Ek het die ongelooflike voorreg gehad om aan Linda Doyer erkenning te kon
gee die aand tydens my musiekmotiveringsprogram in Witrivier.
Linda vertel dat iemand wat ook kanker gehad het sê: "ek sou dit nie wou
oorhê nie, maar ek sou dit ook nie wou misloop nie."
Sy verstaan daardie woorde want na 11 jaar waarin kanker in haar en haar
gesin se lewe gekom het - het die lewe vir haar nuwe betekenis, sin en
vreugde gekry.
In 1998 word Linda met borskanker gediagnoseer, waarna sy 'n dubbele
mastektomie ondergaan en vir een jaar lank chemo moes kry. Sy was oortuig
daarvan dat sy een van die gelukkiges was wat betyds gediagnoseer was en al
die regte prosedures gevolg het. Al was dit traumaties en sleg, kon sy nou
vorentoe kyk na 'n lang en gesonde lewe, maar vir haar sou die pad anders
loop.
Na een van haar roetine-ses-maandelikse bloedtoetse in 2002, was die
kankertelling abnormaal hoog en was Linda gestuur vir 'n reeks skanderings
en toetse. Linda en haar man Gerrie, kry toe die verplettterende nuus: " die
kanker is terug en het na jou lewer versprei, dis ongeneeslik".
Linda vertel dat dit vir haar gevoel of die bodem onder haar uitval. Haar
eerste gedagtes was aan haar man en haar kinders, hoe sou hulle sonder haar
klaarkom. Hoe sou hulle die nuus aan hulle 4 kinders breek? Hulle is dan so
'n hegte gesin . .
Sy het die nag omgehuil - en toe het sy na die Lig, die Hoop, die Here toe
gegaan - haar Rots en Anker.
Dis nou ses en 'n half jaar later - sy het al baie keer chemo gehad - haar
hare het al drie keer uitgeval - sy het al wonderlike gesonde maande gehad
sonder chemo - en dan weer die nuus dat die kankertelling op is - en om weer
deur die teleurstelling te werk - en haar skouers reg te trek en om weer vir
chemo te gaan . .
Wat het Linda geleer op haar kankerpad? Sy sê haar geloof plaas dinge in
perspektief - "we're just passing through and the best is yet to come". Op
die ou end gaan dit oor verhoudinge - sy het geleer om mense lief te hê en
te waardeer.
Moenie dinge uitstel nie - al wat jy het is vandag. Doen wat jy wil doen
nou! 'n Mens dink net aan en ding op 'n slag - kies die positiewe een!
Waardeer die liefde en ondersteuning van jou gesin en jou mense - dis
kosbaar en wees dankbaar vir wat jy het. Klim elke dag in die Here se hart
in - dit is jou beskutting!
Dankie Linda dat jy jou menswees met ons deel -
jy laat my stil raak in my diepste wese - waar ek nie woorde kan vind om dit
te beskryf nie