Lee-Ann Solomon

Lee-Ann vertel self: As iets van my storie enige-een kan help, gebruik dit asseblief. Dit is nie veronderstel om ‘n "downer" te wees nie! Ek het op Potchefstroom my BA graad en ‘n Onderwys diploma gedoen - omdat ek ‘n onderwyseres WOU word. My pa was ‘n staatsamptenaar en my ma ‘n "tuisteskepper". Hulle kon nooit voorsiening maak vir my tersiêre opleiding nie. My arme ouers moes maar net die borgvorms teken wat ek huistoe gebring het, en die lenings sou ek uiteindelik self moes terugbetaal. Ek het vakansies in die dorpsbiblioteek gewerk vir sakgeld en boekegeld, maar ek is seker my ouers moes seker duisende rande op my uitgegee het.
Op universiteit ontmoet ek toe my sielsgenoot - iemand op wie ek volkome kon staatmaak. Hy studeer regte. Ons praat oor alles. In ons 3e jaar woon ons ‘n huweliksvoorbereidingskursus by. Ons trou. Ek is 21 weke swanger toe ons uitvind ons baba se hart klop nie meer nie. Sy (ons was nooit seker nie) het al op 12 weke ophou groei. ‘n Maand later lê ek in die Kallie de Haas Hospitaal voor die teater en wag, toe die ginekoloog uitkom en vir my sê om op te staan en weer ‘n ander dag in te kom - die narkotiseur het nie opgedaag nie! Ek kon dit nie glo nie!. Daardie hele tydjie is baie vaag, maar ek weet my man was wonderlik. Dog hou ek op musiek speel. Tussendeur voltooi ek my HOD. Ek vind werk terwyl my man sy LLB klaarmaak.

Aan die begin van 1992 kry ons albei werk in Richardsbaai / Empangeni. Geld knyp, want ons het albei studentelenings om terug te betaal. Toe ons ‘n wasmasjien, yskas en tuimeldroër het, besluit ons om ‘n baba te hê. Ons sou nou ‘n " volledige" gesin wees. Ek het ‘n paar vroeë miskrame gehad. Toe, eendag sien ons ‘n flikkering op die skerm. Die dokter doen elke 2/3 weke ‘n sonar. Ons sien ons baba groei! Tot op so 18 weke was ek redelik benoud. Ek kry pre-enklampsie en moet ‘n nood keiser hê. Die epiduraal laat my darem toe om Michael se geboorte te beleef. Sy pa is daar. Hy straal.

Later sukkel ek om doeke aan te sit, bottels oop te maak en te tik. Hulle diagnoseer Rumatoiede artrites. Die swangerskap en geboorte was blykbaar die sneller vir die toestand. Ons gaan sien ‘n rumatoloog in Durban. My ma-hulle kom van Johannesburg om na Michael te kyk. Hy is 6 maande oud. Ons ry nie die tolpad om nie, want dit is die dag vóór betaaldag, en ons is te trots om my ouers vir geld te vra. Op pad terug ry ‘n leerlingbestuurder reg voor ons in by ‘n verkeerslig in Stanger. Ons het nie meer ‘n kar nie. Ons het ook nie versekering nie. Stap en rygeleenthede is vir ‘n ruk ons voorland.Toe koop ons ‘n tweedehanse Opel. Sy enjin gee in. Ons leen geld vir ‘n nuwe enjin.

Ek kry ‘n uiteindelik ‘n onderwyspos in Maart 1996. Wat ‘n aanpassing! Intussen gee ek nog aandklasse vir die ekstra geldjie. My man raak al stiller. Hy lees méér. Hy kuier na werk saam met sy kollegas. Soms bel ek vriende, polisie, klubs, want dit is lank verby 10 uur en hy is nog nie terug van die werk af nie. Sal ek trek as hy werk kry in Maputo? Dan moet ek ophou werk. "Ja" sê ek. "Ek is jou vrou." Hy bly nog saans uit. Ek besluit om ‘n bestuurslisensie te kry en gaan vir lesse. Hy soek vir ons ‘n huis sê hy gaan kyk alleen, want hy wil my verras met die perfekte plek. Leuens! Hy't ‘n verhouding met ‘n eiendomsagent. Ek spoor haar man op en vra of ons ons huwelike kan red. Haar man sê di's haar 5e verhouding. Ek vra hulp by die dominee, ouderling, huweliksberader, my skoonpa - maar hy sê hy is nie lief vir my nie. Hy sê hy glo nie meer aan God nie. Ek sien haar man en kinders in die dorp. En my leerders vertel my hoe hulle saans in restaurante kuier. Die mense in ons woonstelblok sien hulle in ons woonstel ingaan as ek nie daar is nie.

