Sofie Potgieter kom uit ‘n gesin van 7 kinders en is bestempel as ‘n wonderatleet op die ouderdom van 15. In 1979 verwerf sy haar springbokkleure in landloop en dit was haar tiende aanslag op die SA vrouetitel in landloop en sy het dit vir die derde keer verower. Wat haar prestasie so besonders maak is dat sy dit weer na 9 jaar kon regkry om die titel nog eens in te palm. Na matriek kwalifiseer sy as onderwyseres en begin haar onderwysloopbaan in Newcastle waar sy haar man ontmoet. Frik en Sofie trou in 1980 en daar word 4 kinders uit die huwelik gebore.
In 1993 begin Frik sy eie besigheid in Durban genaamd "Kings Bakery" in Queensmead industriele gebied. Na slegs 3 maande inproduksie word Frik op ‘n Sondagmiddag in die bakkery vermoor.
Dit was traumaties vir Sofie en die kinders want hulle was tussen die ouderdomme van 5 en 11 jaar. Hoewel daar lewensversekering was het iets verkeerdgegaan en hulle bevind hulself in ‘n finansiele verknorsing.
Sofie kry genadiglik werk as huisouer by die Malvern Kinderhuis waar sy en haar kinders kan bly en ‘n inkomste kan verdien. Met dieselfde determinasie en dissipline wat sy as atleet gehad het, pak sy die taak as enkelouer aan en maak ‘n sukses daarvan. Haar kinders se welwese dryf haar deur al die jare.
Vandag is sy die Kinderhuis se mediese beampte, reeds 13 jaar woonagtig by die kinderhuis waar sy ook met fondsinsamelings betrokke was.
Al haar kinders slaag matriek hoergraad met uitstekende punte - die jongste Morkel, slaag met 6 onderskeidings as die Duks leerling van 2006. Sy gee ook aan al haar kinders die geleentheid tot tersiere opleiding
Sofie is nie alleen ‘n Sprinkbok-landloop atleet nie maar ‘n lewens-langafstandmens. Ten spyte van die pyn en hartseer en swaar het sy opgestaan en vasgebyt en oorwin.
Sofie jy inspireer ons vroue met jou volharding en uithouvermoe en geloof.