Juané & Hannele Vorster

As 'n mens in die mooie ou Kaap aanland doen dit iets aan jou gemoed. Die oggend van die 20ste Mei was so 'n helder mooi oggend wat gevoel het of dit somer is. Die skool waar ek die oggend by die vroue sou kuier, is in Wynberg, naby Kirstenbosch - Simon van der Stel Laerskool. En dis hier waar ek weereens twee fenominale vroue ontmoet - die een dametjie 11 jaar - en die ander een, haar ma, met haar gevoelvolle blou oë. Hulle storie het my net laat besef watter uithouvermoë en deursetttingsvermoë daar in vroue lê. Hier is hulle verhaal: Juané is gebore in 1997 met 4 hartdefekte en sonder 'n hoofslagaar na die regterlong.

 Op 4 maande is twee van die hartdefekte herstel en toe sy een jaar oud is het sy 'n opehart-operasie ontvang en die hoofslagare is met mekaar verbind deur 'n aartjie wat uit haar arm geneem en oorgeplant is. Vir die eerste keer het albei haar longe gewerk.!! Twee weke na die operasie moes hulle 3 bloedklonte in die oorgeplante aartjie verwyder na 'n tien ure operasie.
Met die operasie het haar diafragma seergekry en sy kon nie vanself asemhaal nie. Sy is weer terug teater toe en eers na 10 dae is sy ontslaan. Kan 'n klein liggaampie soveel verduur?

Toe sy twee jaar oud is - is sy vir 'n hart-omleiding om die "shunt" in te sit tussen die hart en die regterlong. Vir die eerste keer het sy toe suurstofryke bloed wat deur haar liggaampie vloei. As gevolg van die sterk narkose het sy haar geheue verloor en die toestand sou vir 'n jaar so bly - maar met al die gebede wat opgegaan het, het sy haar geheue na twee dae herwin tot die dokters se verbasing - en kon sy met haar ouers kommunikeer.

Juane het 8 hart cat scans ondergaan en omdat haar bloed te dik is moet sy bloedplasma kry - en sy het die volwasse besluit op haar eie geneem dat sy nie weer die proses gaan deurgaan nie omdat dit haar te veel uitput.

Drie jaar gelede toe hulle die shunt wou vervang is gevind dat haar regterlong nie meer funksioneer nie en dat die aartjie wat die linkerlong verbind, 'n vernouing het, en die risiko is te groot om dit reg te stel.

Wat Juané so besonders maak is dat sy nog altyd in haar skoolwerk presteer het ten spyte van haar moeilike omstandighede. Sy is in standerd 5. Hannele is 24 uur beskikbaar om Juané tuisonderrig te gee en haar met positiewe energie by te staan en te bemoedig en te ondersteun.

Die finansiele druk is groot en Juané se pa werk lang ure. Hannele is maar alleen in die verantwoordelikheid en die druk op haar is groot - maar sy kla nooit!
Haar geloof is onwrikbaar en sy glo dat daar 'n doel is met alles en dat sy en Juane elke dag moet sien as 'n dag vol genade wat hulle saam gegun is....
Wat 'n les vir my om daaruit te leer ......


Ek gee erkenning aan twee vroue met dapper harte.