Ronel Fouché

Ronel Fouché & Sonja Herholdt

Ek het die voorreg gehad om in Maart erkenning te kon gee aan 'n besondere vrou in Kimberley. Bo en behalwe haar aangrypende storie wat sy self skryf het sy nog ook kanker oorwin.

Sy is vir my'n inspirasie en 'n rolmodel - iemand by wie elkeen van ons kan leer wat hard val, opstaan en weer probeer ......... beteken.

Dit was verblydend toe sy vir my sê dat toe sy haar storie klaar geksryf het tussen al die trane deur - was dit so bevrydend - en dat sy dit reeds lank terug al moes doen.

Liewe Ronél - baie dankie dat jy jou hart met ons gedeel het. Dit is vir my 'n ongelooflike voorreg!

MY STORIE VAN HARD VAL - OPSTAAN EN WEER PROBEER
Met blink oë en 'n onsterflike liefde vir my man het ek op 8 Mei 1982 voor die kansel gestaan. Gehoorsame (boring) kind vir my ouers - hulle nooit teleurgestel nie, behalwe die dag toe ek met die nuus kom dat ek met die spesifieke man wil trou. Ek moes geluister het want hulle lewenservaring is soveel meer as myne op 21.

"Trou, maar julle sal nooit kinders kan hê nie" het skoonma vertel want daars fout by haar seun.
Toe nie 'n fout nie want 19 maande later is die mooiste seuntjieskind vir 'n ma en pa gebore. Ek het altyd gesê seun of dogter - wat my Hemelse Pa my mee "bless" is reg, solank al die tone en vingertjies op hulle plek is. Woorde wat na my kind se geboorte een vir een na my toe teruggekom het. AI die tone en vingers was daar, maar hy was gebore met klomp voete en op vier dae oud het hy sy eerste gipsies gedra.

Die ortopeet het my voorberei dat hy nooit sou kon loop nie maar dit wou ek nie hoor of glo nie
Na sewe operasies en baie trane en gebede later kon hy op 2 jaar en 8 maande vir die eerste keer sonder hulp loop. Dit het met hom beter gegaan as met my, want hy het nie normale bene geken nie en was tevrede met syne - net as hy moeg was het die linkerbeentjie gesleep, en dit het hom soms laat val.

Die afwyking was geneties en verkieslik moes ek nie weer swanger raak nie. Famous last words. Ons tweede seun sou gebore word as die eerste 21 maande oud was en baie toetse is op ma en baba gedoen om vordering dop te hou. Op 'n Vrydag so 18 weke ver het ek met goeie nuus van die dokter af huistoe gery want als was op spoor en ek wou dit aan my man gaan vertel. Hy was besig met eksamen vir BA Honneurs en met studieverlof by die huis.

Hy en sy sekretaresse was so aan die vroetel op die sitkamermat, dat hulle my nie gesien of gehoor het nie. Verbouereerd en stil geskok het ek omqevlieg en gehardloop. Net genade het my veilig by die werk teruggebring.
Trots het my gekeer om te skei en ek wou almal wat geskinder het verkeerd bewys. Vasgebyt en aangegaan. Elke dag met verwyte "kyk hoe Iyk jy!"'
Dit was die rede vir die rondlopery.

Die volgende Donderdag was ek in die hospitaal met 'n miskraam. Het die Here my gered omdat Hy geweet het wat wag? Ek weet nie. Ek het wel die duiwel se leuen geglo en begin oefen, elke moontlike tydjie wat ek kon afknyp. As my seun aangesterk het na operasies het ek langs sy bed geoefen, getrou, want "kyk hoe Iyk jy" het op my skouer gesit.
My man het vir 'n onderhoud in die Vrystaat gegaan en ons het getrek. Die pragtige sekretaresse was weer vir hom een te veel en ons dominee het my daarvan kom vertel. My seun was nou 6 en in die skool. Ek het gekwalifiseer as aerobiese instruktriese en elke oomblik geniet. Meer geoefen om beter te Iyk So moet sy vrou mos Iyk! Na 'n seevakansie vind ek uit ek is weer swanger en kan die vreugde nie keer nie. Dankie Here dat U vir my goed is.

Die swangerskap was van die begin af nie goed nie en op 28 weke is nog 'n seuntjie doodgebore. Ek het stukkie vir stukkie saam met hom gesterf
Ons het Kaaptoe getrek en weer kon ek voorbegin, want niemand het van sy streke geweet nie. Daar was elf buite-egtelike verhoudings waarvan ek geweet het van meisies oor die heIe land. Later selfs anderskleuriges in 'n politieke tyd toe dit nog nie aanvaar is nie.
In watter gat druk jy jou kop om van die skaam en vernedering weg te kom. Hoe keer ek dat my kind wat sy Pappa aanbid dit agterkom.

