Magda Kruger

Hierdie vrou is sprekend van"dat dit nie saakmaak hoeveel keer die lewe jou omslaan nie - maar hoeveel keer jy maar net weer opstaan". Haar eerste huwelik was baie moeilik omdat haar man vir twee jaar baie siek was en permanent in die hospitaal met 'n maagseer en bloedklonte. Op 37 is hy langs haar in die bed oorlede. Uit die huwelik is 3 kinders - twee dogtertjies van 6 en 3 jaar en 'n seuntjie wat sieklik gebore is en op 8 maande geval het. Sy koppie het opgeswel en hy was 3 keer dood maar het elke keer dit oorleef. Na twee jaar is sy weer getroud en hiedie keer was die uitdaging om armoede te oorleef. Sy en haar man het albei hulle besighede verloor. Om te probeer om die brood op die tafel te hou het sy begin om Avroy Shlaine te verkoop en so 'n groot sukses daarvan gemaak met die tyd, dat sy nou onlangs as die verkoopsdame van die jaar aangewys is.
Haar man het weer sy werk verloor en is dan tans in Irak om 'n beter inkomste te verdien. Sy hou maar die fort by die huis om 8 kinders sekuriteit te bied en sien haar man net elke ses maande vir 'n kort ruk. Haar man het 4 kinders en hulle saam het 'n seuntjie van hulle eie. Die kinders is tussen al die trauma deur baie slim en vaar goed op skool. Die oudste leer vir 'n advokaat.

Maar sy het nou onlangs moes uitvind dat haar dogter wat in matriek is - van die vroƫe ouderdom van 3 gemolesteer is - deur iemand wat sy nooit dit sou van dink nie. Maar die uitdaging hanteer sy ook, want hoe dan anders ...... 'n vrou wat so baie dinge van die lewe moes en nog moet hanteer ...... verstaan so baie ....... maar dit eis wel sy tol.

Magda is 'n diabeet en nie gesond nie en sy moet nou begin kyk na haar gesondheid. Sy is 'n baie dinamiese vrou - jy kan haar deur 'n ring trek en niks is te veel moeite nie en sy kla nooit nie.
Sy het altyd 'n stil glimlag op haar gesig - miskien is dit 'n stille vrede - en sy kan net nooit genoeg vir iemand anders doen nie.

Magda - dankie vir my pragtige krale wat jy vir my gegee het toe jy loop die oggend van ons ontmoeting. Dit sal moeilk wees om iemand soos jy net so te laat verbygaan in die besige lewe. Jy bly vassteek. Jy is vir my , soos vir baie ander vroue 'n voorbeeld en 'n rolmodel. Dankie vir jou besondere menswees.