Marita Momberg - 'n Huldeblyk

Marita Momberg & Sonja Herholdt

Hierdie besondere dame vir wie ek die voorreg gehad het om in Potchefstroom op die 29ste Julie erkenning te kon gee, het geleer om in die paradoks te leef.

Om vir die moment te leef - en om te glo en te hoop en te vertrou dat sy nog 'n dag gegun sal word om die lewe en die mense om haar te waardeer en te geniet.

Sy is 'n besondere vrou en haar menswees spreek tot jou as jy haar raak kyk.

Ek ontvang toe gister 'n oproep van haar dogter Melodi wat my laat weet het dat sy die 18de November om 22h00 oorlede is in die hospitaal terwyl sy toetse gedoen het om te kyk of sy geskik is vir 'n hartoorplanting. Sy het saggie en vinnig haar laaste asem uitgeblaas.

Ek plaas haar storie soos sy dit vir my self vertel het.

In 1970 op die ouderdom van 19 jaar word ek gediagnoseer met Limfklierkanker - Hodgkins- sindroom. Die ligste van die klierkankers, maar op daardie ouderdom - ‘n doodsvonnis. Behandeling begin dadelik maar ook die wete dat ek dalk die gawe van kinders ontneem gaan word. Skielik hang my jong huwelik en toekoms soos ‘n groot vraagteken in die lug maar ook die besef dat ek nou gaan leef in hoofletters.

Skaars twee jaar later sterf my ma dieselfde nag tydens die geboorte van my eerste kaboutertjie en die maalkolk van die lewe dreig weer om my te verswelg. Ek ondergaan aan en af chemoterapie behandelings en binne twee jaar sien nog twee woelwaters die lig en my beker loop oor.
Ek leef op my knieë in smeekgebede vir die voorreg om my kinders te kan sien grootword en te help skerpmaak aan hulle menswees.

Vir soms jare, soms maande, bly die kanker uit my vlees net om weer kop uit te steek en my geluk te kom vaskeer in vrees. Twee maal per jaar ondergaan ek roetine toetse en ondersoeke en bid vir berusting voor die uitslae kom.
Soms was die antwoord op die gebede ja, soms nee, en dan het my man en kinders maar weer die sterker monderings aangetrek om saam met my die storms deur te sien.

Tien jaar gelede was die laaste intensiewe behandeling van chemoterapie en bestraling. Hare het teruggegroei en wange het weer begin gloei en nou is ek ‘n ouma.

Min wetend het die letsels van jare se behandeling egter sy tol begin eis en met die hulp van moedernatuur en gene kry ek twee hartaanvalle op die ouderdom van 52!
Is ek God se weeskind, - het hy my vergeet......

Die skade aan my hart is so groot dat slegs ‘n hartoorplanting normaliteit en kwaliteit lewe kan terugblaas in my bestaan.

Tydens my roetine kankerondersoeke meld ‘n onkoloog selfs dat my lewensverwagting nie baie groot is nie, dalk maar 5 jaar.

Ek word telkens gekonfronteer met die wete en besef dat ek nog soveel wil gee en soveel merke met my potlood wil maak op die mense wat naby my staan.
Selfs die vreemdelinge wat ek kan aanraak, soms onwetend. Om die regte merke op mense se lewens te laat moet jy vasgehou word deur die Regte Skrywer en ook gelei word deur Hom.

Elke oggend is ek ‘n beginner in hierdie wedloop en dank Hom saans dat ek nog ‘n dag kry om more weer te mag wegspring.
Ek besef opnuut dat die Here sal my nie lei waar sy Genade my nie sal bewaar nie en dat Hy my die nodige wysheid en insig en liefde sal gee.........

Marita Momberg