Liami se dag begin soggens om 3:30. Dan ry sy elke weeks-oggend langer as 'n uur, meestal grondpad, vanaf Blouputs, om haar kinders betyds by die skool in Kakamas te besorg. Hierna begin haar dag as haarkapper, en bedien sy haar kliente met 'n glimlag. Liami is 'n ware staatmaker - sy is altyd betrokke en niks is vir haar te veel moeite nie - nie vir haar gesin of die gemeenskap nie.
Twee jaar gelede het die lewe met haar gebeur, soos dit maar soms doen. Een aand beland sy en haar kinders in 'n motorongeluk. Liami en haar oudste dogter doen redelike ernstige beserings op. Haar seuntjie is gelukkig - net lig beseer - maar sy verloor haar 4-jarige dogtertjie. Wie van ons kan verstaan? . . maar elke dag kry Liami die motivering om positief te bly.
Sy ry steeds elke dag by die plek waar die ongeluk gebeur het verby.
Liami, baie dankie vir die voorbeeld wat jy leef - jou deursettingsvermoe en
positiwiteit is 'n inspirasie vir almal om jou. Maar haar storie getuig ook van genade, want onlangs was daar vir haar 'n nuwe seuntjie gebore! Baie geluk, mag julle die kleinding baie geniet en mag hy vir julle baie vreugde bring.