Helene Broodryk

Foto van Helene Broodryk, Dezzi & Sonja Herholdt

Helene Broodryk en haar gidshond Dezzi

Tydens Helene se geboorte was daar komplikasies wat haar oogsenuwees sowel as haar oogspiere beskadig het. Haar ma het gesterf tydens die geboorteproses. Tien jaar gelede het Helene blind geword en het tans slegs 10% sig in albei haar oë. Helene is 'n onderwyseres van beroep, maar moes in 1992 ophou skoolgee weens haar verswakte sig. Sy woon tans in 'n gemeenskapskompleks en hanteer die lewe redelik onafhanklik met die hulp van haar gidshond Dezzi, wat sy as haar kind beskou. Helene neem vir Dezzi twee maal per dag om te gaan stap, want Dezzi is mal oor koffiewinkels en sukkel om verby hulle te stap.

Helene hou haarself besig met verskeie aktiwiteite omdat sy graag intelektueel aktief wil bly. Sy kook ook gereëld en deel uit aan nuwe intrekkers en vriende wie vanwee gesondheidsredes of 'n besige program dit nie kan doen nie.
Verder brei Helene ook vierkantjies wat in kombersies of sagte speelgoed gebruik word en dan gee sy ook leiding en berading aan mense wat nuut is in die wêreld van siggestremtheid.

Sy is baie lief vir boeke en moet regkom met boeke en die Bybel op band, maar dan het sy ook 'n saamleesgroep in haar meenthuis-kompleks gestig.

Die mense lees vir haar en sy luister en bemoedig in die gesprekke wat daarop volg. Helene is ook 'n getroue voorbidder vir ander mense met nood.

Helene is vir my 'n voorbeeld van iemand wat nie gaan lê het nie, al is haar omstandighede ook hoe moeilik. Net die anderdag het 'n onsensitiewe winkeleienaar vir haar en Dezzi uit sy winkel uitgejaag toe sy noodsaaklike inkopies moes doen. Met sulke ongevoellige mense moet sy deel, maar sy bly altyd positief en verstaan - seker omdat sy hemelse perspektief gekry het, omdat sy met ander oë kan kyk en verstaan.

Helene, mag die Here lig uitstrooi op jou pad vorentoe - jy is vir my 'n inspirasie.