Rayline Coetzee

Rayline en Frikkie is twee ongelooflike mense. Hulle het rerig 'n besondere storie, ek laat Rayline liewers self vertel. Ek en Frikkie was vir allerhande fertiliteitsbehandelings en uiteindelik (na omtrent 2 jaar) hoor ons die woorde: Mevrou, jy is swanger! Ons was so opgewonde om 'n babatjie te verwag maar ook omdat dit die Here was wat ons en SOVEEL ander mense se gebed verhoor het - praat van celebration! Op ongeveer (ek dink) 16 weke moes ons gaan vir 'n sonar - bitter opgewonde omdat ons meer van ons kind sou kon sien en Frikkie sou kon uitvind of dit ‘n seun of 'n meisiekind is -ek wou nie weet nie en dit was ons ooreenkoms.

Die dr het mooi verduidelik dat sy die nekvelletjie sou meet en dit moes onder 1.5mm (dink so) gemeet het - doodtevrede is ons toe na die sonarbed - ons het nie iets gehad om oor bekommerd te wees nie want die Here het ons gebed verhoor vir die kind en Hy het self 'n plan met hom/haar lewe - dit het ons baie keer by die Here self gekry! Ys-yskoue water sou ons nie kon voorberei vir dit wat ons toe hoor nie.
Die nekvelletjie was 6 mm, daar was vog vanaf die wenkbroue tot op die stuitjie en daar was verhoogde druk in die longe asook in die niere, Die dr het aan ons verduidelik dat dit een van 3 goed kan beteken, Down-sindroom en nog twee ander waar ons baba blind en doof gebore kan word of een waar hy/sy net 6 maande sou lewe. 8% kans vir normaliteit.

Ons moes toe die besluit neem of ons verdere toetse sou doen wat die gevaar van 'n miskraam gehad het. Op die ou end het ons voortgegaan met die amniosintese en moes ons wag vir die uitslag. Die uitslag was Down-Sindroom - wil ons aborteer of nie? Ons het daarmee saam gehoor dit is 'n meisiekind.

Dit was my eerste ernstige konfrontasie met die waarde wat ek regtig op mense se lewe plaas. Is ek bereid om die baba waarvoor ek die Here gesmeek het te laat aborteer omdat ek dink haar lewe is minder werd as ‘n "normale" mens s'n. Wat is "normaal"? Op geen vlak kon ons onsself kry om te aborteer nie. Ons het gekies dat sy lewe. En in haar lewetjie is dit 'n keuse wat ons oor en oor moes maak.

Ons het besluit om dit net met ons naby mense te deel. My begeerte was dat mense opgewonde moet uitsien na ons meisiekind se geboorte. Lief sou mens vir haar raak wanneer sy daar is. Ek dink ek het self ook tyd nodig gehad om dit net te verwerk en te begin aanvaar. Alhoewel ek vas geglo het erens is daar 'n fout gemaak met die diagnose en dat sy "normaal" gebore sou word.

Deur die hele proses het die Here (deur my swaer) vir ons ‘n teks gegee wat baie prominent was - "... sodat die werke wat God doen, in haar gesien kan word." Joh 9:3b

Na die sonar het die ginekoloog vir ons gesê hul sal sorg vir 'n span om ons babatjie te ontvang wanneer sy gebore word, waaronder ook 'n pediatriese kardioloog sodat hul onmiddellik kan opereer op die hartjie. Ons ginekoloog was regtig besonder deernisvol en het ons verseker van die heel beste mediese sorg denkbaar.

Ons het ons mediese plan verhoog tot op die heel hoogste vlak. Intussen moes ons weer gaan vir 'n sonar - die uitslag was dat dit nie meer nodig was vir onmiddellike mediese sorg by geboorte nie. Dit lyk asof die septum vanself toegegroei het!

Andreia het ons haar naam gekies. Vernoem na haar Oupa Andre. Haar naam beteken ook dapper - min het ons geweet hoe dapper sy nog sou moet wees.

Andreia is gebore en die pediater het die diagnose van Down-sindroom bevestig en my man het dit die Sondag (Andreia is op die Donderdag gebore) met die gemeente gedeel. (Hy is 'n predikant)

Ons was totaal onvoorbereid en totaal broos gelaat met die massa liefde wat na ons toe gekom het.

Die Sondag het ek en Andreia huis-toe gekom. Dit was so spesiaal om Andreia en haar Pappa te sien slaap - sy doodtevrede in sy arms. Net om die volgende dag terug te gaan hospitaal toe met geelsug. Die volgende 2 weke voer ons 'n stryd met 'n langdurige geelsug en bloedtoetse en blou ligte. Emosioneel was dit vir my 'n aaklige ervaring.

Die pediater het gesê ons moet op 4 weke kom vir ons eerste ondersoek en nie op 6 weke soos ander babatjies nie - hy was bekommerd - hy hoor toe 'n geruis op haar hartjie en ons moet weer gaan vir 'n sonar.

