Riette Dykman

Riette Dykman & Sonja Herholdt

Hi Sonja!Hier is my storie. Tot en met 28 Februarie 2007 het ek, Riëtte Dykman, rede om myself te klassifiseer as ‘n vrou wat volmaak gelukkig is! Ek is die vrou van Neels Dykman, ‘n makelaar in Kroonstad. ‘n Droomman en die Pa van my 4 kinders.Ek het my uitgeleef in my beroep as kindertuinonderwyseres. Saam met my kinders se bedrywighede was my dae vol en bedrywig. My adrenalien het oortyd gewerk, maar dit was vir my lekker en as ek nou terugdink......mis ek dit nogal! November 2006 maak ons reg om see toe te gaan. Ek raak bewus van ‘n tand wat doodgaan, maar steur my nie veel daaraan nie. Ek maak tog ‘n afspraak by die tandarts want ek's tog nie lus om met ‘n abses by die see te sukkel nie! My tandarts sien egter geen fout nie en stel voor dat ek lekker moet gaan vakansie hou en as ek terugkom en die tand pla nog steeds, verwys hy my na Dr vd Merwe - ‘n mond- en kaak chirurg. Gedurende die Desembervakansie ervaar ek vreemde sensasies op my ken en bly die tand steeds sonder gevoel. Toe ons terugkom by die huis maak ek dadelik ‘n afspraak by Dr. v.d. Merwe, die mond en kaak chirurg. Sy sien geen fout nie en vermoed dat ek op my tande kners tydens slaap en dat sy vir my ‘n bytplaatjie gaan maak waarmee ek moet slaap. In die week wat ek vir die bytplaatjie wag om gemaak te word voel ek ‘n ronde knoppie op my ken soos ‘n ertjie. Toe ek gaan om my plaatjie te gaan haal, vertel ek van die knoppie en besluit Dr. v.d. Merwe om dit sommer lokaal te verwyder en weg te stuur na die patoloë om te ontleed.In die week daarna kry ek ‘n oproep van Dr. v.d. Merwe wat voorstel dat ek opgeneem moet word om ‘n biopsie van die kaak te neem, want sy voel onrustig oor die uitslae van die vorige biopsie. Op 28 Februarie 2006 bel sy my dat ek en Neels, haar dringend moet kom sien.Ons wêreld tuimel inmekaar want ek word gediagnoseer met condroiëde-osteosarkoom - kanker in die kakebeen. Dr. v.d. Merwe stel voor dat ek vir geloofsgenesing na Bennie Hinn gaan wat toe op daardie stadium in die RSA sou wees en binne die vlge twee weke in Port Elizabeth sou optree.Die Here wys egter duidelik vir my dat dit nie die pad is wat Hy my wil laat stap nie. Hy het ‘n ander pad vir my ingedagte - die pad van 2 Kron 20. Hy wil hê dat ek deur die oorlog moet gaan MAAR Hy sal vir my veg en my NOOIT alleen los nie en ek hoef vir NIKS bang te wees nie! Ek land by ‘n wonderlike onkoloog. Sy prognose is heel gunstig en ons was baie verlig dat die kanker nêrens heen versprei het nie. My kanse is 70% op volkome herstel maar ek sou strawwe chemoterapie ontvang. Dit moet die been binnedring want daar is nie baie goeie bloedsomloop in die area van die gewas nie. Met elke chemo sou ek vir 3 dae in die hospitaal opgeneem word omdat my witbloedtelling baie sou daal en dit my weerstand so laag sou maak wat my baie ontvanklik vir enige kieme en virusse sou maak. Indien my koors enigsins sou styg moes ek onmiddellik Pretoria toe om dadelik opgeneem te word in isolasie. Wanneer die chemo voltooi is, sal ek chirurgie moet ondergaan om die deel van die kakebeen te verwyder waar die gewas was. Phibula oorplanting uit die onderbeen sal gedoen word, asook are uit die onderbeen wat bloed sal verskaf aan die been. Dit sal ‘n 9ure operasie wees MAAR dan is ons klaar! Aan die voete van Jesus begin ons die pad te stap. Gebedskettings en gebede van Kroonstad tot regoor die hele land is aan die gang gesit. Dit is hier waar ek die krag van gebed ervaar en beleef het wat vir my en my gesin arendsvlerke gegee het in moeilike tye. Ek het deurgaans ‘n wonderlike ondersteuningsraamwerk gehad wat bestaan het uit God, my man en kinders, my familie en kosbare vriende.Ons het elke chemo in afhanklikheid van God aangepak en Sy wonderwerke ervaar! My reaksie op die chemo was ‘n bewys dat NIKS te erg of groot kan wees om in die pad van God se ongelooflike krag te staan nie. Die simptome wat die onkoloog voorspel het het ek nie so erg ondervind nie. Ek was baie moeg en narerig maar sodra ek by die huis gekom het het ek vir 2 dae aanmekaar geslaap waartydens Neels my net wakker gemaak het om water te drink of te bad. Na 2 dae was ek reg! My witbloedtelling het wel gedaal maar dit was nie een keer nodig dat ek in die hospitaal opgeneem hoef te word nie. Baie dankbaar en verlig voltooi ek my chemo met die wete dat ons nou nog net die operasie het wat voorlê.Die dokters berei ons voor op ‘n groot operasie. God maak ons weer rustig en Hy geen ons kalmte en vrede. Ek en Neels praat mekaar moed in met die wete dat dit nou die laaste van ons oorlogspad is. Die oggend van die 14de Julie 8 uur word ek ingestoot teater toe. Die operasie loop goed af. Ek word wakker, baie geswel en vol pype maar baie verlig dat dit nou verby is. Die swelsel word egter