My droom was aan skerwe! Om te skei was nooit deel van die prentjie nie. Ek voel verraai en verneder. My seuntjie is nog nie eers 2 toe ons uitmekaar is nie. Wat voel ‘n mens? ALLES - en tog niks. Ek besluit om al my energie in my seun se grootmaak te stort. Hierdie deel van die droom kon ek immers koester. ?rens het ek vrou-wees opsy geskuif vir ma-wees. Dit besef ek nou was ‘n fout. Maar tóé het dit sin gemaak.

Ek dring aan op die motor toe ons skei. My (x) man los sy werk. Hy wil nie meer verantwoordelikhede hê nie. Hulle probeer een nag my motor steel, maar slaag net daarin om al die ruite se rubbers uit te ruk en die voorruit te kraak. Ek lap maar, want ek het nie versekering nie. Die dag voor my seuntjie se 4e verjaarsdag ry ‘n man oor ‘n rooi verkeerslig in my vas. Dit is nie eers sy voertuig nie, sê hy. Genadiglik het geen van die kinders agterin die bakkie seergekry nie. Hy het nie versekering nie..Ek ook nie. Getuies gee hulle besonderhede. Ek kry die motor uit die kruising en aan die gang. My swaer-hulle kuier by my en hy vat my polisiestasie toe om die saak aan te gee. Daar kom ons agter die ander bestuurder het die verkeerde id nommer gegee. Ons ry na die adres wat hy gegee het, en die plek is leeg. Ek vind later uit dat hy werkloos is. Die verkoeler moet vervang word. Ek en my swaer "panelbeat" self. Die kar lyk maar erg!

By die onderhoudshof moet ek baie duisende rande in agterstallige onderhoud "afskryf" omdat my kind se panie genoeg kan bydra nie. Hy't ‘n prokureur wat hom verteenwoordig.

Intussen leer ek my kar se nukke en grille ken: Die verkoeler leer ek self regmaak. Ek leer van ‘n alternater en distributor cap. My pa leer my oor die telefoon van tyd stel en vonkproppe en bogey-cords. "As die kar só maak is dit die CV joints wat vervang moet word". ‘n Kollega is in die kar toe die waaier uitbrand. Sy was nie so kalm soos ek nie! ‘n Vriendin wil die waterkan bring toe die petrolpyp op haar sypaadjie bars. "Nee," sê ek,"gryp sand!" Haar buurman het ‘n motorboot en hy kan vir my ‘n stuk pyp gee om als reg te maak. Die kar roes waar hulle haar gekrap het toe hulle haar probeer steel het. Erg. Die reën begin in lek. "Duct tape" seël die agterruit reg rondom. Die uitlaatstelsel is op. Spot ek toe: "Ek sal nooit iemand raakry nie. Almal klim op die sypaadjie as hulle my hoor aankom!"

So baie goed wat foutgaan, het my geleer om geduldig te wees. Genoeg raak toe net genoeg! Ek moes vir my en my kind se veiligheid ‘n nuwe motor kry. Jy weet mos hoeveel kry ‘n onderwyser? My swaer koop ‘n oulike wit Golf. Ek kon hom dan in klein paaiemente terug betaal. Wat ‘n plesier is die kar nie! Die nagaan van water, olie en banddruk is al waarvoor ek hoef te sorg! Ek gaan vir die Julie-vakansie na my ma-hulle in Johannesburg. Daar sê my swaer hy het die Golf teen ‘n wins verkoop, want hy het finansieële probleme. Ek kon kies of ek die geld wou hê wat ek op die motor afbetaal het, of ‘n ander motor. Ek moes 3 dae later terug wees by die skool! Dit is hoe ek die 1983 Honda gekry het.

Junie 2005 kuier ek weer by my ouers tydens die skoolvakansie. Op pad stop ek in Ermelo. My kar oorverhit. Dit is 10uur op ‘n Saterdag middag en ek sukkel om ‘n Auto-elektrissieën in die hande te kry. Uitendelik spoor ek ‘n werkswinkel op wat kan help. Die man maak reg wat loskom en skeef is. Hy laat kom ook ‘n waaierband wat begin breek. 4 ure later val ek weer in die pad Johannesburg toe. Tuis laat ek die ‘n motorwerktuigkundige by ‘n garage na die enjin kyk, want die kar raak nog warm. Hulle maak weer reg. O ja, die waaierband was die verkeerde grootte en hulle het dit nie om die waterpomp laat gaan nie! ‘n Paar rand ligter ry ek terug Richardsbaai toe.

