Susan Matthee

Photo of Susan MAtthee & Sonja Herholdt

Hellen Keller het gesê: "dat die beste en die mooiste dinge in die lewe nie gesien en gehoor kan word nie, maar dit moet met die hart ervaar word." Hierdie woorde laat my dink aan Susan Matthee. Susan is besig om haar visie heeltemal te verloor, maar tenspyte van haar omstandighede is daar ‘n lig in haar oë en straal daar ‘n positiwiteit uit haar hele wese.Sy is vir my ‘n inspirasie en ek glo vir baie ander ook.

Liewe Susan, dankie vir die voorreg om aan jou die erkenning te kon gee tydens my program in Oos Londen. Susan vertel self haar aangrypende verhaal, met sulke mooi beelde.

BLINDE VISIE

Deur Susan (wit lelie) Helena (helder lig) Matthee (geskenk van God)

Die groot waters rol om en om, die miswind vee sout oor my lippe en die heuningsoet stem van Sonja Harrold borrel uit my selfoon: "Skryf jou storie, asb. Dit kan ander mense help." Sê sy.

My onthou sprei sy vlerke ver terug in tyd, tot daar waar ek en Paul op en af in die gang met ons geel plastiese borde gebrm-brm het. Ja, tot daar waar seerkry nog met 'n pleister toegeplak kon word. In my terugvlug kyk ek oor al die skerp draaie wat my uitgebring het tot by vandag.

My eerste onthou is mooi, soos 'n blou-skoon dagbreek. Ek en my drie boeties het in 'n huis vol liefde grootgeword. My ma was die mooiste en beste ma en my pa was die sterkste en slimste pa op aarde. Cornel is my ouboet (ag jaar ouer as ek). Hy het vir ons kaskarre en foefieslides gebou.

Paul is my sielsgenoot (twee jaar en sewe maande ouer as ek). Ons het saam gespeel en gedroom. André is my laatlam boetie (8 jaar jonger as ek). Hy was die enigste "pop" waarmee ek ooit gespeel het. Ons huis was aan die voet van die berg in Patensie (klein dorpie in die Oos-Kaap).

My en Paul se vrolikheid het gedurig oorgekook en 'n borrelende lag deur die huis gejaag. Ons was vry en tog geborge. Die dae was te kort vir alles wat ons wou doen. Berge, riviere en damme was ons speelplek. Die eerste skerp draai in my pad was toe Paul blind geword het. Sommer net so, "now you see me, now you don't". Na vele telefoon oproepe en doktersbesoeke moes my ma berus... Niemand kon iets vir Paul doen nie. Daardie dag het ek deur my ma se oë gesien hoe haar hart in skerwe lê. Met haar moederhart wou sy Paul teen haar bors vasdruk en beskerm teen die harde aanslae van hierdie wrede wêreld, maar niemand kan die kronkels uit 'n ander se lewe stryk nie.

Dit was daar waar ek besef het dat elke mens sy eie pad kry wat hy moet loop. Elke mens moet speel met die kaarte wat vir hom uitgedeel word. 'n Nuwe lewe het begin klop, trap-trap in my ma se buik en in daardie kriesestyd is my laatlam boetie gebore.

Ons het vir Paul gaan aflaai in Worcester by die Pionierskool (die skool vir blindes) en soos ons weggery het uit Worcester, verder en verder van Paul af, het my hart lank, dun en baie seer uitgerek, maar ek is nie 'n huiler nie. Ek het net stil gesit en kyk na die vreemde wêreld. Ek was gewoond aan vriendelike groen begroeide koppies, maar daardie majestieuse rotsgestaltes wat daar bokant my uitgetroon het was koud en hard.

Vrees, vir sy part, het my longe vasgedruk. "Liewe Jesus" het ek gebid "Dankie dat Paul nie meer bang is vir die donker nie . Vat U nou sy hand en kyk asseblief sy kyk vir hom."

Ek het die gemis aan Paul gesmoor deur al my aandag aan my nuwe boetie te gee. Ek het nooit pop gespeel nie, maar nou het ek 'n lewendige poppie gehad en ek het gou ontpop in 'n regte moedertjie. Ek het vir klein Andre groot gespeel.
Ek was sewe jaar oud toe die donker my ook begin bekruip het. Ek het gehardloop deur die tuin na die voordeur, toe ek die kruiwa hard tref, en daaroor val. Ek sien nie kolle nie, al is my vissie vol kolle. My brein vul die kolle in met wat hy dink daar moet wees. Ek het die gras gesien en die kruiwa wat reg in my blinde kol was het verander in gras. Dit was 'n skok dat 'n hele kruiwa kon inpas in 'n blindekol waarvan ek nog nie eers bewus was nie.