Hy is uiteindelik van seksuele teistering aangekla deur drie kleurlingmeisies en hy het sy werk verloor.
Ek het weereens oorweeg om te skei maar ek het nie gewerk nie en kon van hom geen onderhoud kry nie. Ons het in een huis gebly maar twee lewens gelei want ek wou van hom en sy streke niks weet nie.

Ons het deur ‘n baie moeilike tyd gegaan en omtrent alles verloor en toe begin ek ‘n nasorgsentrum by my kind se skool. Toe kon ons weer asemskep. Later begin ek met interne opleiding om kunsöe te maak. Geloof en kinderlike vertroue is al wat my staande gehou het. Twee jaar en sewe maande was my man werkloos by die huis - maar die Here het vir ons gesorg.
Sy ouers het vir hom werk gekry in Kimberley. Ek wou nie trek nie want ek het twee bedrywe wat ons aan die lewe hou in die Kaap, maar my man belowe plegtig dat hy klaar is met sy streke en ek vra vir die Here vir ‘n teken.
Hy het baie min in die Kaap kom kuier as gevolg van kostes - maar een so ‘n keer wat hy die naweek daar was het ons wel lepelgelê - en ek het begin gewigoptel ...... en ek het net harder geoefen............ Ja, ek was weer swanger!
Dit was my teken dat ek moes skuif Kimberley toe.

Toe my oudste seun 12 was trek ons Kimberley toe en koop die mooiste ou huis met oregonvloere en staalplafonne. Die geluk het my oorweldig en die nuwe boetie is in die winter gebore en die gesin was voltallig - ‘n fees om in Kimberley te bly!! Ek het begin bak vir ‘n tuisnywerheid. My klein seuntjie was 'n koliekbaba en het permanent geskree.
Ouboet het in krieket begin uitblink. Dis nou die knaap wat nooit sou kon loop nie. - en Ma se hart wou bars van trots cp die twee mooie seuns.

Pa het gevorder by die werk en was al minder by die huis, selfs weg oor noweke. Ek wou nie na die duiwel op my skouer luister nie. Weer het die predikant met die tyding by my gekom. Hulle het geweet waarmee my man besig was. Dit het erger geword en ek het my lyf speurder gehou.
Ek het al die getuienisse bymekaar gekry - dit was agtien jaar later en hy het nie verander nie.Dit was nou klaar en verby.
Ek het die appelkar omgegooi en ons is geskei toe kleinboet 18 maande oud was. Ouboet was in st 8 en baie skaam vir sy pa.
Hy het al die nare stories by die skool gehoor en het swaar getrek. Ek moes aan die lewe bly na die egskeiding en het ‘n winkel gekoop. Baie veeleisend want ek moes 2 weke uit 'n maand in Johannesburg wees vir opleiding. Die gras by die huis was lank, die swembad was groen na elke bui reën en ek moes twee seuns gelukkig hou. In die hele land was daar nie 'n ma wat kon boul en bat soos ek nie. Pa was heeltemal afwesig en ek net probeer om beide ouers se skoene vol te staan.

Tussentyd het my Mamma in Gauteng siek geword en is Maart 2003 na 'n groot operasie met kanker gediagnoseer. Dit was reeds ver versprei en sy het vinnig agteruitgegaan, Ek het Vrydag. 12HOO vir kleinboet by die kleurerskool gekry en Gauteng toe gery om vir Pa bietjie af te los om vir Mamma ter versorg.Ons het met die Here gestoei oor die siekte en leiding. Later het sy nie meer geeet of gepraat nie. Net met die hand op die toe Bybel gelê, en op 13 April is sy weg na ‘n swaar lyding..

Oudste broer was in 2002 in matriek en ons moes sy toekoms beplan.
Daar was 'n moontlikheid van krieket speel in Australië, maar as gevolg van die bene en voete het ons besluit hy moet eerder gaan studeer.. Spier se sjefskool net nom as student aanvoar en na skool sou hy in Stellenbosch gaan bly.
Pa is die einde van 2002 met die meisie by wie hy toe gebly net, getroud. Ek het die vlaktes ingery met kleinboet. Daar waar geen selfocnopvangs tussen die diere op die wildsplaas was hie. Net ons twee en die diere as toeskouers en baie trane.

Ouboet was stukkend want die dag met die troue het Pa hom verplig om strooijonker te wees.....in die middel van sy matriekeindeksamen. Nog meer rede om uit die dorp weg te kom. Die spot van die maters - "jou pa het dan 'n kleurlingvrou"- was vir hom te veel.
Hy is 2003 Spier toe en het homself op sy ander doopnaam aan sy vriende bekendgestel en met 'n nuwe lewe begin. Wou nooit terugkom Kimberley toe nie. Hy net net soms kom kuier en dan by die huis gemuf soos hy dit genoem het. Sy spesialiteit in die kombuis was broodbak en so het hy sy ma bederf. April 2004 het ek en die seuns ons eie huis gekoop en die kornbuis was ingerig volgens ouboet se vereistes - Fit for a KiNG!!!

