Louise is 'n besondere mens wat sonder ophef 'n ongelooflike bydrae tot die skool en die gemeenskap van Bloemfontein lewer.
Sy is voorsitter van beide die primêre en sekondêre skole se beheerliggame, waar sy met ‘n sagte dog ferm hand leiding neem.
Sy is hoof van maatskaplike dienste by Pelonomi-hospitaal en is betrokke by die Reik-na-'n-droom-projek waar kankerpasiënte se drome waar gemaak word.
Sy is ma van twee seuns - enkelouer - en is ook nou betrokke by hulle aktiwiteite. As groot rugby-geesdriftige sal jy haar Saterdae op die stadion aantref besig om die Cheetas aan te moedig!
As gevolg van haar uitstaande kwaliteite, word Louise Peens in 2008 genomineer as Bloemfonteiner van die jaar. Sy het altyd tyd om na ander se probleme te luister en hanteer krisisse met wysheid en insig. Sy en haar suster was baie na aanmekaar. Sy is sommer skielik oorlede - en dit was vir Louise bitter swaar om dit te verwerk.
Die waardevolste is dat ander hulle in tye van emosionele nood altyd na haar kan wend. Sy het die gawe om midde van onsekerheid ander te motiveer en gerus te stel - so ‘n mens is Louise - dit maak nie saak waar jy bly -wat jou posisie is - of hoe goed jy opgelei is nie.
Sy moes as vrou op die beheerrade - as voorsitter - midde in die tipiese tradisionele opvatting van dat ‘n man die outoriteit het - leiding neem met wysheid - en ‘n verskil maak. Dit was ‘n uitdaging, sonder om feministies te wees. Sy het almal later gewen om soos een man saam te staan, mekaar te respekteer - te eer, en saam te werk tot die voordeel van die mense in die gemeenskap.
Syis ‘n sterk vrou maar vat nie oor nie en is die soort mens wat ander kan laat goed voel oor hulself.
En tog toe ek haar die aand ontmoet het met ons erkenning van haar as besondere vrou, het ek in haar hart ingekyk en gesien dat sy is maar ook net ‘n vrou wat wil weet dat iemand vir haar omgee, vir haar lief is, en dat sy ook spesiaal is - sonder dat sy dit sê.
Louise ons eer jou vir jou menswees en dankie vir jou omgee en vir jou besondere deurleefde voorbeeld.