Hierdie ongelooflike mens moet jy ontmoet en haar beleef om haar te waardeer.
Ek het haar met ons reëlings oor ons funksie wat ons saam sou doen - oor die telefoon leer ken - 'n vrou met soveel integritiet, so professioneel, so vriendelik en deeglik. Toe ek haar ontmoet, was ek verstom.
Want toe sien ek wat julle in haar storie gaan lees........ Maar 'n vrou wat baie jonger is van gees as wat haar ouderdom sê.
'n Vrou met die sielvolste blou oë van wat weet wat die lewe is en vra ..... en nie terugdeins nie!
Sy werk by die kerk en hanteer alles in die kantoor vanuit haar rolstoel.
Sy het die funksie van 250 vroue wat ek in Alberton gedoen het self gereël.
Sy het met pyn en deursettingsvermoë haarself geleer om onafhanklik te wees - bo alle verwagtinge.
Ek het vir Marthina gevra om haar storie te vertel:
"N VERHAAL VAN GENADE ONBESKRYFLIK GROOT"
Dit is vir my vreemd om oor myself te skryf - gewoonlik skryf ek oor ander mense en hul seer wat hulle met my deel.
Soos Ghisnene gister vir my sê: "Ek het nog nooit vir tannie as ‘n gestremde gesien nie, want tannie gaan net aan en doen alles, van lêers gaan koop tot notules tik en begrafnisbroodjies en tee reël - en dan help tannie nog met die klankstelsel as iemand nie opdaag nie."
Saterdagmiddag nadat ek tuis gekom het, het ek sommer op my bed gaan lê en aan die slaap geraak - toe ek later die aand wakker word en my pragtige sertifikaat lees, het ek lekker getjank - sommernet oor alles - die ongelooflik baie liefde wat ek ontvang elke dag van so baie mense - my kinders en skoonseun wat ook maar my kind is, se liefde en ondersteuning en die groot genade wat my goeie Vader my betoon.
As kind en jongmens was ek baie gesond en aktief, soos my ander 3 sussies en boetie, waarvan ek die oudste is, en ook my ouers. Ek is 63 jaar oud.
My verhaal begin in April 1972, tydens my swangerskap met my tweede kind. Omdat ons in ‘n nuwe huis ingetrek het in Pretoria met geen tuin nie, het ek my verlustig in tuinmaak en grasplant. Die een oggend staan ek op met stywe spiere en dig dit toe aan oordoen in die tuin. ‘n Dag later kry ek sulke rooi hobbels op my arms so groot soos R1 stukke, wat vuurwarm en ongelooflik seer was.
Na so drie dae gaan alles weg, dan begin dit weer en hou langer en langer aan en dit voel of ek griep het, totdat ek maar huisarts toe is en hy my van spesialis tot spesialis gestuur het, maar niemand kon uitvind wat ek makeer nie. Intussen het ek elke keer met so ‘n episode ‘n hoë koors ontwikkel wat my nou en dan in ‘n suurstoftent laat beland het.
My dogter, Annemarie, is op 1 Augustus 1972 gebore, ‘n pragtige rooikop krullebol, gesond soos ‘n vis in die water! My seun Riaan was 17 maande tevore gebore, ook net so gesond. In effek het ek met 2 baba's gesit wat nog doeke van lap gedra het wat met spelde vasgesteek was. My hande was soms so seer dat ek oor my baba's gestaan en huil het soos ek probeer het om die spelde los of vas te maak. En omdat ons nie ‘n wasmasjien kon bekostig nie het ek, soos baie ander mammas, die 24 doeke ‘n dag met die hand gewas.
Aan die einde van 1975 trek ons Barberton toe en ‘n maand later kry ek weer ‘n akute aanval. My huisarts stuur my terug Pretoria toe na ‘n rumatoloog en 10 dae later laat weet hy my huisarts dat ek S.L.E. (Systemic Lupus Erythematosis) het.
Dis ‘n outo immuunsiekte waar my liggaam sy eie gesonde weefsel aanval en vernietig.
Tot nou toe weet hulle nie wat die oorsaak kan wees nie.
Vir my was dit nag - ek het 24 uur per dag die vreeslikste pyn verduur, en die spesialis sê dat ek van nou af rustig moet wees, soveel as moontlik moet slaap (met twee kleuters!) en ek mag nie aan enige sport deelneem nie en verkieslik moet ek ophou werk.
Niemand kon sien dat ek enige iets makeer nie en natuurlik het ek die ‘pose' gehou, om net maar saans met hierdie pyn te probeer slaap. Ek het selfs ‘n halfdag pos by die hoërskool aanvaar, en saans klas gegee by die Tegniese Kollege. Daar het geleentheid gekom om as noodhelper opgelei te word en ek het dit aangegryp en van junior noodhelper tot senior lektor in die SA Noodhulpliga gevorder.