Ouboet het Februarie van 2005 terwyl hy nog geleer het werk aanvaar as kombuisbestuurder by 'n groot restaurant buite Stellenbosch. Hy was in sy element. 'n Regte platjie en terggees en baie gewild onder die. pelle, veral die oulike meisies het tougestaan. Ons het vir hom daar gaan kuier en 'n blyplekkie ingerig. As hy gebel het en net gesê het "Lekker verjaar Frikkie," het ek geweet ... vannag gaan hulle dagbreek toe...... .

Ouboet sou 20 Desember huistoe kom vir die kerstyd en net na nuwejaar sou ek, die twee seuns en drie pelle Rheebok toe gaan na my broer se strandhuis vir die res van ons vakansie. Die beskuit en koekblikke was reeds vol. Ek moes darem wys dat ek ook iets kon bak.

Sondag die 12de het ek net voor ek ry kerktoe vir hom 'n sms gepos om te vra wat hy graag as kerspersent wou hê Mooi aantrek was sy liefde en ek wou iets koop waarvan hy sou hou. Na kerk huistoe, die hoender voorberei om op die spit te gaan vir 'n laat middagete en ek het die slaaie gemaak Kaalvoet, kortbroek en t-hemp aan. 'n Rustige Sondag soos ek dit nou nog verkies.

Twee uur die middag het my selfoon in die kamer gelui. Die skerm het my vertel dis die restaurant waar hy gewerk het. Dit was vreemd aangesien hy Saterdagaand laat gewerk het en toegesluit het. Hy werk dan eers weer Sondag 16HOO. Dit was Pam wat gepraat het, gevra hoe dit gaan. Sy het die skof gewerk as hy af was.
Ek het gevra hoekom my kind nie self bel nie. Pam besef toe dat ek nog nie die tyding gekry het nie - en sy wou dan simpatiseer..... maar sy vertel my toe dat my kind die vorige nag in ‘n motorongeluk oorlede is en dat sy so jammer is ......... en dat sy nie geweet het dat ek nog nie geweet het nie.

Die skok, ontkenning, ongeloof, watter geleerde woorde ookal, als is soos 'n masjiengeweer deur my lyf. My asem was weg en ek het nie geweet wat om te doen nie. G'n wonder hy het nie sy sms beantwoord nie..... Na die tyd het vriende vertel hulle het op Ulco, Jeffreys en in die Kaap reeds vroeg die oggend geweet hy is dood, maar niemand - ook nie die polisie nie - het my laat weet nie....

Ek het die pa gebel om hom die tyding te gee. Kleinboet het scos 'n verskrikte hasie voor my gestaan met groot trane wat oor sy wange rol. Hy was oud genoeg om te weet sy hero was nie meer nie.
My pa was nog altyd my redding en ek het hom gebel. Op sy kalm manier het hy getroos en Maandagmore vroeg was my pa en my Ouboet in Kimberley.

Ons is AVBOB toe om reëlings te tref. Dit was te duur om hom te laat haal en ons het besluit om hom self te gaan haal.
Dinsdag 03HOO het ek , my pa en broer gery. Ons het vroeg gery want ek kon nie eet of slaap nie en het die ander twee vroeg wakker gemaak.
My kind se pa het hie die guts gehad om sy kind te gaan uitken nie. Die kleintjie was in Kimberley versorg. Die trauma was vir sy Iyfie te veel. Die boetie wat met ons gery het, was die een wat die vaderlike pligte oorgeneem het na my egskeiding. Hulle was erg oor mekaar.

Die Iykskouing was 11HOO by die polisie se Iykshuis in Stellenbosch. Ons was betyds daar. Ek het hom net daarna gesien. Hy het dan net geslaap maar wou nie met my praat nie. Niks aan hom was stukkend nie. Ek het net die gare van die dokter se steke agter by sy nek gesien - nie eers bloed nie. So mooi soos ek hom onthou het.
Die dokter het met ons gepraat en vertel dat hy uit die kar geval het en die kar het hom raakgeval en inwendige beserings het sy lewe geeis.

Tog net hy gelyk of hy rustig slaap - die kuif nog so stokstyf gejel soos hy dit altyd gedra het. Hy het tot dieselfde geruik. So mooi en vorsgebou - 115kg groot.

Die polisieman wat die saak hanteer het, het ons gaan wys hoe en waar die ongeluk gebeur het. My kind het links voor gesit en was vas aan die slaap na die lang skof wat hy gewerk het.
Die vriend wat bestuur het, het 180km per uur in 'n 60km zone gery met te veel bloed in sy alkoholstroom. Hy het beheer verloor en gerol.

