Marinda Viljoen

Ek het 'n fenominale vrou ontmoet met borrels in haar stem - 'n vrou in murg en been - wat omdat sy moes opstaan en leer en groei en waagmoed aan die dag lê - dit op haar eie unieke manier maak in 'n mans dominerende wêreld.

Sy is nogal 'n vrou wat verskillende rolle vertolk en slaag daarin om dit suksesvol te kan doen. Sy is 'n besondere vrou en 'n inspirasie vir my.

Maar lees haar storie en dan sal jy sien waarvan ek praat.

'n Bietjie meer oor myself,

Eintlik is ek redelik privaat maar ek kan nie anders as om te praat oor hoe die Here Jesus ons laat vlieg het op Arendsvlerke nie omdat by Hom niks onmoontlik is nie.
Maar mens moet eers opstaan en dan in Sy krag die verlede agter laat en heel word.....

Ek is op 7 November 1969 gebore en op 'n plaas in die Caledon-distrik grootgeword, op Hoëskool Overberg gematrikuleer en wonderlike jare in Nerina Meisie-koshuis beleef. Daarna maatskaplik studeer aan die Hugenote Kollege op Wellington, in 1991 gegradueer en in 1992 getroud. Ek het as arbeidskonsultant by die Landelike stigting gewerk tot 1996 met Jorika se geboorte. Marina is twee jaar daarna gebore.
My skoonouers is albei in die negentigs oorlede en hierna het my man anders begin optree, dalk as gevolg van onverwerkte gevoelens, maar hy het'n persoonlikheidsverandering ondergaan, so erg dat dit onmoontlik was om met hom saam te leef. Hy was depressief en het die boedery agtergelaas met laste wat die bates baie ver oorskry het.

Dis hier waar ek nie verder op my eie kon nie, en die Here het my hand kom vat en my en my dogters bevry. Ek het op Hom vertrou in besluitneming en oorlewing en ek is toe in 2006 geskei en neem daarmee saam die familieboerdery oor wat ek weer van vooraf moes opbou. Ek moes ma-wees en voluit boer, maar die Here het my die krag gegee met my ouers wat vir my die voorbeeld stel en vriende en bure wat kon ondersteun.
En ek het 'n passie ontwikkel vir landbou- die mense binne landbou en die netwerk waarsonder ons nie kan funksioneer nie.

In 2008 het ek 'n wonderlike voorreg gehad om op 'n uitreik na Tanzanië en Zanzibar te gaan om vroue in Landbou te motiveer en Jesus se liefde uit dankbaarheid te deel. Op my terugkeer is ek as Vroueboer 2008 benoem as Nasionale Produsent in die Wes-Kaap, maar ek moet net sê dat my arbeidsmag is die hartklop van my boerdery - ek kan net so goed funksioneer soos die span agter my.

Dit was 'n onverwagse eer om so spoedig in my bedryf sukses te kon behaal en daarvoor erkenning te kry en ook om binne landbou as vrou in 'n mansdominerende wêreld op vele terreine betrokke te kon wees.
Ek is ook gekies as die eerste vroue-bestuurslid op die Wes-Kaapse Rooivleis Produsente Organisasie in 2007, as lid van Agri Mega benoem vir die Jaarlikse Agri Mega Week op Bredasdorp in 2006. Ek dien op die Overbergse Distrikslandbou Vereniging vanaf 2007 en op die Caledon Toerismeraad. Ek is huidig nog betrokke by al die organisasies.

Maar nog steeds klop my maatskaplike hart nog sterk. Ek het in 2009 'n jeugkamp geopen met die oog daarop om Jesus in die natuur te ontmoet en ek konsentreer op Christelike leierskap en karakterbou.
Vir die stadskinders is dit 'n groot uitdaging om 'n naweek in die veld sonder moderne tegnologie te oorleef. Maar in die proses word baie harte gewen, en dis wat tel.
En dis my passie dat my dogters ook deel daarin, want net so opgewonde as wat hulle is oor die boerdery, skoolwerk en hul sosiale verhoudings, kan hule ook deel in die bediening van jongmense.

Dis 'n voorreg om te kan lewe en 'n tweede kans te kry en op te staan en voluit te kan lewe - en dis nog beter om dit te kan doen met ondersteuning van mense om jou - en die Genade binne en rondom jou!