Ek het gebid en geglo. Ander mense het vir ons gebid en ons het geglo. Ek het geglo dat, as 'n mens vra en glo sal God voorsien, maar.......

Ek en Paul het aangehou om die dinge te doen wat ons gedoen het, soos bergklim, fietsry, ens. Dit was senutergend vir my ma, maar sy kon ons nie keer nie. Ek is bly dat ons nie blind gebore was nie, want ek is seker dat sy ons dan sou opgepiep het. My vorse ma het skielik klein op die bed gesit. Sy was besig om my klere in te pak en ek het gesien dat hartseer vinnig grys oor haar kop kom streel het. Ek het vir baie jare skuldig gevoel omdat ek ook blind geword het.

Dit was moeilik vir my ouers want dit was duur en sommer net verkeerd. Ek was nie bang om Worcester toe te gaan nie. Paul sou mos saam met my daar wees Die groot blink voël het hoog in die lug opgeklim en met my neus teen die venster het ek gesien hoe Port Elisabeth 'n skildery word.

In 'n meisiekoshuis ingeprop, ver van my boet, het ek bang gekoes-koes vir die uitgestrekte arms voor die strak oë van die ander kinders. Op die skoolgronde mag die meisies en seuns nie gemeng het nie. Hoekom nie? Ek was nege en Paul, amper twaalf. Genade, hy was my broer! Ek het gou geleer om uit die koshuis te glip. Ek kon deur die diefwering pas. Ek was 'n blaaitjie, uitgeskeur uit 'n avontuurverhaal en ingeplak in 'n riller.

Onder blinde kinders is daar ook boelies en diewe en ek het deurgeloop. Sielkundige probleme was vollop in die koshuis, want die lewe skuif hindernisse in elke mens se pad, maar ons moes toe oë daaroor. Daar was kinders met veelvuldige gestremdhede. Ek was dankbaar dat ek net swaksiende was, maar terselfde tyd was ek ook bitter teenoor God dat ek swaksiende was. Ek het darem ook geleer dat as iets jou nie doodmaak nie, dan maak dit jou groot.

Ek kan hier naby my lig, donker, kleur en beweging waarneem. Ek het op die siende manier deelgeneem aan atletiek. Ek het goed gedoen en het elke jaar ingekom vir die W.P. kampioenskappe , maar dit het oor die tiendae vakansie plaasgevind en om huis toe te gaan het veel swaarder geweeg.

Ons het net vakansies huis toe gegaan. Daar was 'n hele treinwa bespreek, want daar was baie kinders van P.E. se omgewing. Die een helfte van die wa was vir die meisies en die ander helfte was vir die seuns. Daar het twee juffrouens saamgegaan, een vir die meisies en een vir die seuns. Die meisies en die seuns mag nie gemeng het nie. Toe maak Paul maar 'n plan. Hy het aan die buitekant van die trein, van venster na venster, geklim om by my uit te kom. Die stoomtrein het kronkelend gallop deur die klowe. In my het die "geklak-klak" op die spore 'n "Ek gaan huis toe, ek gaan huis toe" liedjie gevorm.

Terug in die groen, koppie-omarming van die Gamtoos Vallei het die geur van lemoenbloeisels balsam soet om my kom vou en dit was die moeite werd dat nommer twee met die W.P. kleure wegstap.

My tienerhart het begin rebelleer teen grootmense, veral onderwysers. Ek was goed dwars, maar nooit respekloos nie. Ek wou maar net nie inpas in die vorm waarin hulle my probeer druk het nie. Ek was ook opstroppelis teenoor God. Ek was in die afdeling vir swaksiendes. Daar het ons grootdruk handboeke gehad en ons het met die hand geskryf. In die hoërskool het het my oë weer verswak en ek moes na die brailafdeling toe gaan. Ek moes in 'n nuwe medium leer lees en skryf.

Ek het meer gehou van fisiese uitdagings wat krag, spoed, soepelheid en vernuf geverg het. Ek het aan die bergklimklub in Worcester behoort. Ek was op die hoogste spits van elke klimbare berg in die Wes-Kaap. Die berge was nie meer koud en hard nie, net "anders" mooi.

Ek sien weer die blinde draai in my standerd nege jaar. Dit was laat Augustus. Oom Tommie (my koshuisvader) het langs my kom sit met sy elmboë op sy knieë: Susan, jou Pappie is oorlede." Het hy saggies gesê. "Nee, Oom maak 'n fout. Hier is mos nog 'n Susan." "Nee, ek is dood seker." "Maar ek het dan net netnou nog oor die telefoon met hom gepraat." "Jy moet inpak, ons vat jou vanmiddag lughawe toe." Die gedagte het maar gesukkel om in te sink. My pa is dan my held en helde gaan mos nie dood nie.

