Elke keer wanneer ek aan haar storie dink, besef ek watter inspirasie sy vir my is - indien ek ooit moeg en moedeloos oor my vraagstukke in die lewe is, dien Rozanne as genoegsame motivering om als weer aan te durf! Sy is 'n begaafde vrou met niks minder nie as drie grade agter haar naam. Sy't 'n talent vir bemarking en besigheid - maar haar hart lê in sendingwerk. Op twaalf jaar het sy verskriklike brandwonde opgedoen. Haar gesig was erg geskend en sy het amper haar vingers verloor.
In die vlamme, vertel sy, het sy 'n Engel gesien. Toe hulle met die veloorplantings begin het sy bonatuurlik genees - geen letsels het oorgebly nie. Sy was drie maande lank in die hospitaal.
Tien jaar gelede is sy met skildklierprobleme gediagnoseer en sy het binne drie weke 65kg verloor. Skielik is sy 'n diabeet in die ergste graad - sy beland skoon in 'n koma by verskeie geleenthede. Die gevolg daarvan is senuwee-eindpuntbesering wat haar ledemate verlam; sy loop moeilik.
Tog het sy n passie vir die lewe en vir mense want sy wéét dat sy gesond gaan word, sê sy. En dit is besig om te gebeur...
Rozanne, jou positiwiteit te midde van jou omstandighede laat my mond oophang. Jy het swaar geloop om jou Incelebration -toekenning te kom ontvang maar jy het dit met onwrikbare geloof en absolute waardigheid gedoen!