Hierdie besondere dame het my so beïndruk toe ek haar ontmoet het want toe ek in haar vriendelike blou oë kyk - sien ek iemand wat weet wat seer en vernedering beteken. En wat ek vir Hester kan sê is "only scared lives can heal". Sy is 'n mooi vrou en sy het geleer wat empatie is en wat dit beteken om te vergewe. Sy sal nooit weet hoekom die trauma oor haar pad gekom het nie, maar sy het dit "gevat" en gebruik dit nou om ander wat ook trauma moet verwerk te help.
Sy is besig om haar M-graad in praktiese teologie te voltooi. "Niks wat ek doen of sê sal ooit weer die tyd kan terugkoop nie, al is onderwys my passie - sal ek nooit weer skoolhou nie, omdat ek myself nooit weer so wil blootstel nie.... ek is te bang". Haar storie begin op 20 Mei 2003 toe die hoof haar inroep na sy kantoor en die Kinderbeskermingseenheid se paneel haar inlig dat 'n leerder 'n klag van onsedelike aanranding teen haar ingedien het. Sy het eers gedink dis 'n grap maar toe die eenheid die leerder se naam noem het sy op haar klaslys gaan kyk en wel gesien dat die kind op haar klaslys was, maar sy kon nie die kind plaas nie, en was eintlik onder die indruk dat die kind die skool verlaat het omdat sy nie 'n enkele punt vir die leerder op lêer gehad het nie.
Dieselfde dag is sy gearresteer. Haar gesin, familie, en vriende het haar verseker dat die nagmerrie gou sal verbywees. Haar prokureur het haar verseker dat sy 'n baie sterk saak het en 'n geloofwaardige alibi en boonop het die seun wat haar aangekla het se beste vriend getuig dat die seun se pa 'n groot versameling pornografiese video's in sy klerekas het. Dit het haar laat besef dat die seun se weergawe van die verklaring op die klag teen haar, soos die draaiboek van 'n pornografiese video was.
Maar ondanks alles wat in haar guns getel het, is sy skuldig bevind op die aanklag van onsedelike aanranding. Sy is onmiddellik uit haar pos geskors, het drie jaar korrektiewe toesig gekry en moes 16 uur gemeenskapsdiens doen. Sy moes ook gaan vir sielkundige hulp waarvoor sy self moes betaal. Sy moes waak teen bitterheid, as mense haar op straat aangegluur het. Depressie het baie keer die oorhand gekry en is verskeie kere gehospitaliseer. Sy het 15 kg verloor en nagte deur gehuil.
Sy en haar gesin het geappelleer en die nagmerrie van 4 jaar 6 maande en 15 dae is beeindig toe sy op 5 Desember 2007 die nuus kry dat haar appel geslaag het.
Baie mense wou toe by haar weet hoe sy oor die seun voel. Hoe voel jy oor iemand wat jou lewe verwoes het en veroorsaak het dat haar pa ‘n beroerte gekry het van die skok oor sy dogter se leed. Sy moes die kind vergewe en vryspreek sodat sy kon vrykom van die haat en onvergenoegdheid.
Sy kry hom nogsteeds intens jammer omdat hy dalk die produk van sy omstandighede was en waarskynlik in ‘n desperate oomblik ‘n leun versin het om die aandag van hom af te kry, sonder om aan die gevolge te dink. En sy glo dat dit ‘n hulpkreet was.
Hulle het toe besluit om nie regstappe teen die kind en sy ouers te neem nie, aangesien almal weet dat sy onskuldig is en dat dit net weer aansienlik kostes sou wees.
So kom trauma daagliks in verskillende gedaantes oor mense se lewenspad. Mens verstaan dit dalk nie nou nie maar dit maak van jou ‘n mens met empatie en deernis en dit maak van jou ‘n sterk mens wat kan opstaan en die wereld in die oe kyk en kan aangaan.
Sy weet dat haar man en dogters bankvas agter haar gestaan het en haar deurgedra het.
Hester jy is ‘n ystervrou en ‘n rolmodel maar ‘n mens-mens. Dankie dat jy jou storie met ons deel.