Maureen Boyens

MAUREEN BOYENS

Ek het erkenning gegee aan 'n baie besondere vrou wat 'n pad geloop het - en jy sien die omgee, die verstaan, die empatie en die hoop in haar blink oë. Sy vertel self haar storie: "Uit 'n menslike oogpunt wil ons altyd ons gebrokenheid wegsteek, maar God gebruik dit om vir ander hoop te gee en so 'n verskil in hierdie wêreld te maak. Dis so wonderlik om terug te kyk en te sien dat wanneer jy nie meer kan loop nie, daar slegs een ry voetspore in die sand is, en dat jy deur die genade en liefde van die Here gedra is, en sterker aan die ander kant kan staan en daardeur andere kan help in soortgelyke traumatiese situasies. 21 jaar gelede is ek deur 'n traumatiese egskeiding - en net 3 maande daarna, nog voordat ek dit kon verwerk, word my dogtertjie van 12 jaar gediagnoseer met breinkanker. Neuroloë het haar tot 2 jaar gegee om te lewe maar van haar eerste hoofpyn was dit net 5 weke -en toe is sy weg. 
Haar dood het my so hard getref dat ek letterlik my verstand verloor het. By tye het ek graf toe gegaan en haar probeer uitgrou het met my hande.

Ek het 'n hoë posisie gehad in die personeelafdeling van die mynwese, maar my toestand het so erg geraak dat ek my werk verloor het - omdat ek nie meer normaal kon funksioneer nie.

Na vele psigiatriese behandelings is ek gesertifiseer en is in 'n psigiatriese inrigting opgeneem.
Ek was werkloos vir 'n jaar en was in die diepste put. 
Die Here het vir my hier 'n geleentheid gegee om net weer my verstand te herstel en ek glo dat Hy vir my 'n tweede kans gegee het en my uit die diepste depressie uitgehaal het en vir my 'n doel gegee het vir my lewe.

Na 9 jaar het ek my man ontmoet en ons het 'n bediening in Humansdorp en werk met stukkende gebroke mense omdat ons deur die leerskool van gebrokenheid gelouter is en verstaan.
"as die nardusfles gebreek word (Mark. 14 : 3) kan die heerlikste aroma en olie daaruit vrygelaat word"
Elke mens moet weet dat jy deur die genade van God jou minus in 'n plus kan verander"

Baie dankie
Maureen Boyens