Gerda Human

Gerda is 'n baie kosbare vrou. EK het haar gevra of sy nie asb self haar verhaal wil skryf nie. Hier volg haar inspirasie-storie:


Min het ek geweet dat my vreugdevolle dag 29 Junie 1963 - toe ek voor die kansel gestaan het met Dirkie, nie altyd maanskyn en rose sal wees nie ..... My lewe saam met hom sal ek net so wou oor hê - net sonder al die hartseer en trane. Ons was geseën met sewe seuns en Magdaleen - my laaste enetjie, ‘n dogtertjie!

25 Februarie 1984: Dit was atletiek by die skool en my seun Hendrik - 13 jaar oud. Dit was ongetwyfeld die warmste dag in Upington en min het ek en my man geweet was op ons wag. Na atletiek is ons plaas toe. Sondagoggend het Hendrik sleepvoet geloop. Ek wou weet wat fout is maar hy wou niks sê nie.

Die namiddag het ons bietjie gaan lê en toe ek hom heelwat later roep om op te staan het hy net gehuil. Ek het hom opgetel en hy kon nie op sy bene staan nie. Ons is dadelik hospitaal toe. Na 2 dae het hy baie agteruitgegaan en is ons met die Rooikruis vliegtuig na Tygerberg Hospitaal.

Hy is eerste vir polio getoets maar dit was negatief. Ek het ses maande voor sy bed gebly met die een dokter na die ander wat probeer vasstel het wat hy makeer. Sy hele liggaam was aangetas behalwe sy longe en brein. Dr. Wessels van Kakamas het baie navorsing oorsee gedoen en het hom as pasiënt oorgeneem. Hy kon vasstel dit is ‘n baie seldsame siekte wat deur ‘n virus veroorsaak word.

Hendrik het wel teruggegaan skool toe met ‘n rolstoel. Hy het weer begin loop en kon weer terugkeer na normaal, behalwe dat die siekte nooit genees kan word nie en hy al hoe meer agteruitgaan hoe ouer hy word.

Hy lewe elke dag in pyn en sy rug trek al hoe krommer.

Hy het matrikuleer - en is later getroud met ‘n wonderlike ondersteunende vrou en ‘n pragtige bruin-oog seuntjie. Ek het baie dae vir die Here gevra hoekom Hendrik wat nog so jonk is so swaar moet kry en Hy nie liewer die pyn na my kan oordra nie....

My eerste seuntjie het ek verloor op 28 April 1968. Hy het net ‘n paar uur gelewe. Hy was so pragtig en gesond en ek verstaan nou nog nie hoekom ek hom moes verloor nie......

My suster, Lena 56 jaar oud, sterf op 28 Desember 1990. Sy het vir 17 jaar geveg teen borskanker en toe die stryd verloor.

My 2de seun sterf op 13 Julie 1987. Hy was die oudste en ‘n seun wat altyd net liefde wou ontvang en uitdeel.

Hy was maar 23 jaar oud toe hy deur ‘n motorongeluk uit ons lewens geruk is. Op hierdie stadium het ek al gedink - ek kan net sover.

My jongste seun, Strijdom, was altyd ‘n platjie en het almal aangesteek met sy lag. Sy donkerbruin oë het altyd saamgelag. Hy was maar 17 jaar toe hy in ‘n fratsongeluk oorlede is op 21 Junie 1995.

Hier wou ek nie meer verder aangaan nie. Die waaroms en hoekoms was te groot en ek en my gesin was verpletter. My man kon dit glad nie verwerk nie, want hy was by hom tydens die ongeluk. Ek was opstandig, kwaad en verbitterd.

Die vrae van so baie hoekoms bly onbeantwoord. Jy probeer verstaan maar jy kan nie!

My man, Dirkie, my steunpilaar is oorlede op 4 Februarie 1996.

Ek is alleen en niemand weet hoe lank is die pad vorentoe nie.

Op 3 Januarie 1997 verloor ek my geliefde broer, Nico Heyns, wat skielik dood is aan ‘n hartaanval. Hy het altyd ‘n bemoedigende woordjie gehad wanneer dit sleg gaan.

Die aand van 4 Oktober 1997 toe Ds. Viviers aan my voordeur klop, was my woorde aan hom: " Hoeveel keer nog, Ds? Ek kan nie meer nie!" Toe is dit my jongste broer - Gerhard Heyns - my beste maat - wat in ‘n motorongeluk dood is.

Hy het vir my so baie beteken en was altyd ons "lekker kuiers in die Kaap". Nou is sy stem stil.

Dis hier waar ek net besef het dat ek nie kan stilsit nie - want dan is my gedagtes te vol herinneringe....

Ek het begin klein koekies bak vir kettingwinkels. Ek moes toe ‘n groot rugoperasie ondergaan nadat ek geval het.

Ek het 3 jaar uitgehou met die pyn maar moes die operasie laat doen aangesien al die staan van die koekiebak sy tol ge-eis het.

Dit was ‘n groot sukses van die eerste dag af. Ek bak nou nog steeds beskuit vir kettingwinkels.

Dit gaan baie goed met my gesondheid. Ek vra so baie die vraag: Here hoekom is U so goed vir my? Wat sal u bedoeling wees?

Maar dan begin jy weer lag so tussendeur - maar die seer lê nog binne. Die ondersteuning van die gemeenskap van Upington beteken vir my so baie. Elke telefoonoproep vir bemoediging, ‘n mooi boek of versie, ‘n drukkie en ‘n laggie hou my aan die gang.

My 4 pragtige seuns met my skoondogters, 7 kleinkinders en my enigste dogter, Magdaleen, maak vir my die lewe die moeite werd.

Maar ná alles bly die groot hartseer daar as jy alleen is veral soggens as jy wakker word en vanaand as jy kamer toe gaan. Dan is daar net een persoon om mee te praat: Dis onse Liewe Vader.

Gerda Human

UPINGTON

Liewe Gerda. Baie dankie vir die voorbeeld wat jy leef, jy is vir my 'n inspirasie!