Die uitspraak - ons meisiekind het net een hartkamer - in 2 verdeel met 1 klep. ('n gesonde hart het 4 hartkamers verdeel deur 'n septum in die middel af en 2 kleppe in die dwarste) Die kardioloog wat die eerste sonar doen het basies vir ons gesê ons moet huis toe gaan en haar geniet vir solank ons haar het - haar hart behoort vir sowat 4 jaar haar lyfie te kan dra. Die naam daarvoor - Atrioventricular septal defect (ASVD) Tipe C - maw die heel slegste een wat jy kry. Die risiko vir die chirurgie is baie hoog. Buitendien is daar nie regtig plek vir gestremdes in die samelewing nie so ons moet nie byna onmoontlike chirurgie aanpak nie.

Ons het besluit om vir 'n tweede opinie te gaan. Dr Susan Vosloo is die tweede opinie en soos ons al gewoond geraak het staal ons ons vir die slegte nuus. Ja sê sy dit is 'n slegte defek veral omdat sy ook verhoogde druk in die longe het waarvoor ons sal moet opereer voor 12 weke anders is die skade in die longe te groot. Die hartoperasie sal daarna volg. Heeltemal moontlik en dis ons keuse maar sy sou sê ons moet dit doen want ons gaan nog baie vreugde kry by hierdie meisiekind!

Weer moet ons kies dat Andreia moet leef.

Ons laat die hartoperasie op 10 weke doen. Niks en niemand kon ons voorberei op al die gevoelens en belewenisse in die hospitaal nie. Ons word omgolf deur mense se deernis, liefde en gebede terwyl ons masjiene, intensiewe sorg, neusbuise ens moet leer hanteer.

Andreia hanteer die operasie en die situasie soos 'n stêr. Ons skattekind steel harte sover sy gaan en verdra die pyn en ongemak en naalde en medisyne asof dit normaal is vir alle kinders van 10 weke om deur so 'n belewenis te gaan.

Op die stadium is Andreia 'n jaar oud en ons moet voor 18 maande gaan vir die hartoperasie.

Maar sien sy is eintlik die een wat erkenning verdien. Want sy het ons kom leer van onvoorwaardelike liefde, van versoening, van gebed, van hoe nodig ons ander mense het. Sy het ons kom leer hoe ons almal 'n storie het, want sien sy maak mense sy harte oop om ook met ons die pyn te kom deel wat deel is van hul storie. Sy leer ons ook van deursettingsvermoë en stamina wat ons nie geweet het bestaan nie. En van geloof selfs wanneer ons nie meer kan glo nie. Van 'n Lewende God wat vir ons omgee en wat 'n Naby-God is.

En eintlik verdien elke ouer van ‘n gestremde kind hierdie erkenning. Ek het so min verstaan van ouers met gestremde kinders - alhoewel ek al met kinders met gehoorgestremdheid gewerk het. Ek het ook partykeer gedink hul is oorbeskermend, of wat ook al. Of ek dink meestal het ek net nie gedink nie.

En as hierdie storie wat jy nou gelees het jou bewus kan maak van soveel mammas en pappas se onbaatsugtige liefde. Van mammas en pappas wat maar altyd erens in hul hart 'n seer kol het omdat hul kind nooit "normaal" sal kan wees nie. Wat oor en oor hul kind se toekoms vir die Here gee.

Van Oupas en Oumas wat so 'n ekstra sagte plek het vir hul spesiale kleinkind, wat ook wens dat dit anders kon wees maar partykeer ook daarvan vergeet want hul liefde vir hierdie spesifieke kind oorheers dit. Wat saam bid vir elke stukkie ontwikkeling.

Van Ooms en Tannies wat bederf en onvoorwaardelik daar is. Van niggies en nefies wat nie eintlik soveel omgee dat Andreia anders is , soos die grootmense nie.

En van mede-christene wat 'n mens laat verstaan wat naasteliefde is.

Ek bid elke dag dat die Here vir Andreia sal genees. Want ek weet dat Jesus ook elke sindroom op die kruis gedra het. Ek weet die Lewende God kan wonderwerke doen. Ek sien hoe die Heilige Gees alreeds vir Andreia gebruik om mense aan te raak op baie spesiale maniere. Ek gaan nooit ophou om dit te bid nie.

Ons gebed bly: "... sodat die werke wat God doen, in haar gesien kan word. Joh 9:3b"
En ook bid ek:
"Heer, ek vertrou op U want U is my God"
Ek vertrou dat U elke tree van die pad saam met my, Frikkie en Andreia sal stap.

Rayline, Frikkie en Andreia, julle vul my met inspirasie en respek. Baie dankie vir die voorbeeld wat julle leef.
Al my liefde Sonja x x