Johanna van Daalen

Hierdie klein vroutjie met soveel durf en selfvertroue het die aand ons funksie op Orkney geopen.

Sy het nie geweet dat ek vir haar erkenning gaan gee vir die besondere voorbeeld wat sy leef nie en sy het dit net so stil en sag en sonder fanfare ontvang - en sy het my belowe dat sy haar storie vir my sal stuur......

Ek deel dit met julle uit haar eie mond. Julle sal hoor hoe 'n besondere vrou sy is. . .

Ek is op 9 November 1957 in Port Eilzabeth gebore en het die voorreg gehad om ‘n baie bestendige en gelukkige kinderlewe te hê.

Na voltooiing van my skoolloopbaan is ek na die Universiteit van Stellenbosch waar ek my as onderwyseres bekwaam het. In 1979 is ek met Patric getroud. Ek het begin skoolhou en hy het nog studeer.

In 1984 word Patric as predikant na die NG Kerk Noordvaal in Orkney beroep. Ons moet die bekende Kaap en al ons vriende en familie daar agterlaat en vestig ons in Orkney.

Ek is gelukkig genoeg om baie gereeld in tydelike onderwysposte aangestel te word. Teen 1987 is daar nog geen uitbreiding van ons gesin nie. Ons begin die pad van mediese ondersoeke en toetse net om in Julie 1988 te hoor dat ons nooit kinders van ons eie sal kan hê nie. Ons is nogal op pad om saam met vriende ‘n paar dae op ‘n plaas te gaan uitspan! Intussen is ek ook ywerig besig om ‘n babatruitjie te brei. Elke steek wat ek brei, gil in uitroeptekens vir my dat ek tog nooit vir my eie kind ‘n truitjie sal kan brei nie.

Weer eens moes ek tot die besef kom dat ons lewens nie in ons eie hande is nie. Moet God nooit onderskat nie. November 1988 doen ons aansoek om ‘n baba aan te neem. Nogmaals vorms en toetse. Stories dat maatskaplike werkers in jou kaste kom rondsnuffel. Vrese dat ons dalk nie gekeur gaan word nie. Dan die goeie nuus - ONS IS GEKEUR, MAAR ons moet ons gereedmaak om dalk drie jaar te wag. Daar is selfs die moontlikheid dat ons glad nie ‘n kindjie sal kry nie, want babas vir aanneming is skaars en die passing van babas en aanneemouers is baie streng.

Maart 1989 besluit ons om bietjie vakansie te gaan hou. Ons bel die maatskaplike werker, maar sy verseker ons dat ons gerus kan weggaan. Hulle neem in elk geval kontaknommers vir ingeval. (Dit was die dae voor selfone).

Ek en Patric bespreek vir ons ‘n heerlike vakansieplan. Ons vlieg Kaap toe, daarvandaan Windhoek toe waar ons ook ‘n motor sou huur en dan terug Johan-nesburg toe. Nodeloos om te sê - ons het nooit verder as die Kaap gekom nie. DIE OPROEP het gekom - ONS BABA wag vir ons in Potchefstroom!

Ja, toe ons die nuus van onvrugbaarheid moes aanhoor in 1988 het ons Vader REEDS vir ons voorsiening gemaak. Ons meisiekind is vroeg gebore en toe ons haar kry (5 wekies oud) het sy maar 2,1 kg geweeg.

Skielik het ons lewe verander en ons het ook ‘n normale bedrywige gesin ge-word. In 1990 kry ek ‘n permanente onderwyspos.

Janita het baie vreugde in ons lewens gebring. Sy was in die Laer- en Hoërskool as hoofdogter verkies en studeer tans Farmasie aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom.

In 2008 word my lewe weer ‘n slag tot stilstand geroep. In Oktober is ek gediag-noseer met skildklierkanker. Baie gedagtes flits deur ‘n mens se brein, maar ge-lukkig kan ek al hierdie gedagtes en vrese met my hemelse Vader deel. Ps 18:30: "Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stads-muur vir my te hoog nie."; en Jes 40:31: "Maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle loop en word nie afgemat nie", bly in hierdie dae my anker en my bron van hoop.

My ma kom van die Kaap af om my huishouding te kom oorneem tydens my ope-rasie. Sy en my gesin ondersteun my wonderlik. Ek leer ons gemeente op ‘n ander manier ken - ‘n gemeente wat werklik omgee. Ek voel eintlik skuldig omdat ek so gepamperlang word. - ek is immers nie gewoond daaraan om niks te doen nie.

My behandeling begin en ek word gewaarsku oor die simptome en die groot moegheid wat voorlê. As jy egter nog nie self daardeur is nie, weet jy nie regtig wat dit is nie. Desember was ons Kaap toe en weer eens het my gesin en groter familie my wonderlik ondersteun. Ma wou selfs saam terugkom vir die tyd wat ek my radio-aktiewe jodium-bahdeling moes kry, maar om een of ander rede het ek teengeskop. Sy het mos reeds genoeg gedoen.

Die oggend toe ons by haar woonstel wegry, het sy so eensaam by die hek ge-staan. Min het ek geweet dat dit die laaste keer is wat ek haar by daardie hek sou groet. Drie weke later het sy in die hospitaal beland. Vir die volgende sestien weke was sy in en uit die intensiewe sorgeenheid, ‘n uiters senutergende tyd vir ons. Ons moes verskeie kere die lang pad Kaap toe aangepak.

Einde Maart het daar nog ‘n berg voorgelê. Ons moes ma se woonstel gaan ontruim! Met elke ding wat jy wegpak of wegmaak, worstel jy met die vraag: doen ons die regte ding? Soms wonder ons of sy hoegenaamd uit die hospitaal gaan kom. Was ons nie te optimisties om vir haar ‘n plek in die versorgingsoord te kry nie?

Weer eens het ek besef: "Met God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie" en "Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag....".

Die laaste naweek van Mei kon ek vir my ma by die versorgingsoord gaan kuier. Sy het weer leer loop met haar loopraam, en ja, sy brei al weer serpe en bedsokkies. Sy skryf al weer vir ons briewe.

Baie dankie aan elkeen van my kollegas wat my benoem het vir hierdie besonderse toekenning. Ek vertrou dat ons nog ‘n aangename pad met mekaar sal kan saamstap.

Beste wense ook aan elke vrou wat hierdie verhaal lees. Soos ek ook vir Sonja gesê het; ek dink elke vrou het ‘n storie en elke vrou verdien ‘n toekenning in hierdie lewe.

Liefde.
Johanna.