Tilla is 'n merkwaardige vrou en 'n groot inspirasie vir al haar vriendinne - sy kla nooit, koester geen bitterheid nie en het opgestaan uit haar baie moeilike omstandighede. Sy het inisiatief aan die dag gelê om die pot aan die kook te hou en 'n besigheid van die huis af begin "Pepa-Rose foods" wat beteken "God will add good things" en bak die heerlikste biscotti, koekies en maak kos vir personeel van besighede, en maak ook gevriesde kosse. Ek't haar gevra om haar lewensverhaal te skryf want dit is vir my 'n groot inspirasie en ek stel haar aan die woord. "Ek is die jongste van 4 kinders, 'n laatlam. Ek het op 'n plaas grootgeword buite George. In daardie dae het my susters en broer koshuis toe gegaan vir hoërskool en net uitnaweke huis toe gekom. Ek was dus eintlik soos 'n enkelkind. My broer Jaco is grens toe vir 2 jaar toe ek 4 jaar oud was.
Alhoewel ek vir hom briefies gestuur het het ek hom glad nie herken toe hy na die 2 jaar terugkom nie. Ek het nou nog 'n gevlegde handsakkie wat hy vir my saamgebring het want hy sê ek is die enigste een wat daardie kersfees vir hom 'n kaartjie gestuur het en ek glo dat dit gemaak het dat daar 'n sagte plekkie vir my in sy hart was.
Toe ek hoërskool toe is, was dit vir my heerlik met al die maats en sport en dinge. In my matriekjaar het ek met Mynhardt begin uitgaan. Hy was in die weermag, jonk, aantreklik en waaghaalsig. Ek het gaan studeer na matriek en die verhouding het nie langer as 'n jaar gehou nie.
Op 24 is ek getroud met Louis. Hy was ook jonk, aantreklik en waaghaalsig! Maar tog konserwatief met geld wat vir my baie sekuriteit gebied het. Ons het op 'n plaas gebly en na 3 jaar is ons eerste baba gebore, Benn Dudley.
Dit was die beste ding wat ooit met my gebeur het toe ek 'n ma word. Na nog 3 jaar word ek swanger met ons 2de baba. Louis sê een middag toe ek van die werk af kom ( 3 maande swanger) - hy is seker dit gaan 'n dogtertjie wees - en as dit is - moet ons haar Rebecca noem. Alles was so 'reg' vir ons. Ek het mooi gekyk wat ek eet om nie weer die 28kg op te tel soos met Benn nie. Ek het op daardie stadium net so 3 kg opgetel.
Toe ek 4 maande swanger was, het ek in my werk se etenstyd, gou gaan reël by 'n tannie wat ek van gehoor het om vir Louis afval te kook omdat hy so baie daarvan gehou het. Ek het nie kans gesien om dit te kook nie.Toe ek terugkom by die werk, het my baas my laat weet dat my buurvrou gebel het om te sê dat Louis verbrand het en oppad is hospitaal toe met die ambulans.
Ek het die hospitaal gaan soek, want ek was nog nooit daar nie, en dit het net 'n paar maande gelede oopgemaak. Ek en Louis se pa het saam gewag vir die ambulans en gesit en gesels in die wagkamer. Min het ons geweet wat op ons wag. Toe hy inkom het hy gepraat, maar min. Ek kon uit my leke oog sien dat hy erg verbrand het en dat sy vingers dit nie gaan maak nie. Hy is onmiddellik opgeneem in die teater en ek is terug werk toe - asof alles normaal is.
Die volgende oggend was hy 2 keer sy grootte, op 'n ventilator en gesedeer. Die dokters het met my gepraat en toe eers het ek besef hoe ernstig dit is.
In die volgende 7 weke is ek nooit huis toe nie. Ek het by Louis se ouers ingetrek met Benn om naby die hospitaal te wees. In die tyd was ek ook by die ginekeloog en vir Louis kom vertel dat ons 'n dogtertjie gaan hê. Ook moes ek in die tyd toestemming teken dat van sy vingers geamputeer kon word.
Ek het nagte om gesit by hom in die hospitaal en met my hele hart geglo dat hy gaan wen. Ek het op 'n keer amper my baba verloor agv die spanning. Ek het gesukkel om gewig op te tel en my gewig was selfs minder as voor ek swanger was.
Op Oukersdag het die dokter my ingelig dat Louis nog net 24 uur oor het om te lewe. Ek het nog steeds geglo - maar kon sien hoe al die masjiene se tellings afneem en sy longe ingee. Hy was jonk en fiks en het nooit gerook nie maar sy longe was onherstelbaar verbrand. Almal het kom groet en ek het beplan om die hele nag by hom te sit. Ek is 7h00 net vinnig weg om te gaan bad en eet. Toe ek by die huis kom het die foon gelui en ek het geweet! Toe ek by die hospitaal kom was die dokter reeds daar en al die masjiene af.