Die begrafnisondernemers het my pa voor die begrafnis huistoe gebring. Hulle het die kis by die afdak gesit. "Hoekom word dit 'n afdak genoem? Dit is dan juis 'n opdak. Dit moes liewer 'n afmuur, of 'n opdak genoem gewees het." Daar het die kis gestaan, 'n groot punt agter my pa se lewe. 'n Punt so verkeerd in die middel van die sin." Daar het die kis gestaan; sodat almal wat nog 'n laaste keer na hom wou kyk kon gaan kyk. Ek het nie gaan kyk nie, ek het geweet hy was nie in die kis nie. Ek het na sy klerekas gegaan en hom gaan ruik en hy was nog daar.

Die lewe het 'n manier om aan te gaan. Die son het opgekom en ondergegaan, dae, weke en maande het gekom en gegaan. My ma nie geglo dat sy sou kon nie, maar sy het die wa alleen deur die drif getrek. My ma is vir my soos 'n rooiwangperske, 'n perske ruik lekker, is sag en kneus maklik. Die harerigge skil hou mens 'n bietjie op 'n afstand, maar anderkant die skil wag daar soete goedheid. In die middel sit die pit, sterk en hard.

Na skool is ek vir 'n jaar Optima Kollege ('n kollege vir blindes in Pretoria) toe, waar ek 'n kantoorpraktyk sertifikaat gedoen het. Die lekkerste was toe ons op 'n fietstoer vanaf Johannesburg na Durban was en die volgende jaar is ek terug vir 'n fietstoer vanaf Pretoria na Kaapstad. Daarna is ek terug Patensie toe. Ek het met 'n motorfiets werk toe gery. Ja, ek weet: Meer "guts" as "brains", Daar het ek by die algemene handelaars op die skakelbord gewerk. Dit was nie lekker om in 'n kantoor in Patensie te sit terwyl die lewe daar buite gepols het nie. Ek het self 'n stukkie van die tuin omgespit en tamaties en blaarslaai geplant en die winkel-eienaar het dit sommer self kom oes.

Ons het Humansdorp toe getrek, sodat my boetie uit die huis uit kon skoolgaan. Dit was niks lekker nie, want ek was Patensie en Patensie was ek, so het ek gedink, maar 'n mens is aanpasbaar. Daar het ek bestellings geneem en begin fudge, klapperys en dadelbolletjies maak. Soos die fudge en klapperys kook, kan ek hoor wanneer dit reg is om uit te gooi. En ek kan ruik wanneer die dadelbolletjiemengsel gaar is. Sjuut, my kinders mag nooit weet dat ek 'n bo-baas lekkergoedmaakster is nie.

Ek was vier-en-twintig en vasbeslote dat ek nooit gaan trou nie, maar God het 'n wonderlike sin vir humor en hy laat stap toe 'n onderwyser, van alle dinge, in my lewe in. Ek het by die jeuggroep van die kerk aangesluit, ek het myself voorgestel en verduidelik dat ek nie kan sien nie. André (nou my man) het laat gekom en was dus nie bewus van my gebrek nie. Hy het probeer ogies maak vir my, maar ek het hom "flat out" geignoreer, of so het hy gedink. Na afloop van die bybelstudie het hy my met die hand kom groet en ek het net daar geweet. Hy het vir drie en 'n half jaar in Humansdorp skool gegee en hy was inwonende personeellid in dieselfde koshuis as waar my boetie was, maar ons ontmoet mekaar toe eers in die laaste maand wat hy in Humansdorp gewerk het. Ons het 'n langafstand verhouding begin.

Ek was sewe-en-twintig toe ons getrou het. Die dominee het gesê: "...en nou is julle een." Maar toe ek my oë uitvee toe is ons vyf, maar dis 'n ander storie. Ek het 'n wonderlike man, hy is gedrewe en in alles wat hy doen bereik hy die hoogste sport. Sy spreekwoord is: "Die lewe is lekker, jy moet net 'n lekker mens wees." In Oos-Londen het ek lekkergoed gelewer aan al die tuisnywerhede. Dit het gevoel asof ek in die buiteland beland het.

Almal het Engels gepraat. Daar was ek - dubbelgestremd, maar ek kon en ek moes iets aan my gestremdheid in Engels doen. Ek kon nie een sin in Engels voltooi nie, maar nou doen ek al my werk in Engels.

Ek was dertig toe ek my eerste kind gehad het. Ons het 'n seuntjie en twee dogtertjies. Ek was siek gedurende my swangerskappe en na elke geboorte. My kinders was ook almal siek met geboorte, maar ons is daar deur. Ons is almal gesond en hulle is 'n vreugde. Hulle is nou drie, vyf en sewe jaar oud. My lewe is vol en besig. My kinders spring en woel so om my. Hulle laat my dink aan wanneer 'n mens springmielies maak in 'n pot sonder 'n deksel. Na my eerste kind se geboorte het ek by die korrektiewedienste begin werk en in my etenstye begin draf. Dit het 'n man wat al negentien keer die Comrades Marathon gedoen het geinspereer om weer te begin hardloop.

