Dit was 'n bitter koue nat reënerige aand in Junie met die sneeu wat lê op die berge rondom Rawsonville in die Kaap, toe ek die fenominale vrou in haar rolstoel ontmoet het.
Met haar glinsterblou oë vol trane het sy geglimlag toe ek vir haar die sertifikaat oorhandig. Sy kon nie na die verhoog toe loop nie. Ek het afgestap na haar toe om haar erkenning te gee vir die voorbeeld wat sy haar lewe lank leef vir almal wat haar ken.
As julle haar storie lees wat sy self vertel, sal jy weet hoekom sy 'n ongelooflike vrou is wat net nie moedopgee nie.
Ek is op die jong ouderdom van 26 jaar in 1997 gediagnoseer as 'n diabeet omdat dit in my familie is en ek moes insulien gebruik.
Huidiglik bestuur ek die familie-besigheid - 'n slaghuis - en help met funksies van 200 gaste en meer.
Tydens 'n funksie in Maart 2000 het ek onnatuurlike pyn in my voete begin ervaar as ek die hele dag staan maar ek het maar gedink dit is swak bloedtoevoer weens diabetes en verduur die pyn vir nog twee jaar. Ek gaan sien die dokter en die pyn word met medikasie beheer.
In Oktober 2006 kry ek 'n ingroeitoonnael wat verwyder moet word. In die proses om die nael te verwyder beseer die toon, begin swart word, en amputeer vanself.
'n Spesialis stel voor dat ek die voorste gedeelte van my regtervoet amputeer.Op hierdie stadium verloor my man sy werk agv drankverslawing en word met kanker in sy mond gediagnoseer.
Op daardie stadium wou ek die handdoek ingooi omdat alles vir my net te veel geword het, maar ek het geweet dat ek twee seuns het wat my nodig het.
Ek is vir ses maande in die hospitaal en bemoedig my kinders terwyl hulle rondgeplaas word tussen familielede omdat my man hom totaal oorgegee het aan drank. Dit was baie traumaties vir my kinders.
Toe ek een naweek weer by die huis is, bied 'n vriendin aan om my voete te versorg. Sy sny die toon aan my linkervoet raak en dieselfde proses herhaal hom wat met my regtervoet gebeur het. Die uiteinde is twee halwe voetjies, maar ek het moed dat ek weer sal loop.
Die omstandighede by die huis, onder die drankmisbruik van my man, het ondraaglik geword en hy word toe sporadies in hegtenis geneem.
In April 2007 kry ek geweldig pyn in my linkerbeen en ek word opgeneem in die hospitaal en na 4 dae is die uitslag dat dit 'n bloedklont is en om my lewe te red moet hulle onmiddelik my been onder die knie amputeer.
Die worsteling om te kies om te bly lewe was vir my hel, maar ek besef dat ek moet opstaan en aangaan. Ek is in 'n rolstoel huistoe.
My man begin geweldadig teenoor my en die kinders optree en ek besluit dat dit nou genoeg is en dat ek hom gaan skei.
Hy word gevonnis vir veelvuldige sake teen hom en al is dit traumaties, is dit tog ook 'n verligting vir my en die kinders.
Die rehabilitasieproses om te leer loop met kunsbene in 'n sentrum begin en duur tot Augustus 2008. My kinders moet weer by ander mense bly terwyl ek hulle net naweke kan sien. In die tyd het ek deeltyds begin werk maar in November 2008 kon ek weer voltyds op my pos wees.
Ek en die kinders woon in 'n plaashuis en funksioneer so onafhanklik as wat omstandighede ons toelaat.
Ek het in April die jaar 'n voertuig present gekry en ek bestuur self.
My man Walter sterf op die 9de Junie wat 'n verligting is vir almal van ons en vir hom.
Die lewe is 'n geloofstryd wat ons nie kan verstaan nie, maar my suster is my steunpilaar in die lewe - my inspirasie!