al hoe erger - terug teater toe. Die aar wat oorgeplant is het toegegaan. ‘n Week later is ons oppad huistoe. Ons kan nie genoeg dankie se dat alles nou verby is nie!Van hier af het die Here vir ons gewys dat die dokters se pad nie altyd Sy pad is nie. Die onkoloog bel met die skokkende nuus dat daar nog kankereilande aan die punte van die been gevind is wat verwyder is!!! Die gewas was groter as wat hulle gedink het. Ek sou weer geopereer moes word en nog chemo moes kry!Hoe kan ek ons gevoelens anders beskryf as geskok, verslae en teleurgesteld! Ons kies weer die pad wat vir ons die vorige kere so goed gewerk het. Ons begin bid, familie en vriende bid en gebedskettings word weer aan die gang gesit. God sorg weer. Ons ervaar Sy kalmte en vrede. God trek ons nog nader. Op daardie stadium is Jan ons oudste seun ‘n 2de jaar student op Tuks, Juli is in haar matriekjaar, Ranie in Gr. 10 en Cornelis in Gr 6. Ons kinders is verward en weet nie wat om te verwag nie. In tye wat ek en Neels weg is, het hulle in die koshuis gebly. Wonderlike vriende en familie het hulle oor hulle ontferm, maar die vrae en onsekerheid was maar altyd op die gesiggies. Vier dae na die tweede operasie kry ons die uitslag van die pataloë , nog kankerselle, en ek moet WEER vir ‘n derde keer geopereer word. Nou wil ons moed ons begewe! Gaan ons ooit weer lig sien in hierdie donker tonnel? Hulle gaan nou hierdie keer die phibula wat oorgeplant was uithaal en dit vervang met ‘n groter plaat. ‘n Baie pynlike operasie!! GROOT was ons verligting en dankbaarheid om uiteindelik te hoor dat daar geen teken van enige kankerselle meer was nie. Die onkoloog stel voor dat ek nog 1 sessie chemo moes kry vir veiligheid. Die Here weet wanneer ons swak is want ek het regtig nie kans gesien op daardie stadium vir chemo nie. Die baie narkose in ‘n kort tydjie het sy tol geëis. Weer ervaar ek hoe die Here my vashou en krag gee sodat die simptome van die laaste chemo die heel ligste van almal was! Die Here het mos vir my gesê Hy sal die oorlog vir my veg!! Nou bly daar nog net die rekonstruksie oor wanneer die ander phibula oorgeplant gaan word met are vir die implantate - die gedagte om weer tande te kan hê was wonderlik. Onder my ken en onder my tong voel ek egter die heeltyd ‘n growwerigheid maar almal stel my gerus dat dit net bindweefsel is wat vorm om die sny van die operasie. Ek bly egter ongerus en Maart 2008 dring ek daarop aan die daar ‘n biopsie van die growwerigheid geneem moet word.Weer soos die vorige keer is ons by die see toe die telefoon lui om al die wind uit ons seile te neem want daar is weer kankerselle gevind!!! Hierdie keer sou hulle uit my bobeen spier verwyder om in die mondvloer in te plant vir alles wat hulle moet wegsny. Ek voel so onseker en wonder tot waar gaan hulle moet wegsny en wat van my gesig oor gaan bly??Ek besef dat vrees en angstigheid nie van die Here afkom nie en gee my totaal en al aan Hom oor. Dwarsdeur alles het Neels my so bygestaan. Vir hom moes dit so moeilik gewees het want wanneer ek diep onder narkose was en van niks geweet het nie moes hy en die kinders wag. Dit is hy wat my elke keer moes aanskou vol pype en geswel en wat vir ‘n hele dag moes wag en wonder tot ek uit die teater kom. Wanneer die kinders vraend na hom gekyk het moes hy moedinpraat - al was dit self onseker in sy binneste. Hy is en was WONDERLIK en het ook deur die hele tyd baie nader aan die Here gekom! Dit was weer ‘n 10 ure lange operasie! Alles het goed afgeloop sonder enige komplikasies maar hulle het so baie weggesny en ook van my tong se spiere - die gevolg is dat ek so geswel was dat ek nie kon sluk of praat nie.Vir 2 maande kon ek net baie dun sop eet. Aan die begin moes ek dit met ‘n groot inspuiting stadig in my keel spuit. Hoe meer die swelsel gesak het hoe beter kon ek sluk. My hele kakebeen was op hierdie stadium verwyder, dus, geen ondertande nie. Vir my was dit iets waarop ek nie voorbereid was nie want praat, rooilippe, lekker eet en lag was deel van my lewe! Daar was weer biopsies oral in my mond gedoen om seker te maak al die kanker is verwyder en toe ek hoor al my uitslae is skoon het ek net besef om moeilik te praat en te eet kan nie opweeg teen die feit dat ek skoon is van enige kanker nie.Ek sien met groot verwagting uit na Januarie 2009 wanneer my rekonstruksie gaan plaasvind en Prys die Here elke dag en vergeet nie van Sy goeie dade nie - Hy het my sondes vergewe en my van my siekte genees Ps 103:2. Ek het ook ‘n wonderlike skrifgedeelte gekry waaraan ek so vashou. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit so: Jer 31:4 Ek gaan jou weer herbou soos jy vroeer was jong vrou Israel. Jy sal weer jou tamboeryne te voorskyn haal. Jy sal dans en vrolik wees. Jy sal weer jou wingerde plant. Met baie liefdeRiëtte