Die vriend was in intensief vir 3 dae met skouerbeserings.
Daardie dag het ek op my kind se spore gestap wat hy die laaste 2 dae gestap het - so soortvan om finaliteit te kry. Sy selfoon se stukke het ek in die grond gekry maar die simkaard met my laaste sms op , is nou nog êrens langs die pad by sy kruis.

Die pelle het saamgehuil. AI sy aardse besittings is bymekaar gemaak, tot die mandjie vars gewaste wasgoed wat hy die Saterdagoggend voor werk gaan haal het.
Hanlie, die eienaar van die restaurant het 'n gedenkdiens gereel met blomme en als wat daar gewoonlik is. Tog het ek gevoel dis onwerklik en ek hoort nie daar nie. My kind kan mos nie dood wees nie. Amazing Grace het nuwe betekenis gekry toe die swart kelners dit vir hom as afskeidsgroet gesing het - eintlik vaarwel toegeroep het......
Woensdagoggend vyfuur het ons hom by die Iykshuis opgelaai en al sy aardse goed om hom in die 6 voet Venter gepak. Dit was in die tyd van petrol en diesel skoorste en met AVBOB se hulp kon ons nood-diesel op elke dorp kry. Hy moes so gou moontik by AVBOB in Kimberley kom.

Hoe ry 'n mens voor in die x5 ......... EN MY KIND IS AGTERIN, DIE DEKSEL STYF TOEGEMAAK.
22hOO was ons veilig in Kimberley en hy afgelaai. Ek her gevra dat hulle die vervoerkis oopmaak dat ek hom nog 'n maal kon sien. Moeg maar meer tevrede het ek bedtoe gegaan. Sy Iyfie was by die huis.
Hoe ek deur die dae tot by die begrafnis gekom het, weet ek nie. Genade en nagmaals genade. Baie kos, oproepe, blomme en mense.

Ek wou hulle wegjaag want ek wou eerder my kind daar gehad het. Wat moes ek met die klomp blomme doen???
Donderdag moes ek klere kies om hom te gaan aanterk. Wat trek mens jou kind aan vir sy laaste reis?? Sy sjefbaadjie wat hy elke dag moes dra, sy matriekafskeidpak of iets anders?? Ek het op sy gunsteling kuierklere besluit en het hom gaan aantrek, hare gejel asof hy uitgegaan het. Die afskeidsbrief wat ek die vorige nag vir hom geskryf het het ek in sy hand gesit saam met blomme van my en Kleinboet af.

Vrydag was Dingaansdag en ek het deur nog 'n dag en nag geworstel Die maak van die kisruiker het gehelp om my besig te hou - die laaste liefdesdiens aan my pragtige kind wat te vroeg weg is.
Saterdag was 'n snikhete somersdag in Kimberley. Mense was van vroeg af by my huis en ek het weggeloop om die kerk te gaan mooimaak, die liedere te kies en om stil te raak by die Here se
voete en Hom gesmeek om my deur hierdie bitter dag te dra.

Daarna is ek AVBOB toe en by hom gesit totdat die kis finaal geseël moes word.
Ek wou sy Iyfle in die kerk he. maar die kis moes toe wees. Hoe ek dit reggekry het weet ek nie. maar ek kon vir hom die oorwinningslied sing sonder enige teken van trane of hartseer. Hy was veilig teen ons Here se bors en Hy het ook vir my en Kleinboet styf teen Sy Bors vasgedruk. By die begraafplaas het ek en my boeties hom self met elke graaf sand toegegooi.

Later het skoonma my by die graf kom weghaal,want ek wou nie ry nie - hoe los jy jou lieflingskind daar tussen al die vreemde grafte!!!!
Steeds kon ek nie eet

Ouboet het Kimberley toe gekom soos ons beplan het - maar die buskaartjie vir 20 Desember 2005 het hy toe nie gebruik nie .......

Dis nou al 2010 - lank nadat hy weg is. Vir 'n moeder se hart voel dit na gister. Hierdie is my eerste poging om my gevoelens op papier neer te sit en dit was ongelooflik moeilik. Die tikfoute is daar omdat ek nie deur die trane kon sien nie. Ek is steeds alleen, 10 jaar later en nooit weer getroud nie.

Dis net ek, Kleinboet wat nou al 13 is, Irene my getroue assistent wat nou nog in die nag kom troos as
die verlange te veel word, en ons twee worshonde.

Dankie Here dat U my elke keer opgehelp het as ek geval het en my op verkeerde paaie kom haal het as ek afgedwaal het.

Dankie vir die moeite wat U met elke skapie doen ............ vandag nog.

Ronel Fouché