om reg asem te haal, kon luister, en na die genesende invloed van klank en musiek op die liggaam - siel en gees - ‘n bietjie kon kyk. Ek het 'n paar praktiese tegnieke gedeel oor hoe om dit by die huis te gaan toepas - sodat ons ‘n stukkie van die rustigheid en vrede van die omgewing waarin ons was - weer kan herleef.


Dit was ook lekker om saam te lag, om die kampvuur te luister na stories en om vir die sterre te kon kyk laat in die aand. Daar was ‘n paar avontuurlustiges onder ons wat tot vroeg oggend in die "jacuzzi" gekuier het totdat ‘n trop bobejane wou kom deel in die pret. Daar was ook tyd om te gaan kyk na die Shayamanzi-luiperd-bewaar-projek. Met die projek doen Jannie-hulle navorsing oor die aantal Luiperds in die Waterberge en hulle gedrags-patrone. Hierdie navorsing lewer hopelik ‘n groot bydra om die Luiperd beter te verstaan - begrip wat sal lei tot bewaring van ‘n pragtige dier.

Saterdagaand het ons die keuse gehad van twee smul-lekker-potjies en potbrood. Daarna het ons ‘n dvd op "big-screen" met die vallei in die agtergrond, beleef, wat elkeen op sy eie manier baie diep geraak het.
Sondagoggend langs die dam in die kloof, het ‘n baie spesiale tyd gebied met die geroep van ‘n visarend in die agtergrond.

Die Shayamanzi naweek het beslis ‘n baie hoë standaard geskep, ‘n standaard wat nie sommer verbeter sal word nie. Ons het nuwe vriende gemaak, en baie kosbare tyd saam gedeel. Almal wat die naweek bygewoon het het saamgestem dat ons dit weer moet doen. Ek is besig om te onderhandel en dit lyk vir my of daar ‘n moontlikheid is dat ons weer op die naweek van 19 September ‘n wegbreek op Shayamanzi kan hou.


As ek dit kan reël, moet Wilma net weer haar "Wildtuin-verjaarsdagstorie" deel met al die vroue - ‘n storie wat elke vrou moet hoor.

Hou gerus my web dop, ek sal die inligting hier beskikbaar maak sodra dit gefinaliseer is.