Dit was my voorreg om met hierdie besondere vrou en moeder te kon gesels voor die program, want sy het nie geweet dat ek vir haar erkenning gaan gee nie - en ek het haar storie geken.
Maar sonder om te skroom het sy sommer oorgeborrel van al die emosies en dinge op haar pad en wat met haar gebeur het en met haar skoonseun gebeur het, en dat sy dalk moet gaan bly by haar dogter om te help.....
Ons moes begin en ek kon nie langer luister nie, maar ek besef toe net weer dat daar genesing daarin is om te praat oor jou "issues" en ek kon sien dat sy behoefte het daaraan. Min het sy geweet dat ek haar storie wel ken.
Die trane het geloop oor haar wange toe ek haar storie deel met die vroue:
Tien jaar gelede het sy altwee haar borste deur 'n mastektomie verloor omdat sy borskanker gekry het. En elke jaar het sy getrou gegaan vir haar bloedtoetse wat wys dat sy gesond is. Sy het haar skoonsuster opgepas en versorg tot haar dood en omtrent 'n jaar daarna het sy haar skoonma wat skielik siek geword het, ook versorg en haar ook aan die dood afgestaan.
In hierdie tyd het sy probleme met haar maag ontwikkel en na deeglike toetse het die dokter besluit dat 'n operasie aan die dikderm onafwendbaar is. Tydens die operasie word daar kanker in haar kliere in die maagwande bevind. Terwyl sy nog herstel van haar operasie moes sy chemoterapie ontvang maar sy het deurgetrek.
Sy en haar man moet dan nou nog besluit of hulle gaan verhuis na haar dogter in die Kaap om haar op die plaas by te staan omdat haar skoonseun oorlede is. Hulle boer al jare op Rayton.
Ai the "joys of motherhood" hou nooit op nie - al is jou kinders al grootmense.
Sy hou vas aan die onmoontlike want by die Groot Geneesheer is niks onmoontlik nie!
Tina ons vertrou saam met jou want jy het al deur soveel moeilike dinge bly staan - jy is 'n besondere vrou.