Maria de Beer

Hierdie besonderse vrou met haar mooi blou oë - was gelukkig getroud met drie pragtige blonde krulkop-kinders - en toe gebeur die lewe met haar. Haar middelste dogtertjie Liesel kry op die ouderdom van vier - "krabbe-sindroom" - 'n toestand wat die witsof van die brein vernietig. Stadigaan het haar liggampie begin agteruitgaan. Sy was in Alma skool, maar het vinnig na 'n rolstoel beweeg as 'n tiener, en toe later was sy bedlêend. Maria het haar onderwysloopbaan bedank om Liesel 24 uur tuis te versorg.

Sy was gereeld in die hospitaal, maar wanneer sy tuis versorg moes word, moes sy vier tot vyf keer per dag of nag suurstof kry, buisvoeding, medikasie teen epileptiese konvulsies, en sy moes met 'n buis gesuig word om versmoring te voorkom. Maria het met soveel geduld haar engelkind versorg en die waardering wat uit Liesel se oë gestraal het vir haar ma was merkbaar. Dit was ook merkwaardig hoe Liesel elke keer na 'n terugslag teruggeveg het om haar lewe.
En toe Maria se dogter op Universiteit, en haar seun in matriek was , het haar man hulle verlaat. Sy het nie haar sin vir humor verloor nie en moes die terugslag verwerk en opstaan.

Op die 14de Desember 2007 is Liesel in haar ma se arms oorlede. Weens omstandighede het sy en Liesel nog 'n naelstring gedeel en hulle harte het saam geklop. Die gemis is so onbeskryflik seer.... maar Maria weet dat haar kind se liggaam moeg was.

Liesel se onuitwisbare vreugde sal haar aan die gang hou, al het sy nog nie tyd gehad om te huil nie. . .

Maria - jy is 'n besondere vrou, sterk, teer, en met soveel waardering vir die lewe.
Jy is 'n inspirasie vir my - jou menswees is 'n voorbeeld!