Freda Meiring

Hierdie baie besondere vrou van Kimberley trap diep spore in die gemeenskap en haar naam sal nie sommer vergeet word nie omdat sy 'n omgeemens is. Sy het twee dogters en is getroud. Sy het agt jaar skoolgehou en elf jaar by die Jannie Roux kinderhuis gewerk waarvan die laaste agt jaar sy senior huismoeder was. Toe Freda in 1988 by Christina Kiddie Kinderhuis begin het, was dit haar droom on die "weeshuis" te verander in 'n kinderhuis waarop die kinders kon trots wees - en sy het dit reggekry - nie sonder bitter harde werk en deursettingsvermoë nie.
Sy het begin deur fondse te kry om die kinders te laat goed voel oor hulself - deur om vir hulle te help om beter aan te trek, hulle kamers mooi te maak en so in hulle lewens in te bou. Vir die eerste keer kon die 28 kinders sê dat hulle hulle eie klere, hulle eie beddegoed, en hulle eie skryfbehoeftes kon hê om mee skool toe te gaan.

Sy het al die skole en onderwysers besoek by wie die betrokke kinders was en elke kind se vordering en behoeftes bespreek en die onderwysers en die kinders se vriende genooi om by die tehuis te kom kuier. So het haar kinders betrokke geraak by die gemeenskap en die aktiwiteite, en is vandag nog steeds betrokke, al het hulle die kinderhuis verlaat.
Vir twee van haar kinders het sy gehelp om verder te studeer deur hulp te kry, en hulle te ondersteun totdat hulle begin werk het. Die kinders wat die tehuis verlaat hou nog kontak met haar en sy help hulle met hulle probleme. Sommige bring hulle families om vir haar te kom kuier by hulle "huis" - en sy word soms - "Christina Kiddie" genoem omdat sy met haar 26 jaar se sosiale en maatskaplike ondervinding 'n verskil maak in die lewens van die minderbevoorregte kinders. Sy doen dit met soveel liefde en empatie asof dit haar eie kinders is en elke kind ontwikkel tot sy volle potensiaal omdat hulle geborge voel in haar sekuriteit en liefde wat sy aan elkeen bied.

Christina Kiddie kinderhuis is 'n model-kinderhuis waar verantwoordelikheid en dissipline geleer en toegepas word sodat die kinders verantwoordelike volwassenes met 'n goeie selfbeeld die lewe sal kan hanteer.

Haar ander doel met die kinderhuis is om dit self-onderhoudend te kry sodat daar minder hoef gesteun te word op fondsinsamelings.

Sy het altyd die kinders geleer om nooit minderwaardig te voel omdat hulle in 'n kinderhuis grootgeword het nie en om altyd trots te wees, te alle tye, op hulself - want hulle verdien die beste wat die lewe kan bied!!

Freda is 'n vrou met buitengewone kwaliteite waarvan haar liefde en loyaliteit en inspirasie boekdele skryf.
In 2006 is sy met maagkanker gediagnoseer maar sy het gebid saam met haar mense en die Here vertrou en toe die dokters wou opereer was die kanker weg - net die merk het daar gesit.

Al is sy nog steeds nie heeltemal gesond nie, keer dit haar nie om haar beste te gee nie. Sy dien op twee skole se beheerliggame om 'n prominente verskil te maak in die lewens van kinders.

Hierdie "Christina Kiddie" is 'n sterk vrou wat inspireer en 'n rolmodel en iemand om mee rekening te hou omdat sy net soveel leiding en omgee en liefde uitstraal en soveel kinders se lewens raak omdat sy in hierdie wêreld is - en ook weet hoekom sy hier is......