Op sportbyeenkomste was ek daar met my span. Met noodoefening op die dorp en omliggende plase was ek die koördineerder - met pyn en al. Dit is ook daar waar ek pottebakkery aangeleer het en die tante wat my onderrig in klavier gegee het, gesê het ek mors haar en my tyd, want as ek eenkeer ‘n wysie gehoor het, kon ek dit speel en het sy my keer op keer uitgevang dat ek nie bladlees nie!
Vandag is dit nog seker die grootste gemis in my lewe - klavier en kitaar speel. Intussen het ek vir my ‘n panfluit aangeskaf, maar dit gaan nog beroerd.
Dit het dikwels gebeur dat ek in die hospitaal opgeneem was vir die hoë koors - moes my twee kleuters sien en kom klaar. Ek kry eendag ‘n briefie in een van my ou boeke wat my seun skeef en krom vir my geskryf het: "Mama moeni warry nie, ek en Ammie eet elke dag swietkon en byk biens op brood en dis lekker. Ons is liev vir ma." En vir my ouers in Sinoville skryf hy: "mama slaap baie maar sy se sys ok - ek dink sy jok bietjie - maar sy is baie lief vir ons."
Nadat ek gediagnoseer is met SLE en die prognose gehoor het dat ek dit nie tot 35 sal maak nie en dat ek my stil moet gedra, het die ongelooflike pyn - die positiewe, opgewekte mens wat ek is - ‘n depressie laat slaan wat 3 jaar geduur het.
Die anti-depressante het my so veglustig gemaak, dat ek die dokter gevra het om dit te stop. Met ‘n wonderlike predikant - ds Jurie le Roux en my huisarts is ek deur hierdie tyd gedra en daaruit gebid.
Deur al hierdie tye was my ouers en skoonouers se ondersteuning van onskatbare waarde.
En prys die Here, as ek nie ‘n kind van Hom was nie, sou ek dit nie gemaak het nie!
My kinders het ek egter nooit verwaarloos nie - het hulle leer visvang, fiets ry, leer skiet met ‘n .22, later leer motorbestuur, en elke aand saam met hulle gelees en gebid. Hulle pa was ‘n prokureur wat in Barberton tot die onderwys toegetree het - ‘n briljante man, uitstekend met kinders, en vandag nog ‘n wiskunde onderwyser van formaat.
Karate het egter sy lewe geword ten koste van ‘n gelukkige huisgesin.
Die 12 jaar op Barberton was nogtans my gelukkigste jare ten spyte van die trauma.
My lewe was vol, ek het klavier en kitaar gespeel, in die Flambojante koor gesing en het uitgeblink in my werk. Die koshuiskinders het my as hulle ma gesien en ek het menige matriekafskeiduitrusting aanmekaar geslaan, en nagte by hulle siekbed gestaan. Wanneer dit so warm was in die nagte, het ek hulle stilletjies laat uitglip en het ons in die skoolswembad gaan afkoel!
In 1987 word my man bevorder na adjunk-hoof by ‘n skool in Alberton en het ons die pragtige Oos-Transvaalse laeveld verlaat. My regter pinkie het begin skeeftrek en vashaak en die internis verwys my na ‘n ortopediese chirurg wat my verseker - na 6 weke tik jy weer dat die biesies bewe.
Drie maande later kom ek met ‘n toegetrekte hand huis toe, wat ek later hoor te wyte is daaraan dat die chirurg ‘n foutiewe snit gemaak het.
Die bindweefsel onder my voete het ook begin minder raak en dit was ‘n pyniging om te loop, maar ek moes net. Daarna het my linkerhand begin skeef trek en was later soos blare wat heen en weer waai - daar was niks wat hulle bymekaar gehou het nie.
Ek het weer in 1989 begin werk, maar teen 1993 kon ek nie ‘n knoop vasmaak of ‘n rits optrek nie of ‘n blaai omblaai nie en moes ek ophou werk. Die pyn was op die stadium soms so erg dat hulle my pethadene moes spuit en later self morfien moes neem.
Moontlik uit desperaatheid het ek ‘n beroemde handchirurg in Parktown gaan sien. Hy was ontstoke dat ek so lank gewag het met die linkerhand, maar kon darem verstaan dat na die vorige handepisode, ek gedink het, ek behou liewer die gebruik van my linkerhand so lank ek kon. Na vele operasies wat oor 3 jaar gestrek het, het hy in al my vingers pennetjies gesit om dit oop te hou en moes ek vir maande fisio ontvang om hulle bietjie meer bruikbaar te maak.
Ek is Marjanne, "my" fisioterapeut ewig dankbaar dat sy my so gemoor het - met liefde! Daarna het ek elke vorm van kuns probeer bemeester, met die nog onwillige hande.
