Idonia Gouws

Op skool het sy op sportgebied uitgeblink en na skool het sy by die Nasionale Intelligensiediens aangesluit. Sy het regoor die wêreld gewerk. Sy het getrou en was dolgelukkig, maar skaars 'n jaar later het haar man tragies dood verongeluk. 'n Tweede huwelik het gevolg en haar grootste begeerte was om 'n kind te hê. Die mooiste dogtertjie was twee jaar later uit die huwelik gebore, maar met dodelike genetiese komplikasies onder lede. Vir drie jaar het sy en haar man die kindjie met groot liefde versorg, maar sy was meer in die hospitaal as tuis. Na haar kind se dood het sy die leemte in haar lewe gevul met diens aan ander. Sy help kinders wat sukkel om te leer met 'n oudiobloks-kursus en het twee van haar vriendinne met terminale kanker begelei en ondersteun tot met hul afsterwe. Ag, daar is te veel om op te noem. Sy raak almal se lewens aan met wie sy in aanraking kom en sy vul hul harte met hoop. Sy is lief vir die lewe en vir mense en jy lees dit in haar gevoelvolle oë. Wat 'n sterk, kreatiewe mens is jy, Idonia - jy bly 'n volwaardige uitblinker!