Op pad terug, gaan staan die motor weer naby Ermelo. Die motor oorverhit weer. Baie motors en vragmotors ry verby. Uiteindelik besluit ek om sommer die koord van my nuwe krultang te gebruik om die waaier direk te koppel dat hy nie afskakel nie, en die enjin heel tyd koud waai. My pa gee raad oor die selfoon. Petrus en sy vrou stop met hulle ou skedonkie om te help. Hy maak klaar daar waar ek begin het. Indien jy gewonder het, Petrus is ‘n swart man met ‘n breë glimlag. Ek stop waar ek kan om die water na te gaan en seker te maak dat die enjin koel bly. Dit raak skemer wanneer ek Matubatuba binne ry. Dit is onveilig om te stop. Ek bel my pa en sê ek ry aan. Die enjin hou tot in Kwambonambi. Ek bel rond terwyl ek ‘n flits agter die kar swaai om ander motors te waarsku. Die pad het bykans geen skouer nie. My kind is angsbevange iemand ry in ons vas. Ek gee ook vir hom ‘n flitslig sodat hy voel hy doen iets om te help. Die selfoonmaatskappy sê intussen hulle kan help - indien ek ‘n kredietkaart het. ‘n Vriendin kry ‘n bekostigbare insleepdiens in die hande. Sy kom ook saam om ons bagasie op te laai.


Die motor se enjin is poegaai. Plaaslik kon niemand ‘n enjin kry wat pas nie, en my ouers besluit om die motor Johannesburg toe te sleep. Daar sou ons ‘n beter kans staan. Desember maand kon ek my motor gaan haal. My laaste paaiement op die enjin is Januarie. Daar ek nuwe bande opsit en laat versien die uitlaatstelsel en remme. Intussen lê my Granny al 8 weke in die waakeenheid van ‘n hospitaal. Die dag na my Granny se roudiens ry ons terug Richardsbaai toe.

Ek besef wat ek al lankal weet: Ek het myself verloor. In die aande voor haar dood moes ek myself konfronteer. Ek het bestaan. Ek het deur my seun gelewe. Ek het ‘n "victom" geword. Bekommer oor "goeters" het my getap. My man was nie meer my man nie. Al het ek ewig trou beloof. Die onderwysdepartement kon my oortollig verklaar. My kind is pragtig - en selfstandig genoeg om nie op my staat te maak vir alles nie. Hoe moet ek nou "ma" wees? My ma is stukkend. Ek kan nie help nie. Dit was geen geheim dat ek my Granny se oogappel was nie, nou moes ek haar laat gaan.

Ek sou terugkom Richardsbaai toe en myself "herontdek" en "nuut" word. Ek vertel my twee beste vriendinne - net ingeval ek vergeet.

My ouers besluit díe keer ry hulle agter my aan. Net ingeval. My ma en pa moes ook ‘n bietjie wegkom van die huis. Tussen Bethal en Ermelo ry ‘n vragmotorbestuurder van voor in my vas. Ek kan feitlik niks onthou van die ongeluk nie. Ek vra my seun of hy oukei is. Ek hoor sy stem. Ek hoor my pa my naam sê. Ek sê dat ek "fine" is. Is my ma oukei? Ek onthou die stilte en toe die wind wat liggies op my gesig waai. Ek was oukei. God was daar.

Later sou ek uitvind dat die vragmotor ook in my ouers se kar vasgery het. My ma was vasgekeer, maar heel tyd by haar volle positiewe. My pa het tussen die karre rondgeloop ten spyte van diep snye aan alby sy knieë en kop. Hy het later daar inmekaargesak. My ma probeer steeds sin maak van alles. Hoe verloor ‘n mens jou ma én sien jou dogter en kleinseun verongeluk in een week, sonder dat jy vou? My pa kan bykans nie meer sien nie -Sy retinas het tydens die ongeluk geskeur.

Altwee my femurs is gebreek, een is heeltemal versplinter en in die heup gebreek. My regter knie, tibula en fibia is ook erg gebreek. My regter arm was verlam a.g.v die veiligheidsgordel was ‘n senuwee beskadig het. (Dank die Vader vir die veiligheidsgordel! Ek lewe!) Die eerste drie dae was maar "touch-and-go". Tussen die operasies deur het ek na my kind gevra. Sy pa wou hom vat wanneer hy ontslaan word. Dít wat ek soms meer as enige-iets gevrees het, was besig om te gebeur! In die waakeenheid het daar skielik ‘n totale kalmte oor my gekom. Ek het my kop na regs gedraai en drie mense langs my bed gesien. Lig het van agter hulle gekom. Hulle het lang hare of kopdoeke aangehad en hulle het gefluister. Ek kon nie hoor wat hulle sê nie. Engele! By my?! Ek het totale vrede ondervind. Ek het soms die hitte van hande gevoel wat op my bene gelê is. Niemand was daar nie. Een nag het ek "gedroom". Die verpleegsters moes die boodskappe neerskryf wanneer ek kort-kort wakker word. Dit was vir my niks anders as openbarings van God nie. Ek het nooit "verhewe" gevoel nie, maar nou het ek geweet daar is nog ‘n plan vir my lewe.