Van kaartjies maak tot borduurwerk en dit was wonderlik - ten spyte van die pyn - iets waarvoor ek nooit tyd gemaak het nie. Vandat ek ophou werk het, het ek gaandeweg minder akute aanvalle gehad, maar deurentyd was daar maar pyn.
Op hierdie stadium het die siekte die beenmurg sodanig aangetas dat dit die vorming van rooibloedplaatjies onderdruk het. Sedertdien ontvang ek so elke drie jaar bloedoortappings en ysterkonsentraat.
In 1999 beseer ek my been en na ‘n operasie was ek van ‘n kruk afhanklik. So mettertyd het ek besef dat my liggaam swakker word, maar gelukkig teen ‘n stadige pas. Ek wou weer die werkmark betree en het by twee hospitale aansoek gedoen vir ‘n nag ontvangsdame.
Die een hospitaal se personeelbestuurder het my in die gang laat staan en my deeglik laat voel dat sy hoegenaamd nie eers belangstel om my ‘n halwe kans te gee nie.
Die ander hospitaal het ‘n ordentlike onderhoud met my gehad, my gewys wat van my verwag word, en aan my die keuse gelaat - ek het besef dat ek dit nie sou kon doen nie, aangesien ek baie moes rondbeweeg met lêers ens., en hulle het aan my ‘n mooi briefie geskryf na die tyd. Wat ek wel besef het by die eerste hospitaal, is dat hulle dink my kop lyk soos my hande - verskrompel en effe onkapabel!
Maar besef ek later - daar is werklik ‘n doel met alles - toe hule in 2002 by die kerk vrywilligers soek om die administratiewe stelsel op datum te kry en die kommunikasie na die gemeente op te skerp. Vir twee jaar het ek as vrywilliger gewerk. In 2004 word die pos adverteer en ek doen aansoek en word aangestel.
In September vanjaar sal ek 5 jaar amptelik in ons kerkkantoor werk - dis my passie en ek geniet elke oomblik en elke faset.
Na elke terugslag het ek gewoonlik binne 4 tot 6 weke "normaal" voortgegaan met my lewe - maar in Junie 2007 trap ek skeef en skeur my regterbeen se tendon af en doen ‘n fraktuur van die patella op. Wonder bo wonder - weereens Sy hand oor my - is "my" ortopediese chirurg weer besig in die teater, net soos ‘n vorige keer toe ek vir ‘n noodoperasie ingeneem is. Daardie Dinsdagaand agtuur word ek teater toe gestoot, met van my vriendinne by my, en kwart voor twaalf die nag word ek half wakker en hoor my een vriendin sê: Dankie tog - sy's wakker - nou kan ons gaan slaap! Dink net - hulle was daar van die middag drie uur tot twaalfuur die nag! Ek het baie pyn gehad, maar het gou weer weggeraak. Vir die volgende twee weke het ek 10 ure per dag besoekers gehad - ongelooflik.
Die aand na die operasie kom die chirurg op my bed sit - iets wat hy nooit doen nie - en ek weet - iets is verkeerd. Hy sê vir my die rede waarom ek so lank in teater was, was sy poging om die tendon en patella te heg, want die weefsel en been was soos tissue papier waarmee hy gewerk het. Omdat hy my ken, het hy gesê, sal hy eerlik met my wees - dis vir hom baie moeilik om dit aan my oor te dra.
Hierdie keer sal ek nie weer kort voor lank op die been wees nie - eerstens is die moontlikheid dat die been en tendon gaan heg minder as 1 % en ek gaan elke klein gebedjie nodig hê - hy sal ook vir my bid; en tweedens sal ek nooit weer gewig op die been kan sit nie omdat dit so broos is, m.a.w. ek sal nie weer kan loop nie; derdens sal ek nie my been kan buig nie; en vierdens a.g.v. al voorgenoemde, sal ek nie weer kan bestuur nie.
Dit was die Woensdagaand, en toe hy my hand druk en groet, was ek verslae. My besoekers het gekom en gegaan en deur dit alles het ek die nuus begin absorbeer en verwerk - my vriende het so lekker onder mekaar gekuier, hulle het dit nie eers agtergekom nie!
Teen Vrydagoggend was my kop besig om in rat te kom en die dokter het toegestem dat die fisio vir my oefeninge mag gee om te doen. Ek mag egter nie van die bed afklim nie. My been moet stil gehou word vir die volgende 8 weke - maar my oefeninge het ek gedoen.