Ek het geweet dit is beter so maar my hart was stukkend. Dit was tog wonderlik om die vrede op sy gesig te sien na al die bittere lyding. Ek het ook besef dat as ek daar was toe hy dood is ek dalk van die skok ons baba kon verloor het - so dit was beter so. Die Here het geweet ek moes hierdie baba Rebecca hê! Die 25ste Des 1998 was die bitterste dag in my lewe, toe ek vir my seuntjie moes sê - sy pa is dood.
Skielik was ek die enigste grootmens in my gesin en moes ek vinnig en alleen baie groot besluite neem. Ek kon nie onthou of hy veras of begrawe wou word nie. Al my voorkeure het skielik verander in -wat hy graag sou wou hê. So toe die predikant vra wie die bedankings moes doen toe weet ek hy sou sê " jy kan dit mos self doen".
En ek reël die tee by my huis op die plaas waarin ek 7 weke laas was. Ek was ook jonk en waaghalsig, 29, en skielik 'n weduwee. Daar stap ek toe heel eerste die kerk in, voor 500 mense, met my kind en my broer by my, en klim met my 6 maande-swanger lyfie op die preek stoel en doen die bedankings.
Ek het meer moed as verstand gehad. Ek slaap daardie aand vir die eerste keer alleen op die plaas, gaan aan met die boerdery en begin die Maandag werk totdat ek op kraamverlof kan gaan. Die Here alleen kon my daardeur kry - want ek ekself weet nie hoe nie. Ek het een dag op die stoep gesit en myself baie jammer gekry en vir die Here gese, ek het niemand wat eers vir my lief kan wees nie. 'n Paar minute later het Benn sy armpies om my kom sit en gese 'mamma ek is so lief vir jou!'
Daar was baie sulke wonderwerke maar dit was ook baie moeilik. Die eerste keer wat ek na sy dood gaan kos koop het, het ek so gehuil want ek het nie geweet wat om nou te koop nie, dat ek moes uitstap en dit maar los.
My broer, Jaco, het baie naby ons geboer. Hy het in die tyd sy plaas verloor. Ek het vir hom geld geleen om 'n ou vragmotor te koop en hy het my terugbetaal. Min het ek geweet watter groot klip hy nog vir my uit die pad sou rol. Vandag het hy en sy seun 'n geseende vervoerbesigheid.
Rebecca Louise is daardie April gebore en was vir my net vreugde. Benn was daar om al haar mylpale saam met my te geniet. Toe sy 6 maande oud was het ek 'n veiling gehou en al die diere en implimente verkoop. My skoonouers het toe ook die plaas verkoop. Ek het weer op George kom woon en is later met Mynhardt, my matriekliefde getroud. My kinders het hom aanvaar as hulle pa. Ons het ook na 2 jaar 'n baba - Michaela.
Hy het soveel potensiaal gehad maar kon net nie 'n werk hou nie. Hy het sy eie besigheid begin waarmee ek hom gehelp het en vir hom borg gestaan het. Na 3 jaar was dit gelikwideer en ek het alles verloor saam met hom, my huis, my motor en my meubels. My broer het gelukkig my huis gekoop en gesê ek kan daarin bly. My skoonma het my meubels vir my gekoop.
Mynhardt het in Kansas, Amerika, gaan werk en ek het in tussentyd 'n besigheid van die huis af begin, Pepa-Rose. Mynhardt het teruggekom na 9 maande maar kon net nie sy weg oopsien om in Suid Afrika te bly werk nie. Ek het nie kans gesien om saam met hom te gaan en in 'n vreemde land van werk na werk te skuif nie. Hulle sou my en die kinders ook nie toelaat nie en dit was net te duur vir ons almal om te verhuis. Hy is dus alleen weer terug Kansas toe - en ek het uitgevind dat hy groener weivelde gekry het en 'n verhouding met 'n ander vrou aangeknoop het.
Ons egskeiding kom 1 Sep voor. Gelukkig het ek my besigheid Pepa-Rose op die been en maak 'n lewe daaruit. My broer het die garage vir my in 'n kombuis omskep en nou kook en bak ek dat die biesies bewe! Ek het alles verloor maar die vrede van die Here kon niemand by my vat nie. Die kosbaarste ding op aarde vir my is my kinders wat asemhaal en leef. Die mooiste 3 dinge wat die Here ooit gemaak het vir my.
Pepa-Rose beteken - God will add good things - en Hy doen dit."