Riekie Wolmarans

Hierdie vrou kom uit ‘n groot gesin en was die spreekwoordelike "ongeluksvoeltjie"van kleintyd af. Sy het grootgeword in ‘n baie normale gelukkige huis maar bene breek en kop oopstamp, noem dit - dit het haar oorgekom. Op 6-jarige ouderdom val sy haar ogie oop en word blind gelaat en moet ‘n bril kry en in graad 2 verloor sy al haar tande en moet valstande kry. Het dit haar selfbeeld ‘n knak gegee - toe nou nie! Nie Riekie Wolmarans nie.
Sy is jonk getroud en nie lank na die troue nie het sy ‘n pragtige dogtertjie en sy verwag later weer ‘n seuntjie . Maar toe gebeur die lewe en net 19 dae voor die geboorte van haar seuntjie sterf haar man in ‘n nare ongeluk.

Sy bring haar seuntjie alleen in die wereld en ten spyte van die hartseer wat sy beleef neem sy die verantwoordelikheid op en lig haar kop op en versorg haar twee kinders met al die toewyding wat in haar is.
"n Wonderlike man stap in haar lewe in en hy was soos die ridder op die wit perd vir haar en haar kinders en later is daar nog twee kinders gebore. Sy was son gelukkig!

Die geluk was van korte duur want sy verloor hierdie wonderlike man ook aan die dood. Hierdie keer moet sy alleen 4 kinders versorg en haar en haar man se werk behartig om te kan oorleef.

Die trauma en harde werk het sy tol geeis en sy word ‘n diabeet wat daagliks insulien moet spuit maar verloor nie geloof of hoop nie.Sy maak die beste daarvan en hanteer haar situasie ongelooflik goed.

Riekie trou vir die derde keer met ‘n man wat 3 kinders van sy eie het en nou is daar 7 kinders in die huis. Vandag is almal uit die huis en groot maar Riekie word met die grootste agting en liefde bejeen omdat sy soveel liefde en omgee in hulle lewens bele het.

Dit was nie moeilik om dit die aand wat ek hulle ontmoet het op te tel nie - dit was tasbaar.

Riekie is nie altyd so gesond nie maar sy is altyd blymoedig en sy sug nooit as die lewe druk nie en haar liefde vir die Here en haar naaste is ‘n les wat ons almal uit haar lewe leer.

Dankie Riekie vir die voorreg om jou menswees te vereer. Jy is ‘n inspirasie vir my!