Na 10 dae is ek ontslaan en het tuis gaan lê, en was bevoorreg om ‘n "caregiver" in die vorm van Maria te kry, 70 jaar oud, so sterk soos ‘n bees, so liefdevol soos my eie ma, ‘n gelowige vrou en ‘n raakvatter van formaat. Maria het my gebad, aangetrek, my toilet behoeftes na omgesien - dit alles terwyl ek letterlik bedlêend was. Sy het gesorg dat ek genoeg te drinke kry en na elke behoefte van my omgesien. Gedurende daardie 3 maande, het daar elke dag ‘n vriendin vir my ‘n bord kos gebring - bo en behalwe die kuiertjies wat nooit opgehou het nie.
"My fisio" Marjanne, het 3 keer ‘n week vir my fisio tuis kom gee en Maria was baie streng met my oor al die oefeninge. Na agt weke moes ek probeer om van die bed af op my rolstoel te kom - en was dit nou ‘n moeisame, moeilike storie. Ek was so swak in my arms en dit was ‘n stryd. Maar uiteindelik kon ek dit regkry.
Algaande het ek sterker geword en Marjanne het my, my been stadigaan laat buig en toe ek die ortopeed na 8 weke sien, kon hy nie glo wat hy sien nie - die been het aangegroei en ek kon die knie bietjie buig!
Gedurende die hele tyd kon ek nie sonder Maria se hulp funksioneer nie. Uiteindelik, na sowat 11 weke, wou ek terug kantoor toe. My buurman, wat die koster was, het my met rolstoel en al agter in my bussie gelaai, en my kantoor toe geneem! En so het elkeen in ons selgroep ‘n beurt gemaak om my so op selgroepaande te kom haal.
Hierdie totale afhanklikheid van ander mense was een van die moeilikste dinge wat ek nog ervaar het. Ek moes die dokter elke 6 weke gaan sien, en hy was elke keer meer verbaas oor hoe ek my been kan buig.
Op ‘n dag sê ek vir Marjanne dat my volgende doelwit is om van my rolstoel af op die passasier sitplek te kom. Net daar en dan stoot sy my tot langs my motor se passasierssitplek en met ‘n gesukkel is ek op die sitplek! Toe ek terug is op die rolstoel stoot sy my na die bestuurder se kant van die motor en sê ek moet probeer oorklim - weer met ‘n gesukkel, maar
ek doen dit - sy klim langs my in en sê:
"Nou gaan ons om die blok ry" - ek was stom, maar sy
oortuig my - ons probeer net - en ek doen dit! - en daar tjank ons altwee toe ek weer by die huis stop - ‘n massiewe mylpaal!
Die dokter wou my eers nie glo nie, maar toe hy Marjanne se verslag sien, moes hy maar. Na ‘n bietjie gesoebat stem hy toe dat ek met ‘n loop raam in die huis kan begin oefen - 3 tree op ‘n dag.
Vandag loop ek die 5 tree van my sitplek af tot agter by my kar, laai my rolstoel in met ‘n hidroliese hyser wat my kinders vir my laat insit het, loop terug tot by my sitplek, klim in en ry waar ek wil wees.
Verder as dit sal ek nie kan loop nie - ek kan voel die been is effe krummelrig. Maar ek het my onafhanklikheid herwin, met die groot genade van Bo! Omdat die huis maar vir gewone mense gebou is, sukkel ek my soms flou om by die wasbak of stoof uit te kom, maar ten minste kan ek.
Maria kom nog gereeld in en help my sommer in die kantoor lêers aandra en enige werkie waar ek haar kan gebruik. Soggens moet ek maar so teen half ses begin regmaak as ek agtuur op kantoor wil wees, maar dit is nou ook al deel van my leefstyl.
Gedurende die tyd wat ek met siekverlof was, het ‘n paar dames beurte gemaak om die kantoor te beman en ek is hulle ewig dankbaar. Party het geglo ek sal nie weer kan kom werk nie, maar die twee wat die getrouste geglo het dat ek sal teruggaan, was Maria en Liesbet by die kerk.
Ek bring hulde aan elke vriendin wat my ondersteun het en nog steeds doen, hulle wat my opvou rolstoel in hul motors laai en my saamneem vir ‘n oggend in ‘n winkelsentrum of kwekery of selfs ‘n fliek, wat my soveel liefde betoon en altyd daar is vir my. Julle is te veel om hier op die naam te noem.
En Sonja - baie dankie vir die pragtige wyse waarop jy aan my erkenning gegee het - ek het dit regtig nie verwag nie, want ek het myself nog nooit anders as ander vroue gesien nie. Ghisnene het my met ‘n slap riem gevang en ek het dit nie eers agtergekom nie!
My volgende doelwit is om genoeg pennies bymekaar te kry om op ‘n warm lugballonvlug te gaan. Dit sou al ‘n paar keer gebeur het, maar belangriker dinge het opgeduik waarvoor ek die fondse moes gebruik.
Maar voor ek 70 is - hou hierdie spasie dop!!