Petro Spies

Ek het vir haar erkenning gegee omdat sy een van daardie vroue is wat maar net altyd die hoop raaksien en daarmee hardloop.

Tien jaar gelede was sy nog blakend gesond, en die volgende dag kon sy skaars loop, haarself bad of aantrek. Die diagnose was - neukardites. Na hospitalisasie en drie maande se tuisbehandeling kon sy weer gaan werk, maar die moegheid het die oorhand gekry en sy het bedank en het vir twee jaar by die huis aangesterk.

In die tyd is haar moeder gediagnoseer met longkanker en sy het haar vir 6 maande versorg terwyl sy bedlêend was totdat sy oorlede is.
Haar vader kry beroerte en sy en haar man het hom versorg omdat hy niks vir homself meer kon doen nie. Hy is toe ook oorlede. In die tyd is haar skoonmoeder met kanker gediagnoseer en sy het haar versorg tot sy oorlede is.

Terwyl sy met al hierdie uitdagings moes deel is sy en haar man twee keer beroof in hulle huis.

Kort daarna is haar man met prostaatkanker gediagnoseer en na ses maande se chemo-behandeling het die kanker drasties verklein maar hy kry nou elke drie maande chroniese chemo en moet baie pyn verduur maar hy bly saam met Petro positief en vertrou die Here vir elke dag.

Sy vertel self haar verhaal van die noue ontkoming met die rowers in haar huis:

"Dit was 'n dag soos enige ander en voordat ek na my dogter in Sandton vertrek het ek my bediende gevra om die ligte aan te skakel en die huis te sluit. Sy het gevra hoelaat ons tuis sal wees en ek noem toe - so tussen 8 en 10 nm.

Tien voor agt is ons toe die aand terug.
Die elektroniese hekke gaan oop en die honde hardloop ons tegemoet.
My man het vir my die sekuriteitshek oopgesluit en ek is na ons kamer, terwyl hy die motor en sekuriteitshekke sou sluit.

Ek hoor my man praat met iemand en skielik is daar 4 gewapende militaristiese swart mans wat vlot Afrikaans praat met gewere voor my.

Elkeen druk 'n geweer teen beide kante van my kop en een voor my kop terwyl die vierde al my juwele van my afhaal. Daarna wys hy my nogal ook waar die kluis is en beveel my om dit oop te sluit sodat hy dit kan sloop. My man se aktetas, sy bedkassie, al ons dokumente en ons beursies is gevat - so asof hulle geweet het waar alles is.

Rower nommer vyf het deur die huis gegaan en alles begin inpak wat hy kon vat terwyl Rower nommer ses my man platgeslaan het en vasgebind het. Rower nommer vier het my begin bevat en bevoel, maar die ander het gesê hulle is haastig en hy het my hardhandig op die vloer langs my man neergegooi en my hande en voete vasgebind. Hulle het my man geskop en wou die sleutels by hom hê van ons splinternuwe Mercedes wat hulle in sy broeksak gekry het.

Hulle het al die buit in twee motors gelaai en met ons Mercedes weggejaag.

Na hulle weg is het ons die polisie en die noodnommer gebel maar sonder sukses totdat my suster die polisie kon kry om eers na een uur daar aan te kom.

Na deeglike ondersoek is bevind dat my bediende saamgewerk het met 'n man wat die huisbediendes kry om betrokke te raak - ook haar seun vir wie ons gehelp het met sy studies. Hy het na die tyd so sleg gevoel dat hy selfmoord gepleeg het.

So word hierdie naïewe mense betrek en word so 'n rooftog oor 'n tyd fyn beplan. Die man wat baie huistoe gebel het om met my bediende te praat , het sy gesê is haar pastoor. Ek het haar goedertrou geglo. Ek wens ek het die tekens raakgesien.....

Ek kan nie eers begin vertel wat so 'n rooftog aan jou menswees doen nie, maar die Here se Genade het ons bewaar.

Ses maande later nadat ons alles vervang het, het die rowers weer een nag teruggekom en gas in die bo-vensters ingespuit en terwyl ons geslaap het die sekuriteitshekke oopgebreek en die huis weereens leeg gedra.
Ons het daarna noodgedwonge die huis verkoop.

Ek kan maar net bevestig dat ons geloof sterker is as ooit en dat met die Here alles moontlik is - so ook met die liefde en ondersteuning van mense.....
en dit is hoekom elke dag 'n nuwe lied in ons almal se harte moet bring - want by Hom is niks onmoontlik nie