Marinda baie dankie vir jou storie wat jy gestuur het.
Ek glo dat dit sal vir vroue net laat besef dat ons kan wanneer ons dink ons kan nie, want ons intuïsie lei ons as ons vertrou.
Dit was 'n voorreg om jou te ontmoet die aand in Baberton - en jou opregtheid te beleef.
Elkeeen van ons het ons eie waarheid, maar die "waarheid" maak vry en wat ek uit jou storie haal, is dat ons nie betekenisvolle interafhanklike verhoudings kan beleef as ons nog nie geleer het om onafhanklik te wees nie - dankie daarvoor.
Dames ek stel Marinda aan die woord:
.Gelukkige mooi jare, 'n huwelik van amper 25 jaar, 3 kinders en ons doen as gesin alles saam. Ons speel almal tennis, die kinders speel in al die land se voorste toernooie.
Ek en Rudi ry hulle die land vol. Ek rig tennis af in die dorp, en doen Rudi se boeke.
Hy begin ‘n vere-besigheid wat die hele Mpumalanga, en Swaziland bedien. Hy het aanvanklik uit die huis begin werk, maar het later 'n erf gekoop en 'n gebou opgerig, sodat as hy iets oorkom - ek 'n konstruktiewe besigheid kan verkoop. (dat ek die besigheid sal kon voortsit was nie eers ter sprake nie!)
Op 12 April 1999 sterf Rudi aan 'n hartaanval op die tennisbaan, op die ouderdom van 47.
Ons fondasie is onder ons uitgeruk.
O die bittere hartseer, verward, en die stryd om die kinders se hartseer en paniek te verwerk - en om elkeen te probeer 'toemaak" teen die ontsettende verlies.
Mens dink mos altyd dit kan nie met jou gebeur nie!
Ek het die volgende oggend 7uur die besigheid gaan oopsluit en geweet ek moet net alles gaan"reg" hou. My broer het my kom help en begin "vure" doodslaan. Die stryd om die besigheid te leer ken, die kliënte, die swart werkers wat ek nou so nodig het - hulle was geleer na Rudi se hand - ek moes rekenings betaal, geld invorder van die debiteure, en dit was die begrafnis, die boedel en..en..en.
My broer het my 6maande pal gehelp, terwyl sy vroutjie hulle besigheid aan die gang moes hou. Toe kry my broer ‘n groot werksaanbod in Zambie, in sy professie as Siviele Ingneur. Weer is dit vir my ‘n slag - Hoe gaan ek nou "cope"???
Ek wil net gou noem- ek het my hart vir die Here gegee toe ek ‘n jong dogtertjie was, omtrent 10 jaar oud, en het my laat groot doop toe ek 13jaar was, in std 6.
Ek was baie lief vir die Here en het 'n nou pad met die Here geloop. Ek het pinkster groot geword (in AGS kerk) en is ook in std 6 gedoop met die Heilige Gees.
Ek het elke oggend half 4 voor die Here begin roep vir hulp, wysheid, krag en moed om die besigheid te hanteer, en myself en elke kind op ons voete te hou.
Soms was dit net te veel - die bakkies gee in, masjinerie gee in, die kliente soek diens, my kinders het my so nodig, en soveel besluite wat ek alleen moes maak..........
Ek moes saam met die drywers uit op die pad om kliënte sien en nuwe besigheid soek - 12 tot 15 ure insit - om alles gedoen te kry.
Maar alles word net een Groot Wonderwerk. Te groot om te verwoord. Te groot om uit te pluis.
Die ervaring hoe die Here vir my die meganiese goed "wys", en dat ek begin 'sien' waar is die foute met die vere in die trokke, en as ek by kliënte voorstelle moet maak, hoe die Here oplossings op my tong lê.
Ek het altyd gevra dat die Here my laat sien wat ek moet sien en asb laat my hoor wat ek moet hoor, en gee my die wysheid van spraak en so het ek dag vir dag die stryd aangedurf.