Hy het my hardloopmaat geword en ons het vir twee jaar geoefen en toe gekwalifiseer vir die Comrades, maar net voor die Comrades is hy skielik oorlede aan 'n hartaanval en ek het nie gegaan nie. Ek gaan die Comrads Marathon hardloop in 2010. Ek hardloop my padwedlope nou alleen. Dit is ' n uitdaging, nie net om by die einde uit te kom nie, maar om self daaruit te kom. Aan die begin hardloop almal in 'n bondel, maar dan trek die bondel uitmekaar. Ek kies iemand om te volg wat min of meer dieselfde spoed as ek hardloop, sonder dat hy weet ek leen sy oë. Ek hardloop 'n entjie agter die persoon en volg die geluid van sy voetval.

Ek werk in die aanklaerskantoor by die Korrektiewedienste. Mense is vir my baie interessant. Ek het deeltyds begin studeer toe my jongste 'n jaar oud was, want hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen. Elke mens het 'n storie met skerp draaie, daarom studeer ek maatskaplike werk. Ek wil help dat die mense waarmee ek in aanraking kom se stories gladweg vloei en nie opdam in die skerp draaie van hul lewens nie.

Ek is nie "disabled" nie, maar "differently abled". Daar is altyd ander maniere om iets gedoen te kry, 'n mens moet net kreatief wees. 'n Mens pas aan sonder dat jy besef. My ander sintuie en my geheue is baie goed, omdat ek meer op hulle moet staatmaak. Ek stap na waar ek wil wees. Ek onthou die paadjies en trappies. Ek kan hoor en ruik waar die winkels se deure is. C N A, Woolworths en Pick 'n Pay ruik heeltemal verskillend. As ek in 'n winkel instap luister ek waar die yskaste en kasregisters is. By n bank, waar die deure toe is, staan ek eers rond totdat ek hoor waar iemand in, of uitkom.

As ek kookwater in 'n koppie gooi, lig ek die koppie op na my oë. Ek het altyd gedink ek kyk hoe vol die koppie is, totdat van my vriendinne eendag in die kombuis gestaan en gesels het terwyl ek tee gemaak het. In die geraas kon ek nie sien hoe vol die koppie was nie, toe besef ek dat ek baie meer op my gehoor, as my sig, staatmaak. In 'n geraas bepaal ek dat 'n koppie vol is wanneer ek voel my voete raak nat. Ek kook, bak, was wasgoed, stryk, pas my kinders op, vee hulle boude af en plak hulle seerplekke toe. Ek ken my familie, vriende en kollegas se stemme, voetstappe en reukwaters, of hul tekort aan lekkerruikgoed. Ek het soms 'n bietjie hulp nodig en daarom sê ek hier vir almal op wie se knoppies ek van tyd tot tyd moet druk baie dankie.

Om blind te wees in die "normale" lewe is moeilik, maar moontlik. Ag, maar wie het ooit gesê dat die lewe maklik moet wees? Dit is ook baie duur om blind te wees. Ek vat ook 'n bietjie langer om dinge gedoen te kry, bv. As ek 'n boek wil lees, moet ek dit eers "scan" sodat my laptop met spraakprogram dit vir my kan lees. Ek gebruik daagliks die volgende hulpmiddels: Selfoon met spraakprogram, laptop met spraakprogram, "scanner, printer" en diktafoon.

Ek en my drie woelwaters lê nou op die springmat. Die son flits goud oor hulle velletjies, terwyl hulle om en oor my wriemel. Hulle is vir my geleen, 'n groot verantwoordelikheid en kompliment, want God het geweet dat ek sal kan.
Ek voel rustig en tevrede, want ek weet van waar ek kom en ek weet weerheen ek oppad is. Ek het vir jare lank terug gehunker na my blou-skoon dagbreek kleintyd. Nou besef ek dat ek dit dankbaar moet koester, maar die anker wat in die verlede vashak moet gelig word, want dit strem my vaart in die toekoms in. Ek het ook geleer dat die dinge waarna ek soek nie daar vêr is nie, dit is binne in my.

'n Mens mag droom, maar 'n droom bly maar net 'n droom, maar as jy stappe en tydslyne daaraan bind, word dit 'n doelwit en bereikbaar. Ek baklei nie meer met God nie, ek is baie dankbaar dat hy vir my die vermoë gee om 'n "normale" lewe te lei.

Ek kyk nie uit vir die lig aan die einde van die tonnel nie, maar ek glo elke mens kan die tonnel verlig, wanneer God deur hom skyn.