So tien dae later is ek na ‘n gewone saal oorgeplaas. Ek was weer redelik benoud om "alleen" te wees. ‘n Vriendin in Richardsbaai het ‘n dagboek gestuur. Ek maak oop op die datum. Die opskrif is "Jy is nooit alleen nie". Ek blaai terug na die datum van die ongeluk. Die opskrif lui: "'n Nuwe vrou op pad na God." Toe ek die eerste keer regop gehelp is (en sumier flou geword het), lees ek God dra my op Arendsvlerke. Toe hulle my (bed en al) in die son stoot, hop daar ‘n voëltjie met net een been rond. As God vir die voëljie sorg, gaan is ek mos ook oukei wees. Die windjie dra Sy stem. Ek is nie alleen nie.

Die Here het my op ‘n nuwe pad geplaas. SO duidelik hoor ek:"Not on your terms, but on My terms." Ek wou eers self.

Ek het Sy hand begin sien in alles. Ek kon binne hierdie vreemde wêreld uiteindelik leer om vir myself op te staan, ek kon vir ander praat, en ek kon leer om NEE te sê! Ek moes leer om meer van God afhanklik te wees om onafhanklik te word. Ek moes leer omrol, rolstoel ry en vasvat by ‘n reabilitasie sentrum. Later eers kon ek weer leer loop .*Hoekom moes ek rumatiek kry op 25? - Sodat ek geduld sou hê met my liggaam. *Ek was weer ‘n kind in my ouers se huis - Sodat ek besef ek kan nie alles "self" doen nie. *Michael se pa het hom na die ongeluk leer ken as mens! Hy bel nou en hulle kuier soms. Hierdie verhouding is so bitter nodig: My tienerseun het ‘n pa!

My liggaam moes stil wees sodat my hart en verstand kon maats maak. Ek is besig om nuut te word. Ek is ‘n nuwe vrou op pad na God!

Elke dag bring steeds nuwe uitdagings. Elke dag is daar ook die geleentheid tot nuwe insig. Ek was nog nie een dag bitter oor die ongeluk nie. God se genade het gemaak dat ek die bestuurder dadelik kon vergewe! Iewers op die tv het ek iets gehoor wat bly vassteek het: "I am a woman who was injured. I am NOT an injured woman."

Daar is ‘n klompie ongelooflikke vroue om my. Sumarie (my ou koshuisvriendin) het vir my kom kuier in die hospitaal in Pretoria. So-ook my kollega, Nelda wie ook my rekenaar vir my aangery het. My vriendin, Anita, het met die plaaslike winkelsentrum geskakel toe sy besef hoe min plekke toeganklik is vir mense in rolstoele. My vriendinne skuuf my woonstel só dat ek nie hoef trappe te klim nie. Shirley ry my en Michael meeste van die tyd skool toe en terug. Ek en my ouers praat lank en baie oor die telefoon. Toe ek op my rug lê na nog ‘n operasie, sorg Judy dat ek elke dag ‘n bord kos het om te eet. Rina kyk verniet na my hondjie. Bettina kuier en verskaf ‘logika' wanneer ek nie weet nie. My vriendinne maak my kind se kamer spesiaal wanneer ons na 8 maande by die huis kom. Grace, my huishulp het getrou, twee keer ‘n week, die woonstel bietjie oopgemaak en afgestof. Marié luister terwyl sy my lyf fisio. Gerda en haar vriendinne nooi my om by die kerk te kom praat. Die ouma langsaan bid. My kollegas by die skool is verdraagsaam. Nog baie meer vroue het ongelooflik baie gedoen, maar ek dink nie hier's eers genoeg spasie om almal op te noem nie! Elkeen is uniek. Elkeen is vir my so kosbaar.

Lee-Ann jy bly vir my ‘n ongelooflike inspirasie en dankie dat jy jouself met ons kon deel.
Jy sal eendag terugkyk en verstom staan oor wat die Here in jou lewe gedoen het.