Te midde van elke dag se huil en gemis na my "soul-mate" kon ek tog ook ‘n borrelvreugde ervaar dat Jesus my op my voete hou - en so het ek die
rou proses deurgewerk.
Vir 3jaar het ek dag en nag gehuil oor Rudi.
Op 12 April- het ek gevoel - nou val ek uitmekaar -die dag wou ek uit my eie bodem val van pyn, hartseer, verlange en smag om Rudi net terug te kry!
Dit het gevoel of 3jr se smart alles op een dag gelyk op my afkom.
Maar dit was my draaipunt. Die volgende dag was ek kalm - 'n ongelooflike kalmte en rustigheid het my wese deurspoel.
Die gemis was nog daar maar met 'n kalm gemoed.
Die besigheid het ons so versorg, dat ons al die skuld kon afbetaal, Ilze deur kollege, en haar gehelp om 'n jaar oorsee te gaan. Riaan deur hoërskool, met sport toere en ook 'n jaar oorsee na matriek, en Wynand toe net 9 jaar, ook deur hoërskool en koshuis op Nelspruit, en toere met sy sport, en alles wat nodig was.
Nou, my "ander-storie" wat hierby aansluit wat ek nie mag versuim om te noem nie.......
Ek ontmoet 'n man 3 ½ jaar - amper 4 jaar na Rudi.
Hy het ook sy vrou en 'n seun op 24 jaar - 11 maande uitmekaar deur die dood verloor.
Hy het 2 seuns, en ek het empatie met hulle gehad. Dit was die eerste persoon met wie ek uitgegaan het, na Rudi, want ek het vir niks en niemand kans gesien buiten my kinders en die besigheid nie.
Toe ek diè persoon ontmoet was ek op my naaste aan die Here. Hy is ook lief vir die Here - en dit alles was pluspunte vir die vriendskap.
Na maande van hierdie nuutgevonde vriendskap, aandag, en liefde, het ek my in 'n "oorbly" (alles onskuldig en opreg) laat inpraat!!
Toe begin ek my self regverdig:-" ons-is-mos-grootmense - ons-gaan-mos-trou - ons-is-mos-lief-vir-mekaar ...." Ons is altwee lief vir die Here en die Here het hom en die 2 seuns op my pad gestuur - ons het 'n wen situasie. "oorbly" het "saambly" geword, maar ons gaan trou ..... tot alles begin skeefloop - maar alles!
Nou besef jy, jy's so diep in die gemors. Jy moet dit maak werk, en hoop om vir 5 kinders weer 'n ouerhuis te skep. Jy moet net aanhou. Jy bid, huil, smeek die Here help - en jy vas!
Te midde van jou pyn en hartseer en probleme, moet jy nog die besigheid hanteer.
My kinders sien en beleef saam met my die pyn en hulle al 3 staan bankvas by my. Sy 2 seuns wil dat dit moet werk en die jongste enetjie het my ook baie nodig!
Ek weet net dit moet draai - dit moet regkom. Ek bly dag en nag bid en pleit.
Dit wat ek hier beleef het, het ek presies die teenoorgestelde ervaar in my 25 jaar van getroude lewe.
Ek wil net getroud kom, dan sal dinge beter gaan! Na amper 'n ineenstorting en 'n 2de troue gekanseleer, bly ek maar weer en weer probeer.!!
Dit is vir my ‘n totale verleentheid dat ek nie getroud kom nie, maar vind troos dat ek met gebed - die Here ken my hart- daar sal kom.
Na nog vele bid en vas kom daar n draai!
Sy jongste seun gee sy hart en lewe aan Jesus. En ons verhouding kom so mooi tot ruste en kalmte.
Ons is nou gereed om vir die 3de keer 'n troue te reël.
Ek maak met die Here die saak uit;- "as dit nou nie realiseer nie - sal ek standpunt inneem en dan is "saambly" uit!
Ons kanse is dan klaar, oor en uit!
Sowaar kom sy oudste seun weer en gooi die troue omver, deur "tantrims" te gooi by sy pa oor hulle erfgeld en efrporsies.
Dis ‘n slag. 'n Verleentheid en weer 'n nederlaag vir my. Ontsteld roep ek tot die Here - wat nou ???
Maar loof Hom en prys Hom. Hy is 'n Groot en liefdevolle Vader ! Ek neem standpunt in en besluit dit is nou klaar in Jesus Naam. Tot hier toe, en nie verder nie.
Saambly stop hier. Ek gaan ses jaar van pyn en huil agter my sit.
Ek stap die pad alleen.
Ek gaan my opnuut toewy aan die Here. Ek vra vergifnis en lê al my pyn en hartseer - al die verkeerd aan die voete van die Here. Al wat ek nou vra is: "Vader wat is U wil vir Marinda?
Ek is so dankbaar ek't nog die besigheid wat die Here vir my bewaar het, my 3 kinders, sy jongste, my familie en my susters wat my styf vashou, my help en ondersteun.
Ek wil op berge en heuwels gaan staan en uitroep vir elke meisie en elke vroutjie
"moet-dit-nooit-aan-jouself-doen-nie!"
Dit verbreek lewens - dis valse sekuriteit - dit verwoes, dit maak net skade. Die Woord van die Here sê dis verkeerd. Daarom het die Alwyse Vader trou ingestel - uit en gedaan! Daar is nie 'n middeweg nie.
Ek verwyt myself vir al my selfregverdiging. Maar die oorwinning is ongelooflik! Die vrede en kalmte wat Jesus gee is "great", te midde van die seer - Vrede wat jou verstand te bowe gaan -Fil 4:7.
Januarie 2009 begin ek 'n 21 dae vas -die Daniëlvas. Die 21ste dag met my afsluiting van die vas ( vir 21 dae het ek my ALLES aan Sy voete gaan lê - Sy Aangesig gesoek en my kinders voor Hom neergesit, my besigheid, myself en my toekoms. Ek kon dag en nag nie genoeg voor Jesus lê nie).
Ja, met die 21ste dag, 1 February 2009, die aand kry ek wonderlike beloftes by die Vader!!! Ek was so opgeonde, die Here hoor my, Hy sien my , Hy tel my op ! Ek kon omtrent nie slaap nie!.
Toe begin die Heilige Gees met my praat dat ek my weer moet laat doop. Dit maak my opgewonde. Ek bel my broer in Mauretanië en vertel hom, en vra of hý my asseblief sal doop. Vir my sal dit die 'seël' wees van dat ek alles agter my laat.
Op 12 April 2009 - Met Paas naweek, Sondagoggend - op die dag, presies 10 jaar na Rudi oorlede is, doop my broer my, én die Here beantwoord nog 'n gebed, deurdat my oudste seun Riaan, ook besluit het om hom te laat doop!
Dit is sò "amazing" - sonder dat ons dit beplan het, het die hele familie Paasnaweek kom kuier van heinde en vêr, en die bonus was dat my broer uit Mauretanië ook gekom het om by sy gesin te wees.
Só wat ek wil noem is dat hierdie doop op die "presiese" dag, nie doelbewus beplan was nie, maar ek glo met my hele hart - die Here het dìt doelbewus so beplan!
My hart, my wese juig en jubel!
Ek het vreugde wat geen geld kan koop. Ek juig en ek jubel en ek sing daardie ou koortjie:
"How Great is our God, how Great is His Name, He is the Only One who is ever the same. He rolled back the waters, of the mighty red sea, and said 'I'll lead you if you trust in ME"
Ek kyk vorentoe na 'n nuwe lewe, 'n nuwe begin, 'n nuwe getuienis.
En ek bid en vra, dat as ek net een siel vir die Here kan wen, deur my getuienis, was al die seer die 6jaar die moeite werd!
Halleluje Prys Sy Naam
Die Naam to alle Name
JESUS CHRISTUS ONSE HEER !!
Met baie liefde
Marinda Klaver